‘Brannewynlippe’-sanger getroud

Wikus Botma vra ja-woord in Maart. Hy en Michaela Mallett is intussen getroud. (Foto: Select Musiek)

Die Afrikaanse sanger Wikus Botma en sy verloofde, Michaela Mallett, het aanhangers verras deur Maandagaand op sosiale media aan te kondig dat hulle vroeër die dag in die eg verbind is.

Botma, bekend vir Afrikaanse liedjies soos “Brannewynlippe” en “Proe soos nog”, en Mallett se paaie het tydens die inperkingstyd gekruis toe Botma begin melkterte verkoop het om die beursie bietjie voller te maak.

Mallett, ʼn veranderingsafrigter met sowat 64 000 volgelinge op Instagram, het hom verras met haar yslike bestelling van 30 melkterte, wat sy eintlik net gekoop het omdat sy van Botma se musiek hou.

Die twee het in Maart vanjaar ná ʼn romantiese helikopterrit verloof geraak. Hulle is Maandag by die Mooikrans Venue & Garden buite Pretoria tydens ʼn intieme seremonie voor slegs 36 gaste getroud.

“Ons wou die troue klein hou, omdat ons net mense wou nooi wat tans ʼn groot rol in ons lewe speel, veral in die afgelope paar maande,” vertel die pasgetroude paar aan Maroela Media.

“Ons het nie die troue vooraf aan die groot klok gehang nie, omdat ons dit as ons spesiale dag wou hou en nie oorweldig wou wees deur sosiale media nie.”

Michaela in haar trourok. (Foto: Skermgreep uit Instagram-video)

Michaela het sprokiesmooi gelyk in ʼn lang, wit trourok wat sy by ʼn klein boetiek in Pretoria gekoop het.

“Vir my was die beste oomblik toe ek in die paadjie af kom en vir Wikus daar voor sien staan,” deel ʼn stralende Michaela haar hoogtepunt van die groot dag.

“Dit was vir my baie spesiaal om vir Michaela te verras deur ʼn liedjie net vir haar te sing,” voeg Wikus by.

Die twee gee toe dat hulle albei senuweeagtig was oor die kwessie of die groot dag perfek gaan verloop, maar benadruk dat hulle nie senuweeagtig was om met mekaar te trou nie.

Botma en Mallett het vroeër vanjaar na Bali, Indonesië, gereis en beplan om volgende jaar saam na ʼn paar lande op hulle emmerskoplysie te reis.

“Vir nou is ons albei net ten volle gefokus op ons sakeondernemings en doelwitte.”

Hulle lag oor die feit dat hulle niks foto’s het van die groot dag – buiten dié van die fotograaf waarop hulle nog wag – nie – nie.

“Ons het die foto’s totaal in die fotograaf se hande geplaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.