Dié jong stemme bekoor by ATKV-Applous

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria se koor. (Annemarie Wichmann/Verskaf)

Nagenoeg 16 000 jong stemme van reg oor die land het die afgelope maand meegeding om te kyk wie die soetste note in die ATKV Applous-skolekoorkompetisie kan sing.

Dié gewilde koorkompetisie is die oudste in die land en laat gehore volgens die ATKV ná 46 jaar steeds “lag, huil en glo aan die wonder van koormusiek”.

ʼn Rekordgetal van 225 kore het vanjaar ingeskryf en mekaar laat (sang)les opgesê in die finale rondes wat tussen Woensdag 26 Julie en Saterdag 29 Julie in die ZK Matthews Great Hall by Unisa in Pretoria plaasgevind het.

Volgens Bessie Keun, projekorganiseerder van ATKV-Applous sedert 1999, speel opleiding ʼn groot rol in die langslewendheid van dié kompetisie.

Ook sy afdeling vir nuwe koorwerke help volgens Keun om die kompetisie te laat groei. Rondom 700 nuwe koorwerke is sedert die aanvang van dié kompetisie by die lys van koorwerke vir skoolkore gevoeg.

“Heelwat van die koorleiers wat tydens vanjaar se finale ronde aan die stuur van die kore gestaan het, het byvoorbeeld self ook in hul skooldae aan ATKV-Applous deelgeneem. Dit gee my ’n ongelooflike gevoel van dankbaarheid dat wat jy doen, nie verlore gaan nie – dit is nie van verbygaande aard nie; dit is die opbou van koorsang in Suid-Afrika.”

Hoërskool Menlopark se Jeanmari Van Papendorp en Lourens de Jager ontvang die toeknning vir die prestige-afdeling vir gemengde skole. (Foto: Facebook/ATKV)

Die aktrise Lizz Meiring, wat al vir meer as twee dekades by ATKV-Applous as seremoniemeester vir die finale ronde betrokke is, is tydens vanjaar se finale ronde met ’n oorkonde vereer vir haar jare lange bydrae tot die uitvoerende kunste, Afrikaans en ATKV-Applous.

Volgens Meiring is dit belangrik dat daar organisasies soos die ATKV is, wat die kreatiewe bedryf ondersteun.

“Hoeveel miljoene kinders is net deur die koorfees, en nou praat ek nie eers van die toneelfees en ander werkswinkels nie? Hoeveel loopbane – uiters suksesvolle loopbane – het die ATKV gebou? So, dit is ’n standhoudende betrokkenheid sonder enige bymotiewe en waar kry ’n mens dit? Dis baie skaars.”

Meiring glo ook dat ATKV-Applous ’n bydrae wat oor jare strek tot deelnemers se lewens lewer.

“Baie van hierdie kinders gaan nie musici word nie, of in die musiekrigting gaan nie. Hulle gaan dalk in ander beroepe in, maar iewers in hulle lewens gaan hulle een aand nostalgies by ’n braaivleisvuur óf by ’n ete óf by ’n kuier met pêlle verwys na hulle koordae, of die dae wat hulle toneelfees gedoen het, en die impak wat dit op hulle blote menslikheid gehad het. Dít is iets wat vir my eggo in wat Applous doen.”

Vanjaar se ATKV-Applous-wenkore is soos volg:

Wenners: Woensdag 26 Julie

Meriete-afdeling vir nie-Afrikaanse skool: Pinedene Primary School

Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Pinedene Primary School

Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Pinedene Primary School

Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Newcastle Senior Primary School

Ope-afdeling (laerskool): Laerskool Elarduspark

Ope-afdeling (hoërskool) C&N Sekondêre Meisieskool Oranje

Donderdag 27 Julie

Meriete-afdeling (laerskool): Laerskool Elarduspark

Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Laerskool Garsfontein

Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Willem Postma Primêre Skool

Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Laerskool Elarduspark

Prestige-afdeling (laerskool): Laerskool Gene Louw

Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Laerskool Mooirivier

Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Laerskool Eversdal

Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Laerskool Gene Louw

Vrydag 28 Julie

Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Hoërskool Ferrum

Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Hoërskool De Kuilen High School

Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Hoërskool De Kuilen High School

Meriete-afdeling (Hoërskool/gemeng): Hoërskool Ferrum

Meriete-afdeling (Hoërskool/meisies): Hoërskool De Kuilen High School

Saterdag 29 Julie

Beste uitvoering van ’n Afrika-lied: Hoërskool Menlopark

Beste uitvoering van die voorgeskrewe werk: Hoërskool Stellenberg

Beste uitvoering van ’n Afrikaanse komposisie: Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria

Prestige-afdeling vir meisieshoërskool: Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria én Hoërskool Stellenberg

Prestige-afdeling vir seunshoërskool: Afrikaanse Hoër Seunskool

Prestige-afdeling vir gemengde skole: Hoërskool Menlopark

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.