Koos du Plessis postuum vereer

Koos du Plessis se toekenning vir sy lewensbydrae is tydens vanjaar se Afri-Duetfees by die NG kerk Elarduspark aan sy vrou, Mornay oorhandig. (Foto: Verskaf)

Koos du Plessis is Vrydagaand deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) postuum vir sy besonderse bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek vereer.

“Ons dink dikwels dat musikale tradisies tot die verlede behoort en dat hulle geen aanspraak meer op ons eie tyd maak nie. Ten beste behoort dit in die argief. Koos du Plessis se musiek en die tradisie wat dit geword het, is anders.”

Só sê prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, oor Du Plessis se nalatenskap.

Hy meen verder dat die liedjies wat Du Plessis dekades gelede geskryf het, steeds ʼn “magtige beroering” in die gemoed veroorsaak.

“Anders as so baie musiek van weleer is sy musiek steeds ʼn lewendige krag – ʼn krag wat vanuit die verlede ons musiek verdiep, wat in sy eenvoud steeds deur verstarde vorme kan breek, en wat musikante uitdaag om nuut oor hul eie musiek na te dink.”

Koos wou nie beroemd wees

Dié toekenning is tydens vanjaar se Afri-Duetfees by die NG kerk Elarduspark aan Du Plessis se vrou, Mornay, deur die sanger Jannie du Toit oorhandig.

Mornay sê haar man sou nie noodwendig trots gewees het op dié FAK-toekenning nie, maar beslis “dankbaar”.

“Koos het nooit in sy lewe gewens om beroemd te word nie, dit kan ek met alle eerlikheid sê,” sê Mornay.

Volgens haar het Du Plessis een wens gehad en dit was dat sy liedjies erkenning moet kry. “Waar kan jy nou ʼn beter voorbeeld kry as vanaand ná 37 jaar (ná sy dood) dat hy nog erkenning kry. Ek dink so sku en so skaam soos Koos was, kyk hy vanaand (Vrydag) af op hierdie verrigtinge.”

Du Plessis en Mornay is op 22 Junie 1969 getroud. Daar is drie kinders uit die huwelik gebore, Irma, Karien en Karla. Hy sou later vir elk van sy dogters ’n liedjie skryf en opneem.

Du Toit sê Du Plessis het dié toekenning verdien. In sy lewe is hy ook vereer en mense het toe al van hom as ʼn legende gepraat terwyl hy nog geleef het.

“Om 37 jaar ná jou dood nog onthou te word en dat die FAK sê ‘dankie en welgedaan’, dít is vir my fantasties.”

Du Toit het vele van Du Plessis, met wie hy ook bevriend was, se liedjies gesing en was betrokke by produksie wat oor Du Plessis se lewe gehandel het.

Du Plessis se professionele loopbaan

Du Plessis se professionele loopbaan is egter gekenmerk deur sy betrokkenheid by die media. In 1967 het hy ʼn koerantman geword wat vir die res van sy loopbaan as joernalis, subredakteur en nuusredakteur by verskeie publikasies, waaronder Die Vaderland, Die Nataller, Oggendblad en Die Transvaler, gewerk het.

Karl (Tienie) Theunissen (Foto: Verskaf)

By Die Transvaler in Pretoria, waar hy vir ʼn dekade as subredakteur, nuusredakteur en hoofsubredakteur gewerk het, het sy paaie met Karl (Tienie) Theunissen gekruis. Theunissen, wat as subredakteur by dié publikasie gewerk het, vertel hoe hulle as nagkantoorspan elke aand 18:00 begin werk het “om die koerant af te gooi”.

Teen die einde van die aand het Du Plessis dan volgens hom gesê: “Daar is dit nou kêrels, ons het dit (die koerant) gedoen.”

Dit was die einste Theunissen wat Du Plessis in die rigting van ʼn musiekloopbaan gehelp het. Hy het ʼn kassetopname met drie van Du Plessis se liedjies, waaronder “As jy my kon volg”, “Op die pad na Nooitgedacht” en “Skadu’s teen die muur” na Nick Taylor geneem. Taylor het ’n tuisateljee gehad terwyl hy die onafhanklike platemaatskappy Incline House bestuur het.

“Sy nuwe woordveld is die onderskeidende faktor wat sy bydrae so ongelooflik belangrik maak vir Afrikaans in die geheel,” sê Theunissen. “Hy het in 1966 gedoen wat Eugène Marais in 1904 met Winternag gedoen het.”

Ná dié groot sukses het Du Plessis en Taylor begin om sy eerste album, Skadu’s teen die muur, saam te stel. Die album is in 1979 uitgereik en is as Afrikaanse langspeler van die jaar tydens Springbok Radio se SARI-toekennings benoem. “Kinders van die wind” het die SARI-toekenning vir liedjie van die jaar ontvang. Koos se tweede album, As almal ver is, het twee jaar later in 1981 verskyn. Die album se meer persoonlike aanslag het liedere bevat wat vir Koos se dogters geskryf is, asook ʼn besinning oor sy kinderlewe in Springs. Toe sy derde album, Herbergier, in 1982 uitgereik is, sou niemand kon dink dat dit die laaste een sou wees wat in sy leeftyd uitgereik sou word nie.

Op 15 Januarie 1984 was hy op pad na Taylor, wat besig was om sy vierde album, Vier horisonne, op te neem. Hy het egter nooit daar uitgekom nie, want sy motor het die pad byster geraak op ʼn laagwaterbrug naby Centurion en hy is in die ongeluk dood. Hy was 38 jaar oud. Dié onvoltooide album is wel in 1995 onder die titel Die vierde horison uitgereik.

Kunstenaars op die verhoog tydens vanjaar se Afri-Duetfees in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê Koos du Plessis is een van ons grootste Afrikaanse musieklegendes.

“Hy het tydlose musiek geskryf wat oor dekades en generasies steeds met mense se harte praat. Sy liedjies is nie net musiek nie, amper elke liedjie is ook ʼn meesterlike gedig in eie reg.”

Die laaste Afri-Duet-vertoning vind vandag (Saterdag) om 15:00 plaas by die NG kerk Elarduspark in Pretoria. Die sangers wat vanjaar optree is Manuel Escórcio, Zita Pretorius, Willem Botha, Nadia Beukes, Du Preez Stoltz, Cezanne Yzelle, Louis Loock en Loriska Schmidt. Kaartjies kan gekoop word deur ʼn e-pos te stuur na [email protected] of skakel 082 377 1112.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Ja. Ek luister dit oor en oor en sy digbundel gekoop.

Uitsonderlike gawe.

Dankie Koos

annie ·

Ongelukkig het ons Afrikaanse musiek nie veel gegroei sedert Koos Dup se inset nie. ‘Ek’ word nou eers gevorm en ge-beeld en dan volg die trietsige ge-miau vir volle erkenning deur die kultuur-voorosse en dan verkoop die papsige cd’s soos die jongste koffie-brand… Drie sinne op die meeste kan deesdae uitgedink word om met die meesleurende ‘modder’stroom saam te spoel na die rivier vol ping…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.