Kunstenaars hou proteskonsert vir Afrikaanse Taalmonument

Herman Kleinhans. (argieffoto)

“Dit is vir my ʼn klap in die gesig om van Afrikaans ontneem te word.”

Só sê Herman Kleinhans, die organiseerder van ʼn proteskonsert wat Saterdag 28 Mei by die Zomerlust-boetiekhotel in die Paarl gaan plaasvind.

Dié proteskonsert word ter beskerming van die Afrikaanse Taalmonument gehou.

Daar heers groot kommer onder rolspelers in die Afrikaanse gemeenskap oor min. Nathi Mthethwa se skynbare planne om die “Afrikaanse” uit die Afrikaanse Taalmonument en -museum se naam te verwyder.

“Die mosie dat Afrikaans verwyder moet word van die Afrikaanse Taalmonument en ʼn vlag van R22 miljoen daar gehang moet word, het Afrikaanssprekendes van oor die land ontstig,” lui die persverklaring wat onlangs oor die geleentheid uitgereik is.

Die konsert is blitsig deur Kleinhans en die DA op die been gebring.

“Ons het Dinsdagaand [24 Mei] begin beplan en ek is dankbaar dat almal so vinnig ingestem het om deel van die konsert te wees.”

Kleinhans, wat self die naweek op die verhoog te siene gaan wees, het aan Maroela Media verduidelik dat die rede vir die konsert gegrond is daarin om erkenning aan Afrikaans te gee.

(Foto: Herman Kleinhans/Facebook)

Kleinhans, Gian Groen, Jan Blohm, Wouter van de Venter, Churchil Naudé, Bottomless Coffee Band, Tino Singe en Len Muller sal aan die proteskonsert deelneem.

Hy is opgewonde oor die feit dat diegene wat deel is van die projek dit onder die vaandel van Afrikaans aanpak.

“Dit was die maklikste konsert wat ek ooit beplan het,” het Kleinhans geskerts.

Die geleentheid skop 08:00 by die Strooidakkerk in Paarl met ʼn optog af en sal eindig by die proteskonsert wat om 09:00 begin.

“Daar sal ook ʼn geleentheid wees waar mense ʼn petisie sal kan teken.”

Wys jou sTaal is ʼn inisiatief om Afrikaans as taal nie net te beskerm nie, maar ook te laat floreer.

“As ons Afrikaans ontken, ʼn taal wat oor jare heen deur werkende mense van verskillende etniese groepe op lande en in fabrieke gevorm is, ontken ons die bereidwilligheid tot toekomstige samewerking wat fataal sal wees vir die land se welstand. Dus is dít ʼn saak wat ons na aan die hart lê,” sê Kleinhans, die organiseerder van Wys jou sTaal.

Mense word vriendelik uitgenooi om die proteskonsert te ondersteun. Die geleentheid word gratis aangebied.

Sarel Kleinhans kan by 071 224 1906 genader word vir meer inligting oor die konsert.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het die naweek reeds ʼn petisie begin teen die voorstel om “Afrikaanse” uit die ATM se naam te verwyder. Teen Woensdagmiddag is dit reeds meer as 28 000 keer geteken.

Maroela Media het vroeër berig dat dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, gesê het dit is ’n “growwe magsmisbruik om te dink dat staatsubsidies die minister die reg gee om Afrikaans uit te vee”.

Die Solidariteit Beweging het ook sy tienpuntplan vir erfenisbewaring bekend gestel.

Die tienpuntplan sluit in ʼn oordrag van monumente en standbeelde onder regeringsbeheer – met hul staatsubsidies – na gemeenskappe. Dit behels ʼn wedersydse erkenning van en respek vir die verskillende kulture en hul erfenisse en die bevordering daarvan, asook ʼn strewe na “kulturele diplomasie” wanneer kulturele skakeling plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mauritz ·

Ek weet nie hoekom ons toelaat dat ‘n breinlose kader ons Afrikaners so op ‘n knop jaag nie. Die Afrikaanse Taalmonument behoort nie aan die rasmal ANC regime nie. Ignoreer die rassistiese ANC uitsprake.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.