Luister: ‘Eerlike, diep’ Bobby neem weer pen op

Bobby van Jaarsveld op die verhoog. (Foto: Facebook/Bobby van Jaarsveld)

Hoewel TV-werk en rolle in rolprente deesdae sy dagboek volmaak, is Bobby van Jaarsveld steeds ʼn liefling vir Afrikaanse musiekgehore.

Sy jongste enkelsnit, “Verlore seun”, is onlangs uitgereik en pryk sedertdien op die Maroela Media Afrikaanse Top-20, ʼn enkele aanduiding dat sy liedjie beslis ʼn treffer is.

Bobby vertel in Maroela Media se ateljee dat hy deesdae graag voor die kameras besig bly, maar dat sy passie vir musiek nog geensins verdwyn het nie en hy is doenig op verhoë en feeste reg oor die land.

Hy wou met sy jongste enkelsnit weer terugkeer na die “eerlike, opregte skryfwerk” waaroor sy aanhangers reeds in sy “Spieëltjie”-dae gaande geraak het.

“Intussen het baie bekwame liedjieskrywers vir my begin skryf en hoewel dié liedjies ook groot sukses behaal het, was dit nooit volkome eg aan myself nie,” verduidelik Bobby.

“Ek het ‘Verlore seun’ reeds ʼn tydjie gelede al geskryf, maar ek is gemaan dat ek nie té eerlik en diep moet raak nie. Op die plek waar ek tans in my loopbaan is, gee ek nie meer so baie om nie en ek voel dit is tyd om die maskers af te haal en te wees wie ons werklik is.”

Dit was vir hom lekker om weer aan ʼn liedjie uit sy eie pen te werk, sê hy. “ʼn Mens begin later jou eie skryfvermoë wantrou, maar ek wou terugkeer na my eerlike wortels.”

Die boodskap van die liedjie is dat God die enigste redder is, maar dat die onus op die mens self berus om te kies om gered te word.

“‘Verlore seun’ het ek juis geskryf oor my eie persoonlike gevegte wat ek baklei. Elke dag. Ons almal het hulle, al lyk dit verskillend, maar elkeen van ons baklei teen iets wat pla. Dit is oukei, solank ons nie opgee nie,” sê Bobby.

“Ons almal ken die storie van die Verlore Seun en hoe God eintlik ons almal daarmee vergelyk. Die verlore seun moes val en verdwaal om homself weer te vind en te besef dat hy self die keuse moet maak om terug te gaan huis toe. Al voel hy so skaam oor homself, weet hy daar is ʼn plek van genade en liefde maar hy moet kies om dit te gaan haal.”

Solank ons genade vir mekaar het en mekaar kan toevou, sal die liefde altyd wen, benadruk Bobby.

“Ek besef dit gereeld. Net ek kan kies om myself uit hierdie situasie te haal, natuurlik met behulp van ander, en natuurlik kan net God ons red, maar ek moet die keuse maak en daai eerste treë gee.

“Ek was al daai verlore seun, ek is soms nog steeds en ek gaan weer in die toekoms daai seun wees. Ek kort baie genade. Ons almal doen.”

“Verlore seun” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die artikel na die volledige ateljeeonderhoud met Bobby van Jaarsveld.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MARELIZE ·

Dankie, Bobby. As meer liedjieskrywers eerlik aan hulleself wou wees. Daar is baie van ons Afrikaanse luisteraars wat goeie lirieke soek, wat diepte vra, eerlikheid en nie ‘n ge-“hanna” met “baby baby” en al die gepaardgaande herhalings nie.

Daar is vele van ons, al is ons die minderheid, wat ballades soek, wat na woorde en nie dromslae luister.

Dalk, dalk het musiekuitgewers ‘n verantwoordelikheid om hul gehore op te voed en nie net te hipnotiseer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.