Musiekvideo: Neil Somers sing oor verhoudings wat eindig

Neil Somers (Foto: Jhua-nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Neil Somers roer wéér hartsnare met sy rasperstem en treffende lirieke in sy splinternuwe enkelsnit “Neonlig Nagdans”.

Dié nuwe lied is pas bekendgestel en is die tweede snit van Somers se jongste album, Jy is water.

Met “Neonlig Nagdans” vertel hy meer oor verhoudings wat beëindig word en die verskillende maniere waarop mense dié proses kan verwerk.

“Party mense verkies om so iets heeltemal op hulle eie en met hulle eie gedagtes te probeer verwerk, waar ander dadelik om mense wil wees om hul aandag van die realiteit wat hulle in die gesig staar, te vermy,” sê die sanger oor sy nuwe lied.

“Elkeen loop natuurlik egter ook die gevaar om eendag weer daardie persoon raak te loop en ou wonde oop te krap.”

(Foto: Jhua-nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hy beskryf sy jongste lied as “kontemporêre country” met ʼn pop-gevoel. “Dis iets wat mense oor en oor na sal wil luister.”

Die lied se gepaardgaande musiekvideo – wat by Die Land in Pretoria opgeneem is – is ook pas op YouTube bekendgestel.

Conrad Hero het in die regisseurstoel vir dié musiekvideo gesit, terwyl Ulrich Fischer die vervaardiging behartig het.

Maroela Media het vroeër berig dat die “Silwer Kombers”-sanger sy musiekdroogte van vyf jaar met dié nuwe langverwagte album in September 2021 verbreek het.

“Jy is water” bevat ’n mengelmoes van genres en musikale klanke en is deur die bekende Afrikaanse musiekvervaardiger Murray Lubbe opgeneem.

Somers beskryf Lubbe – wat ook al treffers vir Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jo Black, Ruhan du Toit, Gerhard Steyn en Appel opgeneem het – as “een van die land se beste vervaardigers”.

“Namate ’n mens ouer word, groei jy en sien dinge anders. As ek hierdie album met my vorige albums kan vergelyk, kan ek sê die klank is meer volwasse en wissel van ligte tot diep musiek. Ek sal wel nooit wegskram van my diep liedere nie, maar op hierdie album is ook lekker kuier- en dansmusiek.”

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.