‘Spontaan’-sanger deel babanuus

Riaan Benadé het dié sonarfoto op sosiale media gedeel. (Foto: Facebook/Riaan Benadé)

Die sanger en liedjieskrywer Riaan Benadé het die afgelope paar jaar ʼn avontuur in sy musiekloopbaan beleef en nou maak hy gereed vir ʼn splinternuwe avontuur – dié van pa-wees.

Die “Spontaan”- en “Vat ʼn bietjie”-sanger het op sosiale media aangekondig dat hy en sy blondekopvriendin van sowat twee jaar, Melissa Oberholzer, hulle eersteling verwag.

“My beker loop oor!” het die sanger (29) by twee sonarfoto’s geskryf. Dit is nie bekend wanneer die baba sy of haar opwagting sal maak nie en die geslag van die baba is ook nie bekend nie.

“Hoor dit nou van my af, uit die perd se bek. Dis vir my lekker om hierdie nuus met julle te deel!” het Benadé geskryf.

Riaan Benadé en sy vriendin, Melissa Oberholzer. (Foto: Facebook/Melissa Oberholzer)

“Ek is lief vir haar en sy vir my. Die Here gee lewe en ons is geseënd. Dit is ʼn ongelooflike groot wonderwerk en ons is baie opgewonde! Juig, Suid Afrika, nog ʼn Benadé word deel van De Bende!”

Benadé het in 2019 sy debuutalbum, Spontaan, uitgereik. Sy pa is die bekende sanger en pastoor Franna Benadé. Oberholzer is ʼn prokureur.

Talle bekendes het die paartjie gelukgewens met die babanuus. “Ons gaan lekker babysit,” het die sangeres Demi Lee Moore geskryf. Dié twee sangers sing gereeld saam en het ook ʼn splinternuwe duet, “Kannie sonder jou nie”, wat in Moore se jongste album verskyn.

Juan Boucher, wat ook eersdaags pa word van ʼn dogtertjie, Jakkie Louw, Anlia van Rensburg, Bouwer Bosch en Kate Roothman het ook die paartjie gelukgewens met die groot nuus.

Riaan Benadé en Melissa Oberholzer verwag hulle eersteling. (Foto: Facebook/Riaan Benadé)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.