Marion Holm op pad om KKNK-gangers te laat skater

Marion Holm is op pad KKNK toe.

Marion Holm staan eersdaags weer vierkantig terug in haar eie skoene op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se verhoog in die eenvroustuk, Marion Holm.

Marion was onlangs saam met Margit Meyer-Rödenbeck en Ilana Fourie op die planke te sien in Laerskool Noord, ʼn komedie oor drie uiteenlopende onderwyseresse wat ʼn verrassingsafskeidspartytjie vir hul uittredende skoolhoof beplan en ook saam wag om te hoor wie sy skoene volgende sal moet volstaan.

Marion het juis tydens die speelvak van dié skreeusnaakse stuk besef net presies hoeveel Suid-Afrikaners nodig het om te lag. Daarom het sy die oorspronklike teks van Marion Holm oorgeskryf en aangepas om dit ligter te maak.

“Ek wil hê die stuk moet vir mense ʼn lafenis wees. Die gehoor moet kan moed skep, beter voel en krag opbou vir die dag van môre,” sê Marion oor die stuk, wat sy saam met Chris Vorster geskryf het. Hy behartig ook die regie.

“Die plakkaat het nog die oorspronklike vertoning se foto op, so dit lyk miskien ʼn bietjie hartseer. Ek belowe egter die vertoning is allesbehalwe dit!”

“Dis die klein jakkalsies soos bure, honde en mense wat daagliks Marion se wingerd verniel. Marion wíl nie gil nie, sy gaan soek nie smart of geniet verdriet nie … sy systap sonde en stouterds, sy glimlag gedwee en lag luid … sy boks braaf en keer vir seer … sy wys haar grys en is selfs skaam vir faam,” word die stuk deur die KKNK se webwerf beskryf.

“Sy praat in prentjies oor die alledaagse lewe met daai tipiese Marion-eerlikheid én heerlikheid. Kom lag saam oor die chaos en die aanslae … voel dadelik beter oor jou eie kleinighede as Marion lostrek met stories oor foute, vegetariërs en vrouwees. Jy is welkom om nors te arriveer, daai bui sal nie lank hou nie.”

Marion Holm is op 5 April om 18:00 en 6 April om 13:30 op die planke in die Hoërskool Oudtshoorn se skoolsaal.

Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.