‘Boer soek ʼn vrou’: Só gaan dit nou met TV-boere

Niel en Cheréze is steeds dolgelukkig saam. (Foto: kykNET)

Dit was ʼn besonder geil liefdesoes vir Boer soek ʼn vrou se 13de reeks met ses van die top-10-boere wat liefde gevind het. Dié seisoen het Donderdagaand tot ʼn einde gekom.

Sedert die reünieprogram op 16 Desember verlede jaar geskiet is, het ʼn paar verwikkelinge in die boere se liefdeslewe plaasgevind.

Boer Albert (24), die rooikop rooibosteeboer van Clanwilliam in die Wes-Kaap, is een van dié wat na afloop van die reünie liefde gevind het. Hy het vertel hy en Chanté, wat in sy top-5 was, deesdae ʼn paartjie is.

“Baie van ons boere en van die vroue wat ingeskryf het, volg mekaar op Instagram. Dit is hoe ek en Chanté weer kontak gemaak het. Sy het in Pretoria gewoon en het verlede jaar haar BRek-klerkskap voltooi.

“In Februarie het sy ʼn foto geplaas en toe ek haar vra wat sy in die Kaap maak, het sy laat weet sy soek blyplek, want sy het werk in die Kaap gekry. Ek het by haar gaan kuier en sonder al die kameras kon ons mekaar beter leer ken. Vandaar het die dinge gebeur.”

Boer Niel (32) het met die verfilming van Boer soek ʼn vrou op ʼn plaas in Grabouw in die Wes-Kaap gewoon en gewerk, maar het vroeër vanjaar op ʼn vrugteplaas buite Prince Alfred Hamlet begin werk.

Hy en Cheréze het saam by die reünie opgedaag en is nou, bykans vier maande later, steeds ʼn paartjie.

Dit gaan goed met my en Cheréze. Ons is regtig op ʼn goeie plek. Ons het al gepraat oor die volgende stap en is besig om te werk aan ʼn paar nuwe toekomsplanne vir ons. Ek is baie opgewonde. Liefde het beslis gewen,” het Niel gesê.

Boer Déan, die 28-jarige vlieënier en makadamianeutboer van Mbombela (Nelspruit), het ook laat hoor dat hy verlief is.

Richann en René. (Foto: kykNET)

Hy en Megan, wat in sy top-3 was, maar eerste huis toe gestuur is, is nou sowat ʼn maand lank ʼn paartjie. “Dit gaan regtig goed. Ek is baie gelukkig,” het Déan gesê.

Die musikant-boer Richann (29), met sy voorliefde vir musiek en die buitelewe en wat by Vredefort in die Vrystaat boer, en René het sommer vinnig besluit hulle gaan ʼn verhouding ʼn kans gee.

Dit gaan baie goed. Ek en René is besig om aan ʼn paar projekte te werk. Ons leer om mekaar te hanteer en hoe om mekaar aan te vul wat ongelooflik is,” het Richann gesê.

Boer Kobus (52), die wewenaar wat buite Randfontein in Gauteng boer, se keuse het dalk nie op een van die drie dames wat op die plaas was geval nie, maar hy het wel iemand ontmoet wat hom gekontak het ná sy hom op die program gesien het.

Hy het met die donkerkop Nastassja, wat 17 jaar jonger is as hy, by die reünie opgedaag. Hulle is egter ook intussen uitmekaar en het besluit om vriende te wees.

“Ek is op ʼn ouderdom in my lewe waar ek nie meer tyd het vir nonsens en ditjies en datjies nie. Ek wil graag settle en soek iemand wat my belange op die hart dra. Wat saam met my kan bid, die natuur kan waardeer en ʼn sonneblom kan pluk en besef dis ʼn skepping van God.”

Van die vyf boere wat nie top-5 gehaal het nie, blyk boer PF (30) van Laingsburg in die Wes-Kaap die gelukkige een te wees wat deur Kupido se liefdespyl raakgeskiet is.

Hy en sy onderwyseres-meisie, die blondekop Chantelle, het saam by die reünie opgedaag en is ook nog steeds saam.

“Dit gaan uitstekend. Ek en Chantelle is al amper sewe maande saam. Sy het nader getrek en hou nou hier skool. Ons albei is opgewonde oor wat die toekoms inhou. Ek is heeltemal oortuig ek het die regte een raakgeloop. Ek is baie gelukkig,” het PF vertel.

Boer Mathys (25) van Dullstroom in Mpumalanga, is weer enkellopend nadat die verhouding tussen hom en Irené, wat saam met hom by die reünie was, skipbreuk gely het.

PF en Chantelle. (Foto: kykNET)

“Ek glo die Groot Baas het ʼn plan vir my. Op die oomblik is ek enkellopend. Ongelukkig het dinge nie uitgewerk soos ek gehoop het nie, maar daar is ʼn plan vir alles.”

Boer Hannes, die 52-jarige wewenaar van Kroonstad, wou nie veel uitbrei nie, maar het laat weet hy het iemand ontmoet wat vir hom ʼn brief geskryf het.

Boer Stephan (40), die bees- en saaiboer van Lichtenburg, het gesê sy deelname aan die program het beslis die soektog na die liefde aangewakker.

“Ek het in twee jaar niemand op Lichtenburg ontmoet of selfs uitgegaan nie, maar het nou al ʼn hele paar dames ontmoet. Van hulle het vir my briewe geskryf.”

Hy sê dat hy op die oomblik iemand sien, maar dit is volgens hom nog nie “op die ernstige liefdesfase nie”.

Boer Marthinus, die 25-jarige boer van Arlington in die Vrystaat, het eers landbou-ekonomie studeer voor hy op sy ouers se plaas ingeval het.

Hy vertel daar is iemand “saam met wie ek kuier”, maar wil nog nie haar naam verklap nie aangesien die verhouding nog nuut is.

“Sy is tans krapperig oor die min aandag wat sy kry aangesien ons op die oomblik stroop, maar dit is ʼn boer se lewe. Sy woon in die Kaap en dit maak dit ook bietjie moeiliker.

“Behalwe oor die foon, het ons al twee keer in persoon gekuier – ek was in die Kaap en sy het op die plaas kom kuier.”

Nuwe reeks

Hubare, Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, kan deelneem aan die 14de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel Marche Media by 079 335 5137;
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (let wel .media en nie .com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.
  • Hou kykNET se sosialemediaplatforms of die media dop vir die aankondiging oor 2022 se top-tien-boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

sopbeen ·

Klink vi my of boer Kobus ‘n tiepiese “maak haar ketting korter na die stoof toe” tipe man is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.