‘Dit is wat ek noem Boer soek ʼn vrou-magic’

Die top-10-boere van die 13de seisoen het gekuier in Kaapstad. (Foto: kykNET)

In die laaste episode van Boer soek ʼn vrou het al tien vanjaar se TV-boere oudergewoonte op ʼn reünie in Kaapstad saam gekuier. Terwyl die liefde vir sommige boere geblom het, het dit vir ander getaan en het dit ander sommer heeltemal ontglip.

Boere Hannes (52) van Kroonstad in die Vrystaat, Stephan (40) van Lichtenburg in Noordwes, Marthinus (25) van Arlington in die Vrystaat en Albert (24) van Clanwilliam in die Wes-Kaap het almal alleen by die reünie opgedaag.

Albert het in verlede week se episode verduidelik hy en Marlia, wat saam met hom en die ander boere in die Oos-Kaap vakansie gehou het, het besluit om vriende te wees. Hy het in gisteraand se episode weer benadruk dat hy nie verlief was op haar nie.

“Ons albei het van mekaar gehou, maar ek was nie verlief nie. Ek was nie heeltemal seker nie en ek wou niemand seer maak nie. Jy moet maar bid vir die regte persoon om uit die bloute op jou pad te kom,” het Albert aan Marciel Hopkins, aanbieder van die program, gesê.

Boer Kobus en Nastassja. (Foto: kykNET)

Boer Kobus (53) van Randfontein in Gauteng het verlede week verklap dat hy iemand ontmoet het terwyl hy in die proses van Boer soek ʼn vrou was.

Kobus het saam met dié donkerkop, Nastassja, by die reünie opgedaag. “Ek het verlede week haar ouers ontmoet. Ons is saam en ek hoop ons gaan nog lank saam wees,” het hy oor die vrou aan sy sy, wat 17 jaar jonger is as hy, gesê.

“Sy het ná die plaasweek vir my ʼn boodskap gestuur wat my gevang het. Ek het geweet hier is ʼn vrou wat my drome op die hart sal dra. Ek wil haar beter leer ken en haar aan my sy hê. Sy verstaan my en sy maak bitter lekker kos.”

Boer Niel (32) van Grabouw en sy donkerkop Cheréze het saam by die reünie opgedaag en het duidelik die skoot hoog deur.

“Hy het my gevra om amptelik sy meisie te wees terwyl ons rustig by die huis gebraai en wyn gedrink het. Hy het my hand gevat en gevra of ek sy meisie sal wees, maar ook of ek sy braaibroodjies sal maak,” het Cheréze laggend vertel.

“Die skoot sit solid hoog [sic]. Dit is ʼn lekker gevoel om te hê,” het Niel beaam. Hy het ook verklap dat hy aan die begin van vanjaar by ʼn vrugteboerdery op Prince Alfred Hamlet sou begin werk.

“Dit is nader aan my, ʼn halfuur korter se ry,” het Cheréze opgewonde gesê.

Déan en Marné het saam by die geselligheid opgedaag, maar het nie hande vasgehou of vir mekaar gekoer nie. Hulle het later teenoor Marciel gebieg dat hulle ook besluit het om net vriende te wees.

“Ek wou graag steeds na die reünie toe kom omdat ek my Boer soek ʼn vrou-ervaring mooi wou afsluit,” het Marné gesê.

‘n Emosionele Déan verduidelik dat hy besluit het dat hy en Marné net vriende moet wees. (Foto: kykNET)

ʼn Emosionele Déan het gesê ʼn mens kan nooit seker wees oor die besluite wat jy neem nie. “Ons het albei baie geleer in die proses. Ek gaan jok as ek sê ek voel niks nie, maar daar is iets wat ontbreek. Ek weet dit is belangrik en ek voel ek doen haar ʼn onreg aan om dinge na ʼn kant toe te forseer waar ek nog onseker is.”

Boer Richann (29) van Vredefort in die Vrystaat en René het ook saam opgedaag en vertel dat hulle deesdae saam musiek maak. “Ons speel nog met idees vir ʼn naam vir ons band, maar ons kan nie saam op een besluit nie,” het hulle laggend vertel.

Boer PF (30) wat met vee, groente en saad boer op Laingsburg in die Wes-Kaap, het sy pragtige blondekop onderwyseres-meisie, Chantelle, aan die ander boere voorgestel. Hulle het vertel dat “die heelal mooi saamgespeel het” om hulle bymekaar te bring nadat sy vir hom geskryf het.

“Ek het vir haar gesê my toekomsplanne is 12 kinders,” het hy geskerts. “Ons is nou al drie maande saam. Ná ʼn maand wat ons saam was, het ʼn pos by ʼn skool hier naby my oopgegaan en sy het dit gekry.”

Chantelle sou in Januarie by dié skool begin. “Ek voel die Here se teenwoordigheid in ons verhouding van die eerste dag af,” het sy gesê.

“Dit is wat ek noem Boer soek ʼn vrou-magic,” het Marciel gesê.

Niel en Cheréze was dolgelukkig tydens die reünie. (Foto: kykNET)

Boer Mathys (25) van Dullstroom in Mpumalanga, het saam met Irené opgedaag. Hy en Marciel het haar in een van die eerste episodes gebel en hulle het sedertdien kontak behou.

“Ná die WhatsApp-oproep het ons verder kontak gehou en gesels en toe het ek vir haar gesê ek dink dit is tyd om te kuier. Ek het by haar gaan kuier en sy het toe by my kom kuier op plaas, en die res is geskiedenis. Ons is nie amptelik in ʼn verhouding nie, maar ons sien ook nie ander mense nie.”

Hoewel Kupido se liefdespyl nie al die boere van die 13de seisoen raakgeskiet het nie, laat kykNET nie op hulle wag om nóg tien boere die kans te gee op liefde nie. Die inskrywings vir die 14de seisoen van die reeks is nou oop.

Hubare, Suid-Afrikaanse boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, kan deelneem aan die 14de seisoen. Dié reeks sal in Januarie volgende jaar uitgesaai word.

Boere kan op die volgende maniere inskryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai;
  • Bel Marche Media by 079 335 5137;
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (let wel .media en nie .com / .co.za nie)

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem, moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 13 Mei 2021 bereik.
  • Hou kykNET se sosialemediaplatforms of die media dop vir die aankondiging oor 2022 se top-tien-boere. Moontlike pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Hou Maroela Media dop vir nog opwindende Boer soek ʼn vrou-nuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tanya ·

Dis so lekker om die boere gelukkig te sien, maar ek moet ook bydrae dat dis lekker om voller figure vroue te sien en nie net maer lyfies nie, lekker kook en eet en dan natuurlik hard werk is mos maar ‘n plaas ding!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.