Donker komedie oorheers wéér Emmy-benoemings

Die 75ste Emmy-toekennings vind op 18 September plaas. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die donker komedie Succession het vir die tweede opeenvolgende jaar die meeste benoemings by die jaarlikse Emmy-benoemingsgeleentheid, TV se weergawe van die Oscars, opgeraap.

Dié reeks vertel die verhaal van ʼn mediamagnaat en sy wanfunksionele familie. Die sewende en laaste seisoen is vir altesame 27 toekennings benoem, selfs beter as verlede jaar se 25 benoemings.

Succession het boonop geskiedenis gemaak en die eerste reeks geword wat drie van die ses beskikbare toekennings vir die beste hoofakteur in ʼn dramareeks ingeoes het.

Die post-apokaliptiese reeks, The Last Of Us, het die naasmeeste benoemings (24) ontvang en is ook die eerste reeks gegrond op ʼn rekenaarspeletjie om dié prestasie te behaal.

Die donker komedie “Succession” het verlede jaar die prys vir die beste drama-ensemble gewen. (Foto: Skermgreep vanaf YouTube)

The Last Of Us is gegrond op die gelyknamige rekenaarspeletjie en speel af tydens ʼn pandemie wat mense weens ʼn massa-swaminfeksie in zombies verander.

The White Lotus, ʼn stylvolle satiriese reeks oor die doen en late van verflenterde rykes, se tweede seisoen het meer as dubbel die aantal benoemings as sy eerste aflewering gekry.

Jennifer Coolidge, wat vanjaar reeds met ʼn Golden Globe en SAG-toekenning vir haar rol in dié program bekroon is, is vanjaar vir beste ondersteunende aktrise in ʼn drama benoem.

Sir Elton John het ook ʼn benoeming losgeslaan vir sy regstreekse TV-konsertopname, Elton John Live: Farewell From Dodger Stadium.

Die ‘Wednesday’-aktrise, Jenna Ortega. (Foto: Instagram/@E!News)

Sou hy wen, word hy uiteindelik lid van die gesogte en eksklusiewe EGOT-klub: vermaaklikheidsterre wat ʼn Emmy-, Grammy, Oscar- en Tony-toekenning gewen het.

Maroela Media het vroeër berig dat die sanger vandeesmaand sy laaste vaarwelkonsert in Stockholm, Swede, gehou het ná ʼn loopbaan van meer as 50 jaar.

Aanhangers van die Netflix-trefferreeks Wednesday het ook gejuig toe dié reeks se hoofaktrise – Jenna Ortega – Woensdagaand haar eerste Emmy-benoeming ontvang het.

Wednesday is gegrond op die bekende tekenprent The Adams Family en het een van dié stroomdiens se mees gekykte programme van alle tye geword.

Die 75ste Emmy-toekennings vind op 18 September plaas.

Hier is nog van die noemenswaardige benoemings:

Hoofakteur in ʼn dramareeks

Jeff Bridges, The Old Man (FX)

Brian Cox, Succession (HBO Max)

Kieran Culkin, Succession (HBO Max)

Bob Odenkirk, Better Call Saul (AMC)

Pedro Pascal, The Last Of Us (HBO Max)

Jeremy Strong, Succession (HBO Max)

Hoofaktrise in ʼn dramareeks

Sharon Horgan, Bad Sisters (Apple TV+)

Melanie Lynskey, Yellowjackets (Showtime)

Elisabeth Moss, The Handmaid’s Tale (Hulu)

Bella Ramsey, The Last Of Us (HBO Max)

Keri Russell, The Diplomat (Netflix)

Sarah Snook, Succession (HBO Max)

Hoofakteur in ʼn komediereeks

Bill Hader, Barry (HBO Max)

Jason Segel, Shrinking (Apple TV+)

Martin Short, Only Murders In The Building (Hulu)

Jason Sudeikis, Ted Lasso (Apple TV+)

Jeremy Allen White, The Bear (FX)

Hoofaktrise in ʼn komediereeks

Christina Applegate, Dead To Me (Netflix)

Rachel Brosnahan, The Marvelous Mrs. Maisel (Prime Video)

Quinta Brunson, Abbott Elementary (ABC)

Natasha Lyonne, Poker Face (Peacock)

Jenna Ortega, Wednesday (Netflix)

  • Bronne: AFP, The Hollywood Reporter, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JvR ·

Die lewe is n donker komedie. Nie snaaks vir die mense nie. Wel vir die toeskouers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.