Foto’s: Boer Francois en Vanessa se klein Sion hul grootste seën

Francois Fourie en Vanessa Vermaak saam met hul babaseun, Sion. (Foto: Soul birth photography/Verskaf)

“Sion Pieter Fourie gaan nog groot dinge doen. Hy is ons grootste geskenk aan mekaar en van God af.”

Só vertel Boer soek ʼn vrou se Vanessa Vermaak (45) oor haar en boer Francois (51) se nuwe spruit wat op die 19de Julie om 14:17 sy groot opwagting gemaak het.

Die paartjie, wat mekaar op die 15de seisoen van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks ontmoet het, het in Mei vanjaar hulle verlowing aangekondig en Juniemaand die nuus gedeel dat hulle binnekort ouers van hulle eie klein bulletjie gaan wees.

Hoewel die paartjie nie daarop gereken het dat hulle ouers gaan word nie, is hul “liefdesbaba” volgens Vanessa hul grootste seën. Sion beteken immers “geseënde van God”, terwyl “Pieter” beide sy oupas se eerste name, asook sy pa se tweede naam is.

Klein Sion het die wêreld vir die eerste keer gegroet in ʼn privaathospitaal in Oudtshoorn en het ʼn stewige 3,88 kg geweeg – ʼn volle kilogram swaarder as Vanessa se eerste baba wat sy op 24 gehad het.

Vanessa moes ʼn noodkeiser ondergaan omdat die naelstring om sy nekkie gedraai het, maar hy is ongeag veilig en gesond. ʼn Bewoë Francois was ook die heeltyd aan Vanessa se sy.

“Dit was so mooi om daardie kant van Francois te kon sien, veral hoe hy met verwondering na Sion gestaar het. Ons het ooreengekom dat hy sy mamma se hande en pappa se voete het, die res is steeds deel van ʼn debat,” skerts sy.

Haar swangerskapsreis, hoewel hoë-risiko weens haar ouderdom, was ook ʼn gesonde een, vertel Vanessa. “Ek was aktief en my fokus was om hierdie babatjie so veilig en gesond moontlik te hou want hierdie swangerskap was effens moeiliker as my ander twee jare terug.”

Francois was dadelik verlief op sy bulletjie. (Foto: Soul birth photography/Verskaf)

Vanessa en Francois het albei volwasse kinders uit vorige huwelike. Francois se seun is 28 en Vanessa se dogters is 24 en 21.

“Sion het nog nie sy boetie en sussies ontmoet nie, maar dit is in die pyplyn. Hulle kan nie wag nie en “video call” omtrent twee keer elke dag! Ouma kom kuier binnekort, wat baie kosbaar is omdat dit haar eerste kleinseun is. Sy wou nog altyd een gehad het.”

Hoewel sy en Francois beide meer as 20 jaar laas ʼn babatjie in die huis gehad het, het hulle hul ouerskapspiere weer vinnig opgewarm. Inteendeel glo hulle dat ouerskap nou op ander wyses makliker is.

“Ek dink nie ouerskap is iets wat mens verleer nie. My ondersteuningstelsel is so groot dat ek elke dingetjie sonder onsekerheid en met baie raad kan doen. Ek dink op ons ouderdom is dit eintlik makliker. Ek het soveel meer geduld met hom, en as ek in sy ogies kyk, maak niks anders saak nie.”

Die gesinnetjie is nog net ʼn paar dae tuis op die plaas. Francois is ook baie doenig wanneer dit by sy nuwe bulletjie kom en het volgens Vanessa reeds haar verwagtinge oortref.

“Francois help my met alles, maar ek dink ek gaan maar die een wees wat die dissipline gaan moet toepas. Hy kry te gou jammer, selfs as Sion net die kleinste huil uiter. Dis net nog ʼn nuwe mooi kant van hom wat ek nog nie gesien het nie.”

Die paartjie het in Juniemaand aangekondig dat hulle ouers gaan word. (Foto: Soul birth photography/Verskaf)

Buiten die gewone “krampies en windjies” is klein Sion ʼn baie gesonde baba. Sy ogies is ook “wawyd oop” wanneer hy in die nag gevoed word.

“Ek kan my verkyk aan hom en is so ongelooflik dankbaar vir die Here dat hy perfek en gesond is. Vir ons is hy volmaak.”

Die nuwe ouerpaar wil ook seker maak dat hulle babaseun sterk in sy geloof geanker is en in moeilike tye aan die Here vasklou.

“As ons hom onvoorwaardelike liefde kan leer, sal dit na alles anders wat mooi is toe lei. Vir my is die grootste taak om hom in die Here se weë groot te maak en soos my ander twee te laat besef dat alles net onbeskryflike genade is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MC ·

Baie baie geluk julle, julle is ‘n oulike paartjie en klein Sion is pragtig.

Trotse Boervrou ·

Elke nuwe lewe is deur God self bepaal. Klein Sion is pragtig en hy is geseën met julle as ouers. Baie geluk!

Sê maar net ·

Baie geluk! Mag die Here julle almal seën en bewaar. Geniet die laat gelukkie! :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.