Luister: Boer kry ʼn vrou … én ʼn sangmaat!

Die immergewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou het vanjaar iets baie meer spesiaal opgelewer as nét ʼn boer wat die regte pasmaat gevind het om sy lewe mee te deel.

Richann (30), een van vanjaar se topvyf boere, en sy meisie, René (26), het op die 13de seisoen van die program ontmoet en dadelik besef hulle gedeelde passie vir musiek is iets wat hulle gemeen het.

Richann, wat deeltyds musiek maak en voltyds boer op Vredefort in die Vrystaat, het ingeskryf vir die reeks omdat hy na ʼn metgesel gesoek het en die uitbundige Bloemfonteinse nooi met die engelstem het blitsvinnig sy hart gesteel.

Richann en René, wat Donderdagaand in die laaste episode van die program geskerts het dat hulle sukkel om saam te stem op ʼn naam vir hulle musiekgroep, heet nou Reën.

Hulle eerste enkelsnit getiteld “Vrystaat vlaktes” is pas uitgereik. Die liedjie bring hulde aan dié pragtige Suid-Afrikaanse landskap wat hulle twee onwetend by mekaar uitgebring het. Richann en René het saam gewerk aan die lirieke terwyl Murray Lubbe en Shan Read die melodie geskryf het.

Met hulle goedvoel-klank en passie vir musiek wat deurskemer, is dit duidelik dat hulle saam nog baie harte gaan steel as ʼn duet.

Richann en René sing saam onder die naam Reën. (Foto: Verskaf)

“Ons was op die plaas al baie gemaklik met mekaar en ons lag regtig lekker saam. Ek dink tussen my en René is die aanknopingspunt definitief op ʼn intellektuele vlak. Ek kan regtig lekker met haar gesels,” het Richann in ʼn episode van Boer soek ʼn vrou gesê.

“Sy is baie slim en sy het al baie goed gedoen en baie plekke gesien. Sy is vir my ʼn ongelooflik interessante mens en ons het al saam gesit om musiek te maak. En hoe lekker is dit nie?”

René het op haar beurt oor haar gevoelens vir Richann gepraat. “Hy is so lief vir alles wat hy doen, al verskil dit hemelsbreed van mekaar. Aan die een kant is die musiek waarvoor hy so lief is en waarmee hy so goed is en aan die ander kant is die boerdery waaroor hy net so passievol is.”

  • Richann en René het in Maroela Media se ateljee gekuier. Luister bo-aan die berig na die volledige onderhoud.
  • Volg Reën op Instagram en Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Goed gedoen. Sien hulle Saterdag 19:00 op Kraakvars, kanaal 146.

B-Man ·

Lekker bermarking gekry op TV… Ek glo darem dit sal beter musiek wees as baie van die ander “kunstenaars” in die bedryf. Hou van julle en sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.