Stephanie Baartman se stadsliggiedrome het waar geword

Stephanie Baartman. (Stephanie Baartman/Instagram)

Agterop ’n bakkie saam met ’n studentevriendin en latere kamermaat Hildegardt Whites, het Stephanie Baartman die Kaap verlaat om haar dramadrome tussen die glinsterende stadsliggies van Gauteng te volg.

Deesdae is Baartman ʼn bekende en geliefde gesig op die televisieskerm, terwyl haar innemende glimlag en vriendelike teenwoordigheid boekdele oor dié nederige aktrise spreek.

Baartman (36) het haar televisiedebuut gemaak in die derde seisoen van die sangtalentkompetisie Supersterre. Daarna het sy diep in kykers se harte gekruip met haar rol van Bianca “Bibi” Bhele in die kykNET-sepie Getroud met Rugby.

Sy het egter onlangs die hoë hakskoene van Bibi, vir die karakter Lettie Adonis van Diepe Waters se voorskoot verruil.

Die telenovelle, wat Maandag afgeskop het, speel in die wêreld van ’n swemklub af, en Baartman verklap dat sy aanvanklik nie geweet het sy gaan moet swem om in Diepe Waters te verskyn nie.

Diegene wat getrou agter die kassie ingeskuif het om Getroud met Rugby te kyk, sal weet dat Baartman nie net ’n talentvolle aktrise is nie, maar dat sy bekoor met ’n nagtegaalstem wat sy gereeld in dié sepie gebruik het.

Dié liefde vir musiek is iets wat van kindsbeen af gekweek is, aangesien Baartman se ma ook ’n sangeres is.

Sy raak bewoë wanneer sy praat oor die impak van Bibi en die musiek wat hand in hand met die karakter geloop het.

“Ons het ongelooflik baie liedjies gesing en opgeneem. Ek hoop om eendag dit as album te kan uitreik – ek luister nog gereeld daarna, dit is my herinnering van Bibi.”

Baartman is in Humansdorp in die Oos-Kaap gebore en het in ’n Kaapse pastoriehuis grootgeword nadat haar gesin na die Wes-Kaap verhuis het toe sy een jaar oud was.

“Ek was in ʼn stadium hoof van die koor en Sondagskool,” vertel sy nostalgies.

“Altyd die een wat eerste hand opgesteek het om aan aktiwiteite deel te neem – ek moes mos die voorbeeld stel.”

Stephanie Baartman as Lettie Adonis in “Diepe Waters”. (Foto: kykNET)

Op 18 het Baartman voor ’n kruispad gestaan. Sy het geweet dat haar hart na toneelspel hunker, maar presies hóé sy die droom ’n werklikheid gaan maak, kon sy nog nie uitpluis nie. Daarmee, het sy toe besluit om eerder ’n jaar te neem om te verken waarheen haar lewe en loopbaan op pad was.

Dié jaar het Baartman aan die Here gewy.

“Daardie jare het ons dit ’n ‘diensjaar vir Christus’ genoem. Ons het elke liewe dag kerk toe gegaan. Jy kry Bybelopleiding om na skole toe te gaan en die Woord van die Here daar te gaan deel,” vertel sy.

Sy het saam met die res van die groep wat saam het haar die diensjaar gedoen het, opvoerings gedoen wat temas soos dwelms en prostitusie aangespreek het.

“Ons het kinders se lewens na die Here gedraai.”

Sy het ook die geleentheid gekry om die wêreld plat te toer, en kon onder meer lande soos Duitsland, Portugal en Mosambiek besoek.

“Dit was ’n reusebelewenis vir my gewees. Die heel eerste keer wat ek ooit gevlieg het, was Duitsland toe. Dink jou in! Ek was nog nooit eers uit die Kaap nie, toe kon ek skielik Duitsland sien.”

Dié jaar het nie net geestelike groei vir Baartman teweeggebring nie, maar het haar ook laat besef presies waarheen haar lewenspad op pad is.

Ná ’n jaar by die Northlink College in Panorama in die Kaap, waar Baartman drama studeer het, het ’n deur vir haar oopgemaak wat haar voete onder haar uitgeslaan het.

Woutrine Theron, wat destyds die hoof van drama by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) was, het by drama-eksamenlokale ingeglip om talentvolle jong studente te identifiseer.

“Ons het gedink dat sy bloot net daar is om te help merk. Vyf van ons is toe gekies om in Pretoria verder te gaan studeer.”

Solomon Cupido en Bradley Olivier het óók deel van dié groep studente gevorm.

“Dit was ’n reuse-avontuur gewees. Selfs al het ons gereis tydens die diensjaar, was ons steeds in ’n beskermde omgewing,” vertel sy.

“Toe ons in Pretoria aankom was die bollas los.”

Dit was hiér waar Baartman en Whites kamermaats geword het. Met ’n braaipan, ’n paar kastrolle, bietjie kruideniersware en hul klere het dié twee jong, entoesiastiese aktrises hul eie potjie begin krap.

Ná vier maande in ’n woonstel, is dié vriendinpaar op ’n dag in hul woonstelgebou se hysbak beroof.

“Ons ouers het onmiddellik besluit om ons koshuis toe te stuur. Daar het ons natuurlik wonderlike herinneringe gemaak. Dis waar ons studentelewe regtig begin het.”

Sy vertel dat sy grootgeword het met die idee dat sy nie eintlik mooi is nie.

“My pa is Xhosa en my ma kleurling, ek het nie soos die res van die mense rondom my gelyk nie.”

Dit was vir haar ’n reuseskok om in Pretoria aan te kom en komplimente oor haar voorkoms te kry. Dit het die beeld wat sy van haarself deur haar vormingsjare geskep het, uitgedaag om te verander.

Die teenwoordigheid van Afrikaans in Pretoria het haar ook tuis laat voel.

“Dit was lekker om nog my eie taal te kon praat en blootgestel te kon word aan kulture en mense wat ek in die Kaap nie mee te doen gehad het nie.”

In haar derdejaar van studies het ’n nuweling in haar lewe verskyn, sy het swanger geword.

Stephanie Baartman op een van haar laaste dae op die stel van “Getroud met rugby”. (Foto: Stephanie Baartman/Instagram)

Haar dogter, wat amper 14 is, en haar seun van 10 vorm deel van haar toewyding tot haar loopbaan.

“Dit is deel van die storie wat ek vertel. Ek werk vreeslik hard sodat ek vir mense kan wys dat mens steeds groot goed in die lewe kan bereik, ongeag wat jou agtergrond of storie is.

“Daar is ’n stigma rondom vroue wat op ’n jonger ouderdom kinders kry. Mense glo hulle gaan niks bereik nie. Dit mag dalk langer vat, en ander mense wat nie dieselfde pad as ek gestap het nie, mag dalk vroeër by hul doelwit uitkom, maar dit beteken nie dat ek nie ook daarby kon uitkom nie.”

Baartman het vroeër vanjaar op ʼn 12 week lange gesondheidsreis gegaan waar sy sowat 30 kilogram afgeskud het. Haar gesondheid en kinders het haar gemotiveer om gesonder te begin leef. Sy vertel egter dat sy in die proses haar skaal vir haarself weggesteek het, aangesien drastiese gewigsverlies dikwels veroorsaak dat mens ’n obsessie met die skaal se syfers ontwikkel.

“Ek probeer dit op ’n gesonde manier doen. Mens moet weet, soms is mens lus vir ’n sjokoladekoek. Soms is jy glad nie in die bui vir die gimnasium nie. Jy moet genade met jouself hê.

“Ek stel ook ’n voorbeeld vir my dogter, ek hou dit altyd in gedagte.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hannelie ·

So ‘n pragtige vrou met die mooiste mooiste stem. Gelukkig sien ons “Bibi” al is dit in ‘n ander gedaante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.