Trouklokke lui vir ‘BSV’ se Johan, Esmerélda

Johan en Esmerélda Lombard saam met gaste op hulle troue. (Foto: Instagram/Theuns Louw)

Johan Lombard en Esmerélda van Wyk, albei deelnemers aan die vorige seisoen van die kykNET-program Boer soek ʼn vrou, het Saterdag voor die kansel gestaan.

Die troue het by die Oranje-gasteplaas naby Clarens op die grens van Lesotho plaasgevind.

Petré Vermeulen en Lourize Kock, asook Alri Vorster en Tyson Zunckel, wat mekaar ook tydens die 14de seisoen van die program ontmoet het, was gaste op die troue. Alri en Tyson staan ook eersdaags voor die kansel.

“Beste date vir die lekkerste troue,” het Lourize op Instagram geskryf by ʼn foto van haar en Petré op die troue.

Willem Lubbe en Carel du Preez, wat ook deel was van die 14de seisoen se groep boere wat op soek was na liefde, het ook die troue bygewoon.

“Een boer minder soek ʼn vrou,” het Willem geskerts.

Johan en Esmerélda het in Julie vanjaar verloof geraak. (Foto: Instagram/Esmerélda Lombard)

Esmerélda (29), wat aanvanklik op Nelis Leonard se plaas op die Vaal Marina in Gauteng gekuier het, het uiteindelik liefde in die Vrystaat op Johan (29) se plaas in Marquard gevind.

Johan en Esmerélda het ʼn paartjie geraak nadat haar en Nelis se paaie geskei het. Johan en Arina Toua het tydens die reünieprogram in April verlede jaar gesê dat hulle besluit het om net vriende te wees. Dié episode is reeds die vorige Desember verfilm.

Johan het Esmerélda op 20 Maart amptelik gevra om sy meisie te wees en in Julie het die paartjie hul verlowing op Instagram bekend gemaak.

“As jy so lank alleen is, weet jy wat jy wil hê. En ek weet ek en Esmerélda hoort bymekaar,” het Johan vroeër aan Maroela Media gesê.

Carel du Preez, Alri Vorster, Tyson Zunckel, Petré Vermeulen, Lourize Koch, Willem Lubbe en sy metgesel het die troue bygewoon. (Foto: Instagram/Alri Vorster)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.