Sesling in Pole gebore

Argieffoto (Foto: SeppH/Pixabay)

ʼn 29-jarige vrou het Maandag geboorte geskenk aan ses babas in Pole – die land se eerste geval ooit waar ʼn sesling gebore is. Dit gaan goed met die ma en haar ses babas.

Die babas, vier dogtertjies en twee seuntjies, is met ʼn keisersnee gebore by Universiteitshospitaal in Krakow in die suide van Pole.

Die babas is in die 29ste week van swangerskap gebore en wissel van 890 g tot 1,3 kg, het die hospitaal se woordvoerder, Maria Wlodkowska, gesê. Dit gaan goed met die babas, maar hulle is in broeikaste geplaas om hul ontwikkeling aan te help.

Slegs een in nagenoeg 5 miljard swangerskappe is seslinge.

“Dit is die eerste keer in Pole wat ʼn sesling gebore word, en dit is baie seldsaam,” het die hoof van die hospitaal se neonatale sorgeenheid, prof. Ryszard Lauterbach, gesê. Dit was ʼn verrassing, want dokters het slegs vyf babas verwag. “Ons het vyf spanne met vyf broeikaste op bystand gehad en al die kaste was reeds vol toe nog ʼn baba, ʼn dogtertjie, gebore is.”

Hy het dokters geloof dat hulle die vrou tot haar 29ste week van swangerskap kon help.

Pres. Andrzej Duda het die ouers en die dokters op Twitter gelukgewens. Die plaaslike sokkerklub, Cracovia, het lewenslange kaartjies aangebied en gesê hulle hou duimvas vir die babas. “Ons weet nie watter span jul ouers ondersteun nie, maar julle, die kinders, het almal permanente toegang tot kaartjies,” het die klub op Twitter gesê.

Die babas het ʼn ouer boetie wat twee en ʼn half jaar oud is.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vrou in Houston, Texas in die VSA, het op 15 Maart 2019 ook geboorte geskenk aan ʼn sesling. Thelma Chiaka se sesling – vier seuns en twee dogtertjies, is almal binne 10 minute in The Woman’s Hospital in Texas gebore. Hulle het tussen 508 gram en 970 gram geweeg.

ʼn Vyfling is in 2008 in dieselfde hospitaal in Pole gebore. Hulle is in die 26ste week van swangerskap gebore en het tussen 570 g en 800 g geweeg. Ná drie maande in die hospitaal is hulle ontslaan en hulle het onlangs die hospitaal saam met hul ouers besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elsie Riekert ·

My sportiewe kleindogter lyk soos jy, meisie, en is ook lief vir sport. Ek kan net dink watter slag is jou siekte. Julle is n gelowige gesin en die Here verhoor julle gebede. Mag die behandeling in Duitsland slaag. Ek bid vir jou en jou geliefdes en vir die medici.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.