Ilse Salzwedel floreer

Ilse Salzwedel (Foto: Verskaf)

Sy het genoeg tragedies in haar lewe beleef om die meeste van ons te knak. Maar Ilse Salzwedel, bekende joernalis, skrywer van onder meer die topverkoper Bloedsusters en aanbieder van die gewilde RSG-program Skrywers en Boeke, het besluit om te floreer, eerder as om te krepeer.

Floreer is die titel van haar jongste boek wat glad nie prekerig of stroperig is nie, maar gebaseer is op traumatiese ervarings wat sy en ander al beleef het en hoe ’n belangrike rol veerkragtigheid in die hantering daarvan kan vertolk. In haar eie lewe was daar die verskriklike motorongeluk waarin haar ma in haar arms gesterf het en sy agterna na haar verswakte pa moes omsien, die feit dat haar dogter in ’n stadium gemolesteer is, haar egskeiding van ’n alkoholis wat geen rol in haar kinders se lewe vertolk het nie, enkelouerskap en oor hoe hard en wyd sy moes werk om die spreekwoordelike pot aan die kook te hou. Dis te verstane dat uitbranding gevolg het. Asof dit nie genoeg was nie, het sy ’n groot deel van haar inkomste verloor toe rooi rose nes dosyne ander tydskrifte, weens die pandemie moes vou.

Ilse het egter besluit om op te staan eerder as om te bly lê. En in Floreer deel sy waardevolle wenke aan die hand van kenners op verskeie vakgebiede se raad, wat sy stap vir stap met lesers deel.

Flink het vir haar ’n paar vrae gevra:

 Is almal met veerkragtigheid gebore?

“Ja. Dis hoekom die menslike ras tot hier kon oorleef. Ek dink ons vergeet net so bietjie weens die lawaai van die lewe om ons. Mens sien mos eers ’n teesakkie se krag wanneer hy in kookwater beland – net so met ’n mens. Ons het dalk net nie altyd besef dit wat ons dryf, is wat geleerdes veerkragtigheid noem nie. Ja, ek dink my kinderjare het ’n rol gespeel. My ouers het ons beslis veerkragtig, vasbeslote en hardwerkend grootgemaak. En miskien is jy reg oor die Namibiese invloed. (Sy het in Namibië grootgeword.) Die mense daar is taai. My verre voorouers was Duits en Iers (my nooiensvan was Herselman), maar ek is so Afrikaans soos kan kom. En ons is mos maar in elk geval ’n taai, hardkoppige klomp kanniedoods.

In die eerste hoofstuk van Floreer haal jy Yasmin Mogahed aan wat sê: “Veerkragtigheid beteken jy aanvaar, jy voel, jy misluk, jy kry seer. Jy val. Maar jy hou aan.” Wat was jou grootste motivering? Enkelouerskap?

Ja, en my bankbestuurder (lag). Maar ernstig: ’n enkelouer het nie ’n keuse nie. Jy moet eenvoudig opstaan en weer probeer ter wille van jou kinders. Daar is geen ander opsie nie. Ek het myself ook herinner hoeveel beter ek daaraan toe was as ander mense om my. Ek kon byvoorbeeld harder werk en ekstra geld verdien – nie almal is so bevoorreg om ekstra geld te kan verdien nie. Buitendien is ons kinders nie grootgemaak om klaers te wees nie, maar doeners. Ek verpes dit as mense net rondsit en kla sonder om eers te probeer om hul lot te verander.

 Floreer is hoogs toeganklik en daar is ook baie aanhalings van wysgere. Ek dink een van die belangrikste dinge wat sterk, onafhanklike mense die meeste mee sukkel, is om hulp te vra. Was dit met jou ook die geval?

Beslis! Ek moes maar op die harde manier leer dat ’n mens moet hulp vra. Dis dikwels ons trots wat ons keer. Maar ek voel as jy self graag help, moet jy soms bereid wees om ook ander se hulp te aanvaar. Ons is nie geskape om in ’n borrel van isolasie te leef nie, en ons vriende en familie is dikwels meer as gereed en gewillig om te help. Aanvaar die hulp “and pay it forward”. Help weer iemand anders in nood, en so kan ’n mens van die wêreld om jou ’n beter plek help maak.

Jy beskryf die eienskappe van veerkragtige mense soos volg: Hulle kan situasies ontleed en identifiseer wat die probleem is, hulle kan hulle emosies hanteer, hulle bly kalm en gefokus in stresvolle omstandighede, hulle is realisties, hulle vertrou hulself, hulle is empaties, hulle is hul eie rasieleiers, hulle vra nie hoekom nie maar hoe, hulle doen eerder as om rond te sit en kla, hulle weet die lewe skuld hulle niks, hulle leef met groter dankbaarheid, hulle aanvaar dat verandering deel van die lewe is, hulle is bereid om hul perspektief aan te pas as dinge verander, hulle geniet die oomblik en leef meer bewustelik en hulle is bereid om hulp te vra. Watter hiervan was vir jou die moeilikste/maklikste? Die “bottom line” is dat mens nie ’n smartvraat hoef te wees nie. Jy het altyd ’n keuse. Kommentaar?

Niks van val en opstaan is maklik of lekker nie, maar gelukkig leer mens uit elke ervaring. En as jy genoeg kere geval het, skop jou “muscle memory” seker maar in. Jy doen wat jy moet doen om op te staan en te oorleef. Jy dink nie aan jouself as veerkragtig of besonders nie. Jy probeer bloot oorleef. Maar ja, al het ’n mens nie ’n keuse oor wat met jou gebeur nie, het jy altyd ’n keuse oor jou reaksie daarop. En dis waar veerkragtigheid inkom. In my boek probeer ek ’n padkaart skep vir veerkragtigheid. Ek dink regtig as jy in gewone omstandighede kan leer om die lewe anders te benader, sal jy ’n krisis ook beter hanteer. 

 Jy kom voor as ’n baie sterk, suksesvolle, selfversekerde en realistiese mens. Hoeveel skrywers sou nie hul oogtande gee om Skrywers en Boeke aan te bied nie? Ek weet jy is ’n volslae boekwurm. Maar jy het ook ’n wonderlike humorsin. Humor help seker ook want ons wil nie net wroeg nie.

Ek is sedert 2008 aktief by Boekewêreld betrokke. Dis ’n fantastiese werk. Nie net omdat ek so baie boeke kry om te lees nie, maar ook omdat ek kan bydra tot ’n liefde vir boeke en ’n leeskultuur in Afrikaans. Dis ook wonderlik om luisteraars raak te loop en te hoor wat radio vir hulle beteken. Ons mag nooit ophou baklei vir die voortbestaan van die SABC nie – dis miljoene mense se enigste bron van inligting en geselskap. Veral radio.

Oor humor: Ja, dis absoluut noodsaaklik. My ma (soos alle mense van haar generasie seker maar) het altyd gesê van lekker lag kom lekker huil. Ek glo die teenoorgestelde: lekker lag keer dikwels huil. En gee perspektief. Ons lewe in moeilike tye, en lag is broodnodig. Die grootste mite? Dis glad nie ’n glansloopbaan nie. Vergeet maar van The Devil Wears Prada. Dis eerder ’n geval van Oorwerkte Vryskutjoernalis dra Mr Price.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Flink geplaas. Flink is die FAK se maandelikse aanlyn tydskrif. Dit spog deesdae nie net met nuus van dié kultuurorganisasie nie, maar ook van die Voortrekkermonument en Die Erfenisstigting. Dis nou buiten al die ander lekkerleesstories, boekresensies, resepte en CD-resensie. Klik hier om die Julie-uitgawe van Flink te lees.
  • Lees meer oor Floreer, asook ’n resensie van dié boek op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.