Koop een van dié 7 boeke vir Vadersdag

Van ʼn kleurvolle versameling foto’s uit die Anglo-Boereoorlog en kortverhale deur PG du Plessis en Dana Snyman, tot ʼn reisgids en ʼn nuwe Carel Bester-roman uit Rudie van Rensburg se pen.

Hier is sewe voorstelle vir boeke waarmee jy die pa, oupa of man in jou lewe kan bederf.

Die Anglo-Boereoorlog in kleur deur Tinus le Roux (Jonathan Ball)

Tonele en rolspelers uit die Anglo-Boereoorlog kry nuwe lewe in hierdie unieke versameling foto’s wat lewensgetrou ingekleur is. Dit bring ʼn vars perspektief op een van die belangrikste historiese gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Volume 1 handel oor die konvensionele fase van die oorlog van Oktober 1899 tot Junie 1900 met lord Roberts se besetting van die Boererepublieke. Die foto’s wys die Boeremagte se invalle in Natal en die Kaapkolonie, die besetting van Ladysmith, Kimberley en Mafeking, en van die bekendste slagvelde van die oorlog.

Lesers sal talle ikoniese foto’s in Die Anglo-Boereoorlog in kleur raaksien, maar ook verskeie wat nog nooit tevore gepubliseer is nie. Honderde boeke het die afgelope 120 jaar oor die oorlog verskyn, maar dit is die eerste een in volkleur.

Klik hier om Die Anglo-Boereoorlog in kleur aan te skaf.

In die tyd van die gif deur Dana Snyman (NB-Uitgewers)

Min sou Dana Snyman weet toe hy na die Rugbywêreldbeker-eindstryd op Rondomskrik kyk dat die euforie van dié oomblik kortstondig sou wees; dat ons lewe binnekort handomkeer sou verander. Snyman verwoord die ervaring van die daaropvolgende 18 maande – van rugbytriomf tot treur en vertwyfeling – in ʼn nuwe bundel kortverhale.

Snyman se kenmerkende fyn waarneming en deurleefde wysheid maak In die tyd van die gif ʼn boek wat gelees moet word. Daar is pyn en verlies, maar ook geloof en hoop – en ʼn goeie blomjaar. Dan kry hy self ook Covid-19.

Koöperasiestories deur PG du Plessis (NB-Uitgewers)

PG du Plessis was een van Afrikaans se meestervertellers. En met Koöperasiestories wat ook as ʼn televisiereeks uitgesaai is, het hy volksbesit geword.

Hierdie heruitgawe bevat ʼn keur van die gewildste humoristiese kortverhale oor die lief en leed van die mense op die dorp Gezinasrus. Flambojante karakters soos Veldsman, Genis, Vissertjie, Myta, Oom Botes en die Pieterses kruip ondanks hulle stommighede en streke diep in ʼn mens se hart.

Koöperasiestories bevat 30 kortverhale en sluit onder meer gunstelinge in soos “Skeef gelaai”, “Soontjie”, “Merk haar vir my”, “Die man wat so kon spu”, “Liefde is ʼn winskoop”, “Dubbele kyk in die oog”, “Milky bar”, “Eksterminasie”, “ʼn Ruikertjie geelperskes”, “ʼn Dier in pyn”, “Om ʼn vrou aan te kleef” en “Die snorkmasjien”.

Monster deur Rudie van Rensburg (NB-Uitgewers)

Die laaste voerings van oudpolisiespeurder Carl Bester se lewe torring los toe sy verhouding met Sarah Theron eindig. Dit bring hom by ʼn kruispad, en hy sluit aan by die Kaapse tak van Mercurius, ʼn gesiglose steunpilaar van die CIA.

Intussen word ʼn wêreldbekende Saoediese joernalis in ʼn konsulaat in Istanbul vermoor, met ʼn Suid-Afrikaanse joernalis as onwillige ooggetuie. Hy besef hy hou dinamiet in sy hand vas. Maar as hy sy kaarte reg speel, wen hy dalk ʼn sorgelose nuwe lewe.

Gevolge van dié joernalis se besluite kring uit na Kaapstad, waar Carl opdrag kry om die saak te hanteer. Saoediese agente en ʼn siellose mesmoordenaar is maar twee van die monster se vele tentakels wat Carl een-een moet afkap.

  • Klik hier om Monster aan te skaf.

Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713 deur Dan Sleigh (NB-Uitgewers)

Dit is 1713. VOC-admiraal Johannes van Steelant bring sy ryklik belaaide retoervloot terug na Nederland uit Batavia. Saam op die vlagskip, sy vyf jong kinders. Hulle word een-een siek – die gevreesde kinderpokke. Op 12 Februarie gaan die gesin aan land in Tafelbaai. Enkele maande later is sowat die helfte van die Kaapse bevolking aan pokke dood.

In Retoervloot – Kaapstad en die VOC in 1713 bring VOC-kenner Dan Sleigh dié gegewe, en die verbysterende werkinge van die VOC-retoervlootstelsel, lewend voor die oog.

Van Humpata tot Upingtonia deur Nicol Stassen (Protea Boekhuis)

Nicol Stassen is die voorste kenner van die Dorslandtrekkers en hulle merkwaardige swerftogte in die binneland van Suider-Afrika.

In Van Humpata tot Upingtonia vertel Stassen hoe dit gebeur het dat ʼn aantal trekkers in 1885 die republiek Upingtonia in die noorde van Damaraland gestig het. Die Kaapse bruin man William Worthington Jordan, een van die merkwaardigste persone wat in hierdie jare in Suider-Afrika geleef het, het ʼn belangrike rol in die totstandkoming van dié republiek gespeel. Sy tragiese dood en die ondergang van die vergete republiek Upingtonia word van nader bekyk.

Voetspore in Suid-Afrika 2 saamgestel deur Johan Badenhorst (Protea Boekhuis)

Suid-Afrika is groot genoeg vir ʼn leeftyd se reise. In Voetspore in Suid-Afrika 2 kry die Voetspore-span weer die geleentheid om ons land se natuurskoon en gasvryheid te beleef. Hulle drie maande lange reis begin in Pafuri, in die noordoostelike hoek van Suid-Afrika. Van daar af strek dit verby Klaserie, Dullstroom, die Waterberge, die Suid-Vrystaat, die Groot-Karoo, die Sederberge, die Weskus, oor die Hottentots-Hollandberge tot by Agulhas, die suidpunt van Suid-Afrika. Vrystaatse vlaktes, grootse Drakensberge, Bosveld, Kaapse strande – noem maar op – daar is ʼn oorvloed om te geniet. Die langpad in Suid-Afrika roep …

Het jy geweet? Graffiti Boeke in Pretoria lewer landwyd af. Besoek Graffiti Boeke se webwerf vir die jongste fiksie-, niefiksie- en kinderboeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerra ·

Gmpf! Na Johan Badenhorst se negatiewe kommentaar oor Orania, wat meer vermag en doen vir hul inwoners, kan hy maar sy boek hou.
Hoekom hy en baie wil hê die wêreld móét net soos hulle dink, doen en vetval verstaan ek nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.