RSG se Amore groet ná 20 jaar

RSG se Amore Bekker. (Foto: Verskaf)

Amore Bekker, een van RSG se gewildste en bekroonde radio-omroepers, gaan na sowat twee dekades ʼn nuwe koers, weg van die radiomikrofoon af, inslaan.

Op Vrydag 28 April sal Amore vir oulaas van 09:00 tot 12:00 haar oggendprogram, Alhoebekker, aanbied. Op die vraag oor wat die toekoms vir haar inhou, antwoord sy dat daar afgesien van meer praatjies, stemwerk en toneel speel, ‘niks groots’ vir haar voorlê nie.

“Ek is dankbaar om elke dag drie keer te eet, en ek sal graag meer stemwerk vir advertensies wil doen, maar ek wil beslis geen berg gaan uitklim nie, en ek wil ook nie vir ʼn doktorsgraad gaan studeer nie. Eintlik wil ek so min as moontlik doen, want die lewe beweeg teen ʼn verbysterende spoed.”

Sy gaan dalk nie berg klim nie, maar van 14 tot 22 April gaan Amore haar stapstewels aantrek en die sowat 166 km tussen Williston na Verneukpan aandurf ten bate van droogtegeteisterde gemeenskappe in die Noord-Kaap. Dié staptog staan as die Tankwa-Camino bekend.

Amore se besluit om ʼn nuwe koers in te slaan het ook te doen met haar gevoel dat ʼn mens moet groet voordat mense jou wil groet, en dat jy nie langer op ʼn plek moet bly as wat jy welkom is nie.

“Jy moet ook só groet, dat jy altyd weer kan terugkom, as jy wou. Ek is dankbaar dat ek vir 20 jaar by RSG kon uitsaai. Ek het soveel geleer en beleef, dit was die perfekte leerskool vir my op alle vlakke.  Dankie, dankie!”

Volgens Louise Jooste, RSG se sakebestuurder, is Amore ʼn legende in die Afrikaanse uitsaaibedryf. “Sy verstaan die intimiteit en mag van die medium, en sy is ʼn oorrompelende storieverteller wat vir soveel onvergeetlike uitsaai-oomblikke en -projekte gesorg het. Sy laat ʼn reuse-leemte en diep voetspore, sy sal vir lank onthou word.”

In ʼn onderhoud met Maroela Media het Amore oor haar liefde vir taal, mense en kos gesels.

Vir Amore is dit belangriker dat sprekers van die taal mekaar verstaan en hulle harte uitpraat, eerder as om die heeltyd op korrekte taalgebruik te fokus. “Afrikaans is so lewendig, en ek voel ons moet die sirkel wyer trek sodat die lekkerte van die taal met ander mense gedeel kan word. ʼn Mens moet dit nie net vir jouself hou nie.”

Sy glo ook dat ʼn mens die genot van kos en samesyn met mense moet deel, en nie noodwendig in die vorm van ʼn formeel gedekte tafel, fênsie kos of duur porselein nie. Vir haar lê die grootste lekkerte in die eenvoud van ʼn karmenaadjie, of eenvoudig ʼn tjoppie.

“Jy weet, as dit die dag ‘bewolk’ gaan met my, dan maak ek disse wat my ouma gemaak het. My ma het dit nie eens gemaak nie. Daai disse van eenvoud: ʼn tjoppie in ʼn ysterpot met wonderpeper, sout en naeltjies. Dit is al. Jy kan mos nie so dis in Engels aanmekaarslaan nie? Dit vat my terug na my wortels toe. Taal, kos, liefde … al daai goeters is so ineen.”

Sy is tans die beskermvrou vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se Borg ʼn Woord-veldtog, en glo dat dit ʼn wonderlike geleentheid is om die taal en die WAT te ondersteun.

Amore het in 2003 die omroeperspos vir Brêkfis met Bekker, die ontbytprogram wat Saterdagoggende uitgesaai word, by RSG aanvaar. Later het Derrick Gardner die leisels by haar oorgeneem. Sy het toe begin om die middagprogram, Tjailatyd, aan te bied, en in 2019 het sy die aanbieder van Alhoebekker geword.

Tjailatyd het tot die publikasie van haar Tjailaresepte-boeke gelei. Later het Hartstories – Huis toe met ʼn ligter tred gevolg. Dié boek is geskoei op die “Saamrystories” wat Bekker in haar program op lug voorgelees het. Een van die gewilde insetsels op Tjailatyd was stories oor toevallighede, wat Bekker omskryf het as “Toe-Val-Lig”, en daaruit het óók ʼn gewilde boek gevolg.

Amore het  ʼn ATKV-Mediaveertjie vir die “Bottels vir Beaufort”-projek gewen. Met dié projek het sy mense landwyd aangemoedig om water na die droogtegeteisterde Beaufort-Wes te stuur. Sy het ook twee ATKV-Mediaveertjie vir Tjailatyd, en een vir haar onderhoud met wyle Aartsbiskop Desmond Tutu, ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Mariana ·

Sterkte Amore, jou stem sal gemis word. Doen wat jou gelukkig maak. Jy is meer as net jou stem oor die radio. Laat dit met jou goed gaan.

OW ·

Baie sterkte met jou pad wat voorlê,Amoré.Jou stem op RSG gaan verseker gemis word.Jy en Mariétta Kruger is twee van ons vroue legende omroepers op RSG,wat seker net een maal in ‘n leeftyd gebeur.

Marius ·

Baie sterkte vir die pad vorentoe Amore. Jy sal gemis word.

kragaap ·

“So het alles maar sy tyd” – Elvis woon in Niekerkshoop van Zinkplaat.

Harley Davidson ·

Dit is baie sad ek luister radio sonder mense net na haar program voordat ek oorsit na bosveld stereo, sy gaan baie gemis word veral die feit dat ons ook ‘n verjaarsdag deel.

Anna84 ·

Dis baie jammer, sy was nou regtig een van die min waarna ek graag nog op radio sou wou luister. Geniet die nuwe hoofstuk!!

Nommer 7 ·

I wish you good luck as I wave you good-bye! Dankie vir vanaf Goeie Hoop Radio tot nou. Jy was nog altyd, en sal vir altyd my gunsteling omroeper bly.

Jannie van Niekerk ·

Neewat RSG sonder Amore sal nie weer dieselfde wees nie. Tot my pappaegaai onthou haar nog van Tjailatyd af want klokslag elke dag om en by drie uur se kanmt sê ou Wally Pappegaai: “Dis Tjailatyd goeiemddig!”

Strandloper ·

Jy is n Alhoebekker, ek het weer n span Lekkerbekkkies en n spreekwoord van my Bekkies kan, wil en sal vir niks stuit nie. Gaan jou Bekkie mis!

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Ai Amore, ek wens jy het geweet hoe baie ons jou gaan mis. Jy is sinoniem met radio en Afrikaans, jou stem troos en jou positiwiteit en opgewektheid is regtig aansteeklik. Gaan jou goed ystervrou, jy sal altyd onthou word vir die wonderlike mens wie jy is. Jy moet weet jou plekkie is verseker in die anale van ons soete, mooie taal. My hart is sommer seer!

Pierre ·

Luisteraars moet RSG ook maar groet het hulle lankal terug afgeskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.