Die impak van Khashoggi se moord op politiek bekyk

’n Man met ’n plakkaat van die Saoedi-joernalis Jamal Khashoggi naby die Saoedi-Arabiese konsulaat in Istanbul. Khashoggi, ’n 59-jarige veteraanjoernalis wat in ballingskap in die VSA gewoon het, het 2 Oktober tydens ’n besoek aan die konsulaat om dokumente te kry om met sy Turkse verloofde te trou, verdwyn. Dit is later bevestig dat hy vermoor is. (Foto: Emrah Gurel, AP)

Die internasionale politiek in en rondom die Midde-Ooste is al dekades lank omgekrap. Maar dis pas verder omgewoel deur die moord op ’n Saoediese joernalis, Jamal Khashoggi.

Verskeie elemente maak dat die moord vinnig tot ’n krisis eskaleer. Dis nodig om eers die agtergrond volledig te skets.

Khashoggi, ’n burger van Saoedi-Arabië, is ’n uitgeweke dissident wat artikels vir The Washington Post skryf. Hy is hoogs krities op sy land se diktatuur en soek groter vryheid en demokrasie, iets wat hom hoogs ongewild by die Saoediese heersers maak.

Aan die ander kant van die kryt staan die Saoediese koninklike familie. Koning Salman is al oud en sieklik en speel geen rol van betekenis meer nie. Sy seun, kroonprins Mohammed bin Salman (33), is die effektiewe heerser.

Saoedi-Arabië het sedert die Tweede Wêreldoorlog biljoene verdien deur die yslike olierykdomme onder die woestynsand. Die politieke stelsel berus op ’n kompromis uit die agtiende eeu tussen die destydse koning Mohammed bin Saoed en die geestelike leier Muhammad ibn Abd al-Wahhab, stigter van die ultra-ortodokse, fundamentalistiese rigting wat vandag as die Wahabisme bekend staan.

Die kompromis het daarop neergekom dat die geestelikheid die koningshuis sou steun, solank die Wahabisme as die amptelike godsdiens van die koninkryk beskerm word. Die aanwesigheid van die ongelooflike rykdom, wat grotendeels deur die groot koninklike familie in beslag geneem word, het egter aanleiding gegee tot grootskaalse magsmisbruik en korrupsie.

In die lig van die land se strategiese belang – olie is nodig om die wêreldekonomie se ratte te smeer – is ’n stilswyende ooreenkoms tussen die koninklike huis en die Weste aangegaan: Saoedi-Arabië sou internasionaal ’n pro-Westerse koers vaar en die lewering van olie waarborg, terwyl die Weste sy mond hou oor die Middeleeuse politieke en maatskaplike wantoestande in die oliemoondheid.

Toe Mohammed die leisels oorgeneem het, het hy onmiddellik begin met stappe om talle agterlike situasies in sy land te hervorm. So het hy die magte van die religieuse polisie ingekort en vroue meer regte begin verleen – stappe wat die verwagtings in die Weste aangewakker het.

Maar die kroonprins het terselfdertyd die mag van die diktatuur en die vervolging van dissidente verskerp. Dis teen dié agtergrond dat die moord op Jamal Khashoggi gesien moet word. Mohammed hou nie van andersdenkendes nie.

Khashoggi het onlangs die Saoediese konsulaat in Istanboel besoek. Hy wou trou, maar moes dokumentêre bewys voorlê dat hy nie reeds getroud was nie.

Hy is op kringtelevisie afgeneem waar hy die gebou binnegaan. Hy het dit nooit weer verlaat nie.

Volgens geluid- en beeldopnames wat die Turkse veiligheidsdiens glo het, is Khashoggi aangerand, gemartel en vermoor. Sy liggaam is daarna in verskeie dele opgekap en na buite gesmokkel.

Nou is daar ’n paar faktore wat dit méér as net ’n gewone moord maak.

Die eerste is dat pres. Donald Trump van Amerika baie in ’n bondgenootskap met Saoedi-Arabië belê het. Trump se heel eerste oorsese staatsbesoek ná sy inhuldiging was juis aan Riaad.

Afgesien van die olie, is Trump se groot doel in die Midde-Ooste die isolasie van Iran en, indien moontlik, die omverwerping van dié land se regime. Daarvoor is Saoedi-Arabië se steun nodig.

Die probleem is dat Saoedi-Arabië onder kroonprins Mohammed se leiding ’n destabiliserende rol in die Midde-Ooste speel wat nie agter by dié van Iran staan nie. Saoedi-Arabië is die groot dryfkrag agter die burgeroorlog in die aangrensende Jemen, waar letterlik miljoene mense, deels weens die Saoediese militêre ingryping, van honger sterf. Dis een van die grootste menslike dramas van die 21ste eeu.

Saoedi-Arabië dra ook by om ook om die situasie in Sirië en Libanon onrustig te hou.

’n Tweede element is die rol van Turkye, wat sy eie belange verdedig. Onder pres. Recep Tayyip Erdoğan is die Turkse ambisie om die leier van die Soennities-Islamitiese wêreld te word, maar Saoedi-Arabië blokkeer hom.

Dat die moord op Khashoggi op Turkse bodem plaasgevind het, het dus soos manna uit die hemel vir Erdoğan gekom. Sedertdien laat hy feite oor die moord drupsgewys aan die media uitlek om die Saoediese regering so lank moontlik onder maksimum druk te plaas. In ’n toespraak voor die Turkse parlement, het hy vandeesweek van ’n “sorgvuldig beplande moord” gepraat.

Dit alles beteken groot verleentheid vir Trump. Dié het aanvanklik taamlik kleigetrap en te kenne gegee dat die moord dalk deur onafhanklike skurke gepleeg is.

Maar die bewyse wat ook die CIA ondertussen opgediep het, is blykbaar só oortuigend, dat selfs Trump dit nie meer kan ontken nie. En dus het hy vroeër vandeesweek aan verslaggewers in die Withuis gesê “die doofpot-operasie was die slegste in die geskiedenis van doofpot-operasies”.

Hy wil klaarblyklik egter (nog?) nie regtig optree nie. Toe hy gevra is of hy kroonprins Mohammed se ontkennings glo, was sy antwoord: “Ek wil hom glo. Ek wil hom regtig glo.”

Swaar druk word tans vanuit die kongres op Trump uitgeoefen om sy rug styf te maak. Dat dit van Demokratiese politici kom, is vanselfsprekend, maar ook invloedryke lede van sy eie Republikeinse Party maak die wêreld moeilik vir hom.

Gina Haspel, die direkteur van die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA), is tans in Turkye om verder ondersoek in te stel. Op grond van haar verslag, het Trump te kenne gegee, sal hy verdere optrede oorweeg.

Intussen het Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, al aangekondig dat 21 Saoediese burgers wat na bewering by die moord betrokke was, Amerikaanse visums geweier word.

Trump se verleentheid word vergroot deurdat die groot drywer van noue bande met Saoedi-Arabië sy eie skoonseun, Jared Kushner, is. As hy sterk teen Saoedi-Arabië optree, is dit terselfdertyd ’n klap na Kushner.

Maar dit verdwyn in die niet by die dilemma van Saoedi-Arabië se strategiese belang. Geen Amerikaanse president kan dit bekostig om dié koninkryk soos ’n vyand te behandel nie.

En bowendien kan met taamlike veiligheid verwag word dat die koninklike familie skotvry daarvan sal afkom. Op die meeste, sal enkele ondergeskikte koppe rol, en agter die skerms sal die kroonprins die Amerikaners beterskap belowe.

En dan sal dinge min of meer soos in die verlede voortgaan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Fryingfrog ·

Uitstekende artikel wat die probleem goed belig. Op Maandag 22 Oktober het SABC 2 ‘n baie kort nuusberig uitgesaai waarin gesê en vinnig gewys is dat SA ooreenkomste met hierdie selfde barbare teken. Die dag daarna het Turkye met hul “naked truth” gekom – interessante tydsberekening. Hierdie ooreenkomste is nie verder deur ander nuuskanale gedra nie en dit het sedertdien stilweg “verdwyn”. Kan MM ons dalk ook hieroor inlig??

Boer-in-die-wind ·

Beste Leopold

Nee jy het nie. Kyk weer.

Die volgende steeds uitstaande:
– “Wat hy (Trump) wel doen is om geld rond te strooi om stemme te koop.” Verskaf asb voorbeelde.
– Verduidelik asb die hoe en waar van jou stelling “….. sou hy (Trump) dit kon bekostig bekostig om die vermeerdering in die staatskuld aansienlik te beperk”.
– Verduidelik asb hoe die grafiek wat jy verskaf (die voortdurende styging in VSA staatskuld) Gert se punt verkeerd bewys?
– Waarop baseer jy jou aanname (en afjak) dat Trump my “held” is?

Therese van Schalkwyk ·

Boer-in-die-wind
Indien jy president Trump se handel en wandel nie voortdurend kritiseer en bevraagteken nie, is jy ‘n “Trumpaanbidder” en hy jou held.

Nouja ·

Keer Trump sy rug op Arabia, sal die Chinese en of Russe dadelik inspring om die vakuum te vul. Dan is dit verby met die Petrodollar en die VSA se invloed in die Midde Ooste en Indiese Oseaan. Hoe dit ook al sy, verwag reuse ontwikkelinge in alternatief aangedrewe voertuie in die nabye toekoms – veral vanuit Europa.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.