Moenie nou al wondere van Mboweni verwag

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Baie oë in Suid-Afrika – en in die buiteland – is vandag op die nuwe minister van finansies, Tito Mboweni, gerig wanneer hy die mediumtermynbegrotingsraamwerk aan die parlement voorlê. Volgens die ekonoom Dawie Roodt is dit eintlik maar ’n geleentheid om verslag aan die wetgewende mag te doen, maar dit kan tog ’n goeie idee gee van hoe die minister se kop werk.

Dit was sonder twyfel een van pres. Cyril Ramaphosa se beste aanstellings nog. Mboweni het as president van die Reserwebank baie respek afgedwing met die bekwame wyse waarop hy sake gehanteer het.

Maar Suid-Afrika se finansiële en ekonomiese probleme is ná die byna 10 jaar van staatskaping, plundering en opperste wanbestuur onder Ramaphosa se giggelende voorganger, Jacob Zuma, só groot, dat ’n mens nie wondere op kort termyn van Mboweni kan verwag nie. Verskeie redes kan daarvoor aangevoer word.

In die eerste plek moet Ramaphosa sy interne magstryd in die ANC nog wen. Die korrupte oorblyfsels van die Zuma-/Gupta-mafia skop verbete vas; hulle is blykbaar nie van plan om só maklik afstand te doen van hul vermoë om te “eet” nie.

So van buite bekyk, is my voorlopige waarneming dat dit lýk of hy die magstryd aan die wen is. Maar die geveg is nog lank nie verby nie, en die Zuma-/Gupta-bende kan in beginsel steeds wen.

So tussen hakies: Een van die partye wat Zuma hel gegee het oor sy korrupsie, is die EFF. Met die VBS-bankskandaal blyk dat dié party se bande met plunderaars ook maar nou is. Maar dit daar gelaat.

Een van die grootste probleme waarmee Mboweni te make gaan kry, is waarskynlik om die staatsfinansies in orde te kry. Laat ek verduidelik:

Enige verstandige huisvrou weet dat jy nie onbepaald lank kan voortgaan om méér geld te bestee as wat binnekom nie. Op kort termyn kan jy ’n plan met ’n lening maak, maar kort voor lank gaan jy onherroeplik bankrot speel.

Veronderstel nou jy is ’n loodgieter wat begin. Die kans is goed dat jy geld sal moet leen om toerusting en ’n afleweringswaentjie te koop waarmee jy tussen klante rondry.

Wanneer jy die lening in jou hande het, kan jy dit inderdaad aan die toerusting en waentjie bestee. Dit is ’n produktiewe belegging, want dit stel jou in staat om geld te verdien en die lening terug te betaal.

Maar jy kan ook onverstandig wees. Jy kan daardie geld, of ’n deel daarvan, ook op ’n uitspattige vakansie by die see blaas.

Dan is jy diép in die moeilikheid.

Wel, dít is presies wat talle regerings oor die hele wêreld doen. Om stemme te koop, strooi hulle geld rond soos konfetti, waarmee die staatskuld oploop tot vlakke wat mettertyd tot rampspoed móét lei.

In Amerika het pres. Donald Trump, byvoorbeeld, belasting verlaag en staatsuitgawes terselfdertyd verhoog. Dié land is berug vir die reusagtige staatskuld wat agtereenvolgende presidente laat ophoop het, maar onder Trump het dit regtig die hoogte in geskiet.

Volgens die webwerf www.usdebtclock.org, wat die Amerikaanse federale staatskuld per sekonde byhou, beloop dit (altans toe dié artikel geskryf is) ’n getal wat weergegee word deur $21 met 12 syfers agteraan. En terwyl jy kyk, vermeerder dit teen ’n duiselingwekkende spoed.

Nog ’n voorbeeld is die populistiese regerende koalisie in Italië. Dié regering het aangekondig dat hy hom nie gaan steur aan die gesonde beginsel waartoe die Europese Unie ooreengekom het nie: dat die begrotingstekort maksimaal 3% van die bruto binnelandse produk mag bedra. Nee, hy gaan geld rondstrooi dat dit bars.

Dit is in sekere opsigte ook wat Zuma gedoen het. Onder sy bewind het die staatskuld meer as verdubbel, van 26% van die bruto binnelandse produk tot 54.2%.

Natuurlik is daar ’n verskil. Daar is geen bewys dat Trump-hulle die staat openlik vir eie gewin geplunder het nie; dit was maar hoofsaaklik om stemme te koop.

In Suid-Afrika wou Zuma ook stemme koop, maar daar was meer: ’n Mens skrik vir die getuienis wat die laaste tyd voor die Zondo- en die Nugent-kommissie gelewer is oor hoe die staat deur ’n bende skurke gekaap is.

Vandeesweek is bowendien berig Mboweni het die naweek in ’n toespraak onthul dat die staat R8 uit elke R10 aan salarisse bestee. Dit beteken dat slegs R2 aan noodsaaklike dienste – veral die onderhoud en verbetering van die infrastruktuur – gaan.

Is dit ’n wonder dat die pad- en spoornetwerk – om nie eens van die Suid-Afrikaanse Lugdiens te praat nie – met rasse skrede agteruit gaan?

Mboweni se groot uitdaging gaan dus wees om staatsbesteding behoorlik te beperk. Die staatsdiens (hoeveel amptenare wérk regtig?) sal aansienlik verklein moet word, en dié ding dat generaals se kinders hoogs betaalde poste in die weermag kry terwyl hulle selde vir werk opdaag, soos in die naweek berig is, sal moet end kry.

Maar dit is natuurlik nie só maklik nie; mense is nou eenmaal mense. Al dié tienduisende amptenare het só gewoond geraak aan gerieflike salarispakkette sonder veel van ’n teenprestasie, dat hulle dit waarskynlik al as ’n onvervreembare mensereg beskou.

Om dié logge skip 180 grade van rigting te laat verander, gaan ’n ontsaglik moeilike taak wees. As hulle te vinnig en te drasties sny, gaan dit in aanstaande jaar se verkiesing sommer baie stemme kos – en dis iets wat selfs die beste politieke party onder die son nie sommer so doen nie.

’n Mens moet dus begrip én ’n tikkie simpatie hê vir die onmenslike taak wat vir Ramaphosa en Mboweni wag. Ja, dit is waar, die ANC het homself in dié spinnekopweb laat verstrik raak, en dit beperk ’n mens se simpatie.

Maar ons almal ly daaronder.

Hoe nou verder? As ’n mens die soliede rotskrans sien waarteen ons by wyse van spreke moet uitklim, is dit genoeg om jou te laat wanhoop.

Maar met Ramaphosa en Mboweni aan die stuur van sake, is daar wel hoop dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Dit is nou te sê, tensy dit ’n trein is wat op volle spoed aankom!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

36 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Mens kan sien ons geagte outeur is ver van huis en haard en hy dink nie een van ons lees of hoor voor hy nie weer die knoppies druk nie. Wanneer volg ‘n opsoming van die volgende maand se nuusgebeure asb, dan spaar ons baie geld wagtende op Oom Leopold, of sy liewe vrou, se insiggewende skrywes?

Gert

Ek het die grafiek van VSA se staatskuld gaan kyk, kan duidelik sien hoe Obama dit laat opskiet het, maar dit lyk vir my asof dit stadiger groei sedert 2016. Nog ‘n voorbeeld van anti-republikeinse propaganda?

waarheid

Daar is niks wat hierdie man Tito – kan red nie.
Alles is daarmee heen en wat oorgebly het – word finaal geplunder.

Therese van Schalkwyk

Sowaar ‘n vergelyking tussen die kleptokrasie van ‘n piesang-republiek-in-wording en die voorste demokrasie en leier van die westerse wêreld.
Wys maar weer net, waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

waarheid

In S A is daar net mooi niks om te red nie.