Ek wens Donald Trump was my president

President Donald Trump. Foto: (AP Photo/Jacquelyn Martin)

In ’n dokumentêre rolprent oor die Republikeinse politieke konsultant Roger Stone, wys Stone uit dat hy lank voor 2016 vir Donald Trump gevra het om hom as ’n kandidaat vir die presidensie beskikbaar te maak.

Daar kan baie oor Stone se taktieke en geskiedenis gesê word. Hy is bekend as die “donker prins” vir sy vuilspel en hy is onlangs tot 40 maande gevangenisstraf gevonnis weens, onder meer, dwarsboming van die gereg tydens die sogenaamde Mueller-ondersoek. Die feit bly egter staan dat hy al vir byna ’n halwe eeu seker gemaak het dat presidente verkies word en weet wanneer iemand in daardie rol sal pas.

Hy en Trump se veldtogpaaie het in 2015 geskei (die rede is oop vir bespiegeling), maar hy bly een van die (45ste Amerikaanse) president se grootste bewonderaars. Volgens Stone, wat sy hele lewe saam met die magtigste mense op aarde deurgebring het, is Trump nie slegs besonders gehard en taai nie, maar uiters intelligent ook.

Pres. Donald Trump. (AP Photo/ Evan Vucci)

Feitlik elke linkse gaan dit wil betwis, maar die feite spreek vanself en hul kritiek op Trump is net nie rasioneel nie. Ad hominem-aanvalle op hom gedy, soos dat hy ’n oranje glans in sy gesig het of sy eksentrieke haarstyl. Die feit is hulle hou bloot nie van hom as persoon nie en daarom probeer hulle goedsmoeds sy prestasies ook misken. Hy kom wel soms kras, veglustig en bombasties voor, maar om sy prysenswaardige resultate te ontken of ignoreer omdat hy ’n vuurvreter is en soms nie ’n wag voor sy mond het nie, gaan die verstand te bowe. Dit geld veral vir Amerikaners wat die heilsame uitwerking van sy presidensie voel, maar ook vir mense oor die wêreld heen.

Dis ’n grondwaarheid dat iemand sonder veel vermoë nie president van Amerika kan word nie. Vir iemand om as (weliswaar bekende, maar ook omstrede) buitestander tot daardie amp verkies te word, verg uiterste moed, intelligensie en uitgeslapenheid – al is dit nie ’n totale verrassing nie, gegewe die ontnugtering met die politieke elite. Om daarna die prestasies te behaal wat Trump al agter sy naam het, getuig van ’n ongekende en geskiedkundige kordaatstuk.

President Donald Trump waai vir verslaggewers nadat hy met hulle gepraat het by die Wit Huis in Washington. (Foto: Manuel Balce Ceneta, AP)

Die eerste meting van ’n presidensie is die ekonomie. Dit het Nixon, Bill Clinton en Barack Obama agt jaar in die Withuis gehou. ’n Resessie het George H.W. Bush tot een termyn beperk ondanks ’n geslaagde oorlog. Dit was ’n vername faktor wat die Republikeine die 2008-verkiesing gekos het.

Daar word onlangs die volgende in The Economist, wat geen vurige aanhanger van Trump is nie, geskryf: “In beide 2018 en 2019 het nominale lone met meer as 3% gestyg – die vinnigste groei sedert die resessie ’n dekade gelede. Amerikaners aan die onderkant van die arbeidsmark vaar veral goed. Oor die afgelope jaar het die lone van diegene sonder ’n hoërskoolsertifikaat met nagenoeg 10% gestyg.”

Werkloosheid is tans 3,6% (4% word as volle indiensneming geag) en die laagste in 50 jaar. Werkloosheid vir etniese minderhede soos Afro- en Latyns-Amerikaners het rekordlaagtes bereik. Die gemiddelde ekonomiese groei in Trump se termyn was sover 2,5%.

Baie kenners het gereken dit kon nie gebeur nie. Wel, dit het. Obama probeer ook nou erkenning vir hierdie hoogkonjunktuur toeëien, maar so maklik is dit nie. Die Obama-ekonomie het matige herstel ná ’n erge afswaai getoon en dit het eers begin vlerke kry toe Trump president geword het.

Hierdie prestasies het met die beperking van onwettige immigrasie te doen, asook die keuring van die regte soort immigrante. Die aantal vaardige immigrante gaan voort om te styg terwyl die groei in die aantal immigrante al vir ’n ruk lank met geen of lae vaardighede afneem. Dus, minder laags geskoolde immigrante (waarvan baie onwettig is) om Amerikaanse bloukraagwerkers se werk te vat. Amerika, soos enige ander land, kan kies wie soontoe gaan.

Pres. Donald Trump gooi ʼn hoed na die skare tydens ʼn praatjie by ʼn saamtrek in Sunrise, Florida. Trump gaan hom by die res van sy familie aansluit vir die vakansie by sy Mar-a-Lago-landgoed. (Foto: Susan Walsh, AP)

Die mees verbysterende aspek van Trump se bewind is hoe dit amper on-ideologies is en kwansuis ideologiese besluite deur pragmatisme en omvattende resultate onderlê word. Hy het “regse” beleide oor immigrasie toegepas om boonop ’n “linkse” doelwit, naamlik hoër lone vir die werkersklas en ’n hoër vraag na hul arbeid, te bereik. Hy het dit makliker gemaak vir Amerikaanse besighede en entrepreneurs om sake te doen, terwyl hy tariewe gebruik het om beter handelstoestande vir die VSA te bewerkstellig. Hy tree polities inkorrek op en versterk onbeskaamd Amerika se Christelike karakter, terwyl hy gays in vrede laat om te trou.

Sy veglustigheid en kwasterigheid het tot dusver ook nie naastenby neerslag in sy buitelandse beleid of die aanwending van militêre mag gekry nie. Ofskoon hy handelskonflik met China nagejaag het (en boonop op daardie terrein wen), het hy militêre middele sover baie spaarsamig en oordeelkundig gebruik. Dit het sy vyande in die Demokratiese Party en Iran ontwapen en woedend gemaak en vriende vir hom gewen. Soos Victor Davis Hanson onlangs in National Review skryf: “Sy paradoksale en geslaagde beleide – die produk van konserwatiewe, anti-oorlog en pro-werker agendas – is besig om gaandeweg ondersteuners te wen en uiteenlopende groepe te verenig.”

Die mense wat Trump as ’n diktator uitbeeld, het klaarblyklik geen benul wat ’n diktatuur behels nie. Elke Amerikaner behoort dankbaar vir sy leierskap te wees. Hul land is veiliger en voorspoediger met hom aan die stuur.

Ek wens hy was my president.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

charmaine ·

Ek stem volkome saam, maar dis omdat hy eers n besigheidsman is dan n President, en hy en sy cabinet het nie nodig om staatsgeld te plunder nie in teen deel hulle werk oordeelkundig.

Sean ·

Pres Trump beslis die belangrikste man in die wereld Ek sou trots wees om n amerikaner te wees Ek hoop hy begin besef wat in hierdie swak land aangaan

Kattebol ·

Ek “cheer” al van dag een af vir Donald Trump. Sal gaaf wees as hy SA’ners kan oplei vir presidentskap in SA.

petro ·

Trump is die beste president. Mense is soos skape wat gelei word deur sensasie media en dan stem hulle saam met alles wat daardie media sê. Trump beteken baie vir Amerika.

Therese ·

Hierdie artikel deur Eugene Brink is ‘n ‘oase van redelikheid in ‘n woestyn van vooroordeel’.
Groot waardering!

Die onverbloemde hatigheid wat President Trump verduur, is skokkend en oorskry alle perke van beskaafde welvoeglikheid.

Bloedhond ·

Wat ‘n dag sal dit nie wees nie. Die blydskap vure sal hoog brand!

Gawie ·

Ek misken nie Trump se suksesse nie, maar dit verbloem nie die feit dat hy ‘n uiterste leuenaar is wat enigiets sal sê en doen om sy eie belange te bevorder nie. ‘n Man wat hom self beskryf as ‘God’s Chosen One’ en reëls verbreek net soos en waar hy wil. Selfs sy eie partyleiers het erken dat hy verkeerd was tydens die verhoor van beskuldiging, maar niemand het die moed gehad om dit teen hom te gebruik nie (behalwe Mitt Romney wat volgens sy oortuiging gestem het, en nou word hy daarvoor gekruisig).
Deesdae probeer hy dan ook die regstelsel in die VSA beïnvloed om sy vriende teen die gang van die reg te probeer beskerm.
Neewat, Amerika moet maar vir hulle kry – slegs twee keuses om voor te stem – ‘n leuenaar aan die een kant en vêr linkses aan die ander kant. Geen middelmatige keuse in die middel nie.
Mense sê die doel heilig die middele – ek is jammer, ‘n leuenaar bly ‘n leuenaar, maak nie saak hoeveel sodanige goeie belsuite hy mag neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.