MK: Zuma slaan alleen die kitaar

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

Sekere onlangse peilings het bevind dat die nuwe uMkhonto weSizwe (MK)-party straks in 2024 se algemene verkiesing gaan regkry wat bitter min partye al kon doen. Hulle gaan dalk selfs meer bereik as dit.

Elke nuwe party wat al betreklike sukses in hul eerste verkiesing behaal het (en selfs daarna oorleef het), het dit op die rug van anti-ANC-sentiment gedoen. Eerste Cope en toe die EFF. Albei het die ANC ʼn knou toegedien, ofskoon slegs die EFF lewensvatbaar kon bly. Dit blyk dat MK dieselfde sal vermag, maar sal na alle waarskynlikheid ook die EFF en IVP se steun in die proses afrokkel.

ʼn Peiling deur die Brenthurst-stigting in Johannesburg het MK se steun op ʼn heel skaflike en inderdaad ongeëwenaarde 13% nasionaal geraam indien 66% van geregistreerde kiesers gaan stem. Hierdie tendens gaan gepaard met ʼn bykans gelykmatige daling in die ANC se steun tot 39%. Volgens BusinessLive stem hierdie bevindinge ooreen met Standard Bank en Die Universiteit van die Witwatersrand se peilings.

Van groot belang is MK se steun in die land se twee grootste provinsies, te wete Gauteng en KwaZulu-Natal – indien dit wel waar is. Die Brenthurst-peiling het bevind hulle kan 6% op hulle in Gauteng verenig en 25% in KZN, vergeleke met onderskeidelik 34% en 20% vir die ANC. Dit sal uiteraard dan die grootste party in KZN word en moontlik bepaal wie in Gauteng regeer. Hoewel dit nie veelal genoem word nie, kan die party ook op redelike steun in Mpumalanga staatmaak. Die permutasies van koalisiepolitiek, wat nou slegs op peilingsdata gegrond is, val buite die bestek van hierdie artikel en sal daarom nie nou bespreek word nie.

Ewenwel, dit is waarskynlik dat MK ʼn sekere nasionale impak sal hê, sowel as invloed in sekere provinsies. Die tyd het daarom aangebreek om hierdie party, hul beginsels en persoonlikhede onder die loep te neem.

ʼn Middelmatige manifes

Hulle webwerf en verkiesingsmanifes is so onomstrede en altruïsties soos wat dit bondig en onoorspronklik is. ʼn Mens verwag om die EFF se klas- en rassekonflik of oordrewe romantiese beleidsvoorstelle daar aan te tref, maar die MK lyk en klink soos iets wat gegaps is by die Afrika-unie (AU) of ʼn nieregeringsorganisasie. Hulle het tot op hede slegs twee amptelike mediaverklarings uitgereik.

ANC-ondersteuners op pad na die Moses Mabhida-stadion in Durban (24 Februarie 2024) (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Hulle manifes het agt hoofopskrifte of fokusareas, met twee kort punte onder elk. Hulle “about us”-afdeling, asook hul visie en missie, word tewens lakonies opgesom.

Hulle beskryf hulself as volg: “The MK Party, rooted in a rich history of striving for justice and equality, is dedicated to transforming South Africa into a nation where every citizen has the opportunity to thrive. Our vision is anchored in the belief that through unity, innovation, and unwavering dedication to the common good, we can overcome the challenges of economic inequality, inadequate education, and healthcare. Committed to principles of fairness, integrity, and progress, the MK Party advocates for policies that ensure sustainable development, security, and prosperity for all South Africans. Join us in building a future marked by empowerment, resilience, and enduring progress.” Daar is niks militant (of spesiaal) hieraan nie.

Die manifes maak melding van kwessies soos elektrisiteit, onderwys, grondhervorming en ekonomiese beleid. Ek het iets verwag wat openlik radikaal is, maar hul voorstelle is heel prosaïs en soetsappig. Ten aansien van grondhervorming, lees dit soos volg: “Accelerating Redistribution: Fast-track land redistribution policies while maintaining food security and increasing food exports.” Hulle wil die grense beveilig, wetstoepassingsowerhede verbeter, vaardighede by markvereistes laat pas, verseker dat gesondheidsgeriewe se personeel voldoende is, en streekstabiliteit in Suider-Afrika bevorder. Selfs hul aandrang op die bemagtiging van tradisionele leiers deur hul rol en gesag te versterk is geensins omstrede in hedendaagse Suid-Afrika nie. Hulle bied selfs hulp met huiswerk aan!

Op die keper beskou, is hierdie beginsels en manifes iets waarmee selfs middelklas witmense nie fout kan vind nie. Hulle verwagte steun is daarom ʼn disproporsionele beloning vir min werk en oorreding.

Zuma die Zoeloe

Hierdie eenvoudige benadering om die publiek in te lig is egter nie tersaaklik nie en hulle weet dit. Hulle bied opsetlik geen besonderhede oor hul visie en doelwitte nie. Hulle weet hul teikenkiesers, meestal arm Zoeloe-sprekers, gaan waarskynlik nooit hul webwerf besoek of manifes lees nie. Dit is daarom ʼn eenvoudige en lui oëverblindery om die media en ander vyande te paai. Hoe dit ook al sy, hulle het nie baie moeite gedoen om 56 bladsye vol te maak soos die ANC nie. Of die 260 bladsye in die EFF se manifes.

Ons is almal teen hierdie tyd bewus daarvan dat oudpres. Jacob Zuma hul de facto party-president is, hoewel die webwerf steeds aandui dat hierdie posisie vakant is. Hy is eerste op hul lys vir die Nasionale Vergadering, maar sy skuldigbevinding en vonnis kan hom uit die parlement knikker. Hy is nogtans hul bestaansrede, desondanks dat hulle nie syne is nie.

Amabutho (Zoeloe-regimente) geklee in tradisionele Zoeloe-drag woon die Inkatha Freedom Party (IVP) se verkiesingsmanifes bekendstelling by die Moses Mabhida-stadion in Durban op 10 Maart 2024. (Foto: RAJESH JANTILAL / AFP)

Hierdie party is letterlik sy kaartjie tot vryheid en om eerlik te wees, is dit ʼn slim skuif – soortgelyk aan sy slinkse skuiwe om polities en geregtelik te oorleef. Dit is eintlik geen verrassing nie dat mense soos die “weekend special” Des van Rooyen ook op die lys verskyn nie, maar hulle is daar slegs vanweë Zuma se bevele. Sonder die voormalige president se aantrekkingskrag sou MK doodgebore wees en nie in staat wees om moontlik die EFF as die derde grootste party in die land te onttroon nie.

Etniese Zoeloe-solidariteit en die leier se fyn geboetseerde slagofferskap rond sy gewildheid af. Noudat hy vry is van die perke van die ANC en die land se presidensie, vaar hy vryelik uit jeens homoseksualiteit, aborsies, die Grondwet en veral die ANC. Hy wil ongehude tienerma’s na Robbeneiland stuur, asook lyfstraf en Afrika-reg terugbring. Wat jy ook al hiervan dink, hierdie standpunte word nie eers naastenby in die party se manifes weerspieël nie.

“Wat ook al Zuma sê, is ons standpunt” is die nie-amptelike mantra van MK. Trouens, hy kan eintlik enigiets kwytraak en sy ondersteuners sal dit vir soetkoek opvreet. Net soos hulle hom (maar nie sy party nie) steeds geloof het toe hy nie vir ʼn party-byeenkoms in Thembisa opgedaag het nie.

‘n Skermskoot van die video van Jacob Zuma ná sy vrylating in Augustus 2023.

In Januarie het hy miskien sy mond verbygepraat toe hy ʼn skare verkeerdelik aangemoedig het om vir die ANC te stem (pleks van MK). Was dit bloot uit gewoonte, sy ouderdom wat hom in die steek laat, of ʼn waaragtige Freudiaanse faux pas? Dit kon heel waarskynlik almal wees, maar sy beheptheid met die ANC is gewis dominant in sy psige. Hy wil so graag terugkeer na die ANC, maar om dit weer te gebruik en beheer.

Die res is blote ruis en sy ondersteuners by taamlike groot saamtrekke stem hiermee saam. The Witness het berig hoe MK-ondersteuners in groen militêre drag op anti-ANC-liedjies by ʼn byeenkoms in Pietermaritzburg gedans het, maar terselfdertyd ook erken dat hulle steeds ANC-lede is en bloot ontevrede is met pres. Cyril Ramaphosa se mag in die party. Nes Cope, het MK selfs hul naam van die ANC afgelei. Maar Cope het gewoon nie oor die leiersfigure van MK en die EFF beskik om relevant te bly nie.

MK is nie ʼn opposisieparty met vars idees nie, maar ʼn strategiese wraakprojek wat grootliks op Zoeloe-steun staatmaak en sy bestaansrede kwyt is sodra die gety in die ANC draai. Maar dit is weliswaar ʼn kwansuis geslaagde projek wat dalk net in sy uiteindelike doelwit gaan slaag. Hulle mag dalk nie lank hou nie, maar al wat tel is 2024 se verkiesing.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Zuma is ‘n tipiese Afrika leier. Sy ondersteuners hou van hom, veral sy lewensbeskouings.

Philip ·

Ek vermoed die hele ou spulletjie speel n triek op SA se stemvee.Zuma bly n ANC lid en sal na die verkiesing met sy nuwe MK getalle die ANC se steun aanvul mits hy bevoordeel word uit die ooreenkoms. Dit is n bluf koalisie net om die mag te behou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.