Oudpresident Bush se éintlike historiese waarde

Pres. George HW Bush en sy vrou Barbara (Maart 2015) (Foto: AP Photo/David J. Phillip, File)

Oor die pas oorlede Amerikaanse oudpresident, George HW Bush, kan ’n mens baie sê.

Iemand wat die geskiedenis ken, hoef nie lank te soek na die name van groot historiese figure nie. Alexander die Grote, Atilla die Hun, Karel die Grote, Napoleon, Otto von Bismarck, Winston Churchill, Charles de Gaulle, Ronald Reagan.

Hulle was almal mense met ’n charismatiese persoonlikheid. Hul historiese nalatenskap is gemeng – sommige het meer afgebreek as opgebou; ander het vir ’n netto positiewe erfenis gesorg.

Daar is ewenwel een naam wat ontbreek. Dis van iemand wat slegs vier jaar lank ’n rol van betekenis gespeel het en wat – altans vir ’n politikus – ’n taamlik beskeie persoonlikheid gehad het.

Dit is dié van George Bush senior, wat in die jare 1981-’89 Amerikaanse visepresident onder Reagan was, en toe van 1989-’93 president.

Omdat hy maar ’n enkele termyn gedien het, was mense geneig om hom as ’n mislukte president te beskou. Dit word versterk deur sy relatiewe beskeidenheid, die feit dat hy nooit iemand was wat sy eie stert vreeslik geprys het nie.

’n Foutlose leier was hy nie. Dat die kiesers hom ná net een termyn verwerp het, was sy eie skuld: Nadat hy ’n dure belofte gemaak het om belastings nie te verhoog nie, het hy dit wél gedoen.

Die kiesers het hom nie daardie verbroke belofte vergewe nie, en in 1992 het Bill Clinton hom by die stembus verslaan.

Tipies van die aangename, beskeie mens wat hy was, was die waardige manier waarop hy sy verwerping gedra het. Hy het ook ’n uiters vriendelike brief aan sy opvolger geskryf om hom alles van die beste toe te wens.

Maar Bush se éintlike historiese waarde het op die terrein van die internasionale politiek gelê. In sy termyn het twee krisisse losgebars wat die wêreld, as hulle nie verstandig bestuur is nie, in ’n chaos kon gedompel het.

Die een was die einde van die Koue Oorlog; die ander die poging van die Irakse diktator, Saddam Hoesein, om Koeweit se olievelde te annekseer.

As ’n mens ’n enkele woord kan bedink wat Bush se buitelandse beleid die beste kan beskryf, is dit “behoedsaamheid”. Hy het self die Engelse woord prudence gebruik.

Die Koue Oorlog was ’n spannende tyd in die wêreldgeskiedenis. Die twee magsblokke, Navo en die Warschau-pakt, was albei tot die tande toe gewapen met sowel konvensionele as kernwapens.

Daar was trouens genoeg kernwapens aan albei kante om alle lewe op aarde (met die uitsondering van kakkerlakke) teoreties 20 keer uit te wis. Met die Kubaanse missielkrisis van 1962 het die wêreld letterlik op die rand van ’n verwoestende kernoorlog gesteier, en dit was slegs die behoedsaamheid (weer daardie woord!) van pres. John F. Kennedy wat dit voorkom het.

Dit het die laaste jare bekend geword dat die wêreld ook in 1983 twéé keer byna-byna in die tsunami van ’n kernoorlog weggespoel is. Albei kere kon dit op die nippertjie voorkom word.

Tog het die magsewewig vir ’n soort perverse stabiliteit gesorg. Albei kante het geleer dat as jy eerste aanval, sal die ander terugslaan, en só kom jóú aanval dan op selfmoord neer.

Maar op Donderdagaand 9 November 1989 gebeur die ondenkbare: Die Berlynse Muur val, en opeens was die geskiedenis in ’n gevaarlike stroomversnelling. Duitsland het in die rigting van hereniging beweeg, die Sowjet-satellietstate het hulle onder die Kremlin se harde heerskappy uitgewikkel, en ten slotte het die Sowjetunie self uiteengeval.

Dit het ’n vloeibaarheid geskep wat gevaarlik onvoorspelbaar was. Hoe sou ’n Sowjetunie wat sien hoe sy heerskappy oor die hele Oos-Europa verbrokkel, reageer?

Gelukkig was daar destyds genoeg verstandige staatsmanne. Pres. Michail Gorbatsjof van die Sowjetunie was een; bondskanselier Helmut Kohl van Wes-Duitsland en pres. François Mitterrand van Frankryk was nog twee (premier Margaret Thatcher van Brittanje se rol was hoofsaaklik dié van magtelose remskoen).

Maar Bush se rol was deurslaggewend. Hy kon basies twee rigtings inslaan.

Een: Hy kon by wyse van spreke op die Berlynse Muur gaan dans en die Kremlin se neuse in hul nederlaag triomfantelik invryf. Daar was genoeg Amerikaanse waarnemers wat Bush só ’n optrede aangeraai het.

Twee: Hy kon behoedsaam opereer, dinge soveel moontlik probeer kalmeer, en agter die Duitse herenigingsproses staan sonder om die Sowjets te verneder. Hy het die tweede rigting gekies.

Dit het uitstekend gewerk. Mede danksy sy versigtigheid het die einde van die Koue Oorlog sonder chaos en geweld gebeur (behalwe in die Balkan, ’n streek waar die wêreld haas geen invloed gehad het nie).

Behoedsaamheid het by Bush egter nie ’n gebrek aan kragtige leiding beteken nie. Dit het hy gewys toe Saddam in 1990 Koeweit binneval en beset, en ’n tyd lank ook gedreig het om die Saoedi-Arabiese olievelde te vat.

Om mee te begin het Bush dit onomwonde gestel dat dié aggressie nie geduld sal word nie. Sy onmiddellike stuur van die Amerikaanse 82ste Lugstormdivisie het gehelp om Saddam te keer om Saoedi-Arabië ook binne te val.

Maar Bush was ook verstandig om te besef dat die Midde-Ooste ’n opperste mynveld is waar jy nie sommer kop omlaag kan indons nie. Dus het hy ’n omvattende internasionale koalisie – met inbegrip van Brittanje, Frankryk, Saoedi-Arabië, Egipte, Marokko en selfs Sirië – op die been gebring om Saddam uit Koeweit te verdryf.

Bush is soms verkwalik dat hy ná die sukses van die operasie nie dadelik in die rigting van Bagdad deurgestoom en Saddam verwyder het nie. Maar dít sou die koalisie uitmekaar laat val en Amerika groot skade berokken het.

Dit was helaas George W. Bush junior wat toe in 2003 kop omlaag ingestorm het om Saddam te verwyder. Hy het sy pa se voorbeeld geïgnoreer en nagelaat om bondgenote te kry; slegs Brittanje was aan sy kant.

Die gevolg was ’n stok in ’n miernes. Dit het kragte in die Midde-Ooste losgemaak wat ’n orkaan veroorsaak het waarvan die chaos steeds voortduur.

Die les wat Bush senior die wêreld geleer het, was om verstandig te wees. Amerika was destyds groot, nie omdat hy sy wil voortdurend op die res van die wêreld wou afdwing nie, maar juis omdat hy op die regte tye terughoudend was en sy krag op ’n behoedsame wyse gebruik het.

Helaas is dit iets wat die huidige bewoner van die Withuis weens sy narsistiese persoonlikheid – ek, ek en ek – nie kan insien nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Stephan de S ·

Mooi oorsig oor die gebeutenisse van daardie jare, dankie. Wat n mens tot meer begrip van die jonger Bush moet bysê is dat hy in die situasie ingesuig is, kort na die aanvang van sy termyn, deur 9/11. Bush jr was amper nie verkies as president oa omdat die kiesers geglo het hy stel nie genoeg belang in buite-landse sake nie,en toe is 9/11 op hom voor jy kan sê mes.
Ons moet mense ook beoordeel en waardeer nav hul persoonlikhede. Dit wil lyk asof die huidige president se persoonlike styl en haastige manier van dinge doen ,ook vrugte dra. Dit mag wees dat oor n paar jaar dit blyk dat hy die regte man op die regte tyd was.
As jou uitgangspunt is dat n politikus geen ander geluide mag maak as politieke korrektheid nie ( die ou mense het n beter uitdrukking gehad: iets met suutjies te doen) dan sal mens nooit die huidige president verstaan nie. Op oomblik het ek meer ooghare vir hom -in agnemend dat ek nie self in VSA woon nie- as vir die meeste Europese leiers wat tog so seker is van hul “geloofsoortuigings”.

Therese van Schalkwyk ·

Puik huldeblyk aan Bush senior.
Stephan de S sal egter opmerk dat die skrywer nie sommer ‘n geleentheid laat verbygaan om ‘n steek na president Donald Trump in te kry nie. Daar is met “ploert” afgeskop voor sy verkiesing en nog geensins ‘n aks toegegee sedertdien nie.
Tog ‘n jammerte …

B ·

Inderdaad Therese, tsv die inisiatiewe soos N-Korea, China handelsooreenkoms, werkskepping, belasting verligting ens.

(Nietemin, soos altyd, ‘n goeie stuk deur LS, dankie.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.