Waarskynlik weer Trump teen Biden in 2024

Donald Trump en Joe Biden. (Foto: Patrick Semansky/AP)

ʼn Meerderheid Amerikaners sal graag wil sien dat ander kandidate as Joe Biden en Donald Trump volgende jaar op 8 November die Republikeine en Demokrate op die stembrief in die VSA se presidentsverkiesing verteenwoordig.

Dit lyk egter nou reeds, sewentien maande voor die verkiesing, of Amerikaners soos in die vorige verkiesing in 2020, weer tussen Biden en Trump sal moet kies.

Twee formidabele politici het verlede week hulle veldtogte geloods. Ron DeSantis, goewerneur van Florida, en Tim Scott, senator van Suid-Carolina. Beide DeSantis en Scott is bewese leiers in die Republikeinse Party, en ná hulle aankondiging is daar nou reeds sewe Republikeine wat om die titel as dié party se presidentskandidaat in 2024 meeding.

Aan die Demokrate se kant het die huidige president, Joe Biden, reeds op 25 April aangekondig dat hy volgende jaar vir ʼn tweede termyn gaan staan. Biden word in November vanjaar 81 jaar oud en is reeds die oudste president in die Amerikaanse geskiedenis.

Dit is nie net Biden se ouderdom wat teen hom tel nie. Biden geniet baie lae steunvlakke onder Amerikaanse kiesers. In drie peilings verlede week, het net tussen 39% en 42% van Amerikaners aangedui dat hulle tevrede is met sy werksprestasie. Biden toon duidelike kognitiewe uitdagings, ʼn swak beleidsrekord en is steeds slegs die anti-Trump-politikus wat hy in 2020 ook was. Biden het egter geen sterk uitdager onder die Demokrate nie en dit maak van hom die verstekopsie om volgende jaar weer sy party se kandidaat te wees.

Vir baie Republikeine wat gehoop het dat Ron DeSantis ʼn werklike alternatief tot Trump kon wees, was verlede week baie teleurstellend. DeSantis, ʼn gewilde goewerneur van een van die grootste deelstate, is verlede jaar met ʼn reuse-oorwinning tot ʼn tweede termyn verkies. Hy het in ʼn middelklashuis grootgeword, in sport presteer, aan Harvard en Yale studeer, in die Amerikaanse weermag gedien, insluitende as soldaat in Irak, en het daarna drie termyne in die Amerikaanse kongres gedien. Daarbenewens dien hy nou reeds ʼn suksesvolle termyn as goewerneur van Florida.

Tog was DeSantis se veldtogloodsing naby aan ʼn mislukking. Sy steun onder Republikeine het die afgelope tyd van meer as 30% tot net 20% gedaal. Hy kom toenemend as vervelig en onvoorbereid vir ʼn nasionale veldtog voor. Ook Scott en die ander geloofwaardige Republikeine sukkel om enige steun by Trump af te rokkel.

Ten spyte van talle hofsake teen hom en sy swak prestasie by die stembus in 2018 en 2022 se middeltermynverkiesings, en natuurlik 2020 se presidentsverkiesing, vertoon Trump al hoe sterker onder Republikeine. Meer as 50% van Republikeine steun Trump in elke peiling die afgelope drie maande, en met soveel as tien anti-Trump-kandidate wat teen volgende jaar die res van die stemme kan verdeel, lyk dit nou waarskynlik dat Trump die Republikeine se kandidaat gaan wees.

Biden en Trump verteenwoordig die stand van politiek vandag in die VSA. Die Demokrate het die anti-Trump-party geword. Hulle is arm aan leierskap en probeer verbete aan die mag vasklou. Die Republikeine verteenwoordig voortdurend die verlies aan identiteit, konserwatiewe waardes en die dinge wat Amerika die leidinggewende wêreldmag in die twintigste eeu gemaak het. Donald Trump lei die protes van omgekrapte Republikeine. Wie volgende jaar wen, sal bepaal of die VSA sal terugkeer na sy wortels of nog vinniger daarvan sal wegstap.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manie ·

Die Demokrate is arm aan leierskap en probeer verbete aan die mag vasklou. Klink baie soos die ANC.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pragtig! Dié twee sal Amerika verder in die grond ploeg.

Treurwilger ·

Times ‘magazine’ sal einde 2024 weer ‘n breedvoerige artikel kan plaas oor die veldtog wat gevoer is om Trump te kelder, soos in 2020.
“The Secret Bipartisan Campaign that Saved the 2020 Election”.

Goldy ·

Eks n baie groot voorstaander van die skrywer maar ek verstaan nie, hoe het Trump die Republikeine weg gelei van identiteit, dinge wat amerika groot gemaak het en konserwatiewe en familiewaardes? Die ekonomie het tog uiters goed gedoen na trump oorgevat het en voor covid?

Niklaas ·

Trump is steeds my gunsteling , maar hy gaan swaar teenkanting kry , hoofsaaklik vanuit die geledere van die media en veral TV netwerke soos CNN. Dit sal seker nie ‘n maklike pad vir hom wees nie , maar ek hou duim vas. Gelukkig vir hom is Biden nie so gewild soos JFK en Reagan destyds was nie.

houopkruip ·

Beide Trump en Biden het baie “baggage”.
Die mense moet egter stem vir o.a. meer konserwatisme, of meer liberalisme, asook hou jou neus uit ander se sake, of gaan soek ‘n oorlog.
Met hierdie twee sieninge is die keuse baie maklik.

Marthinus W ·

Daar is n deel van Amerika wat nie in die hoofstroommedia verskyn nie: die gewone Amerikaners. Op Nextnewsnetwork is daar n onderhoud met Brandi Love, wat Trump ondersteun, maar nie die donkie- en olifant-partye nie [Demokrate en Republikeine] omdat beide partye vir die gewone Amerikaner presies dieselfde is. Sommige praat van n eenpartystaat. Brandi en n groeiende getal gewone Amerikaners wil vir Trump stem, maar onder sy eie party. Hulle ondersteun Trump, volgens haar, omdat hy die taal praat van die gewone mense. Amerika is eintlik n land van bloukraagwerkers, volgens haar, maar hulle kry nie steun by partye nie; net die elite is belangrik. Trump, alhoewel hy n biljoener is, verteenwoordig die bloukraagwerkers, en hy praat hulle taal, en hy het al sy verkiesingsbeloftes nagekom. [as ek Trump was, sou ek Tulsi Gabbard kry as my verkiesingsmaat]

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.