As inflasie jou skop

Foto ter illustrasie. (Foto:
Karolina Grabowska/Pexels)

Enigeen wat kinders het, of hulle al lank genoeg geobserveer het, ken dit. Die een oomblik hou ʼn brood ʼn week. Oornag rek hulle 30 cm en eet die brood in ʼn dag op. Braai jy ʼn pakkie wors, is jy gelukkig om ʼn stukkie te kry. Soos die sprinkane in die tien plae van ouds verteer hulle alles voor hulle.

Nou, soos daai tieners en groeiende kinders jou uit huis en hert verorber, so kan inflasie jou geld opkou. Soos ʼn mielie.

En die VPI (wat vir ons ʼn goeie indikasie van inflasie in die land gee), het Stats SA in Augustus aangekondig, is die hoogste in 13 jaar: 7,8%.

Wag, voor jy vlug vir hierdie ekonomiese terme, ek belowe ek gaan dit eenvoudig probeer hou. Ek sal wegbly van akademiaans en ander uitdrukkings waarvan die betekenis duister is (“let’s take this offline and circle back to reassess”).

Proviso, soos altyd: ek gaan my bes doen om dit in gewone taal te hou, maar sommige van die goed is ongelukkig tegnies, en dus buite die bestek van hierdie rubriek. Gaan sien iemand professioneel om jou met jou spesifieke situasie te help.

  1. Wat is inflasie?

Vir ons doeleindes, en baie eenvoudig gestel: inflasie is hoe jou R100 vandag minder kan koop as wat dit ʼn jaar of drie gelede kon. Meer fênsie gestel: dis die erodering van geld se waarde oor tyd.

Daai R100 kon twee jaar terug dalk vir jou beeshaas koop vir die hele gesin, of 25 jaar gelede jou kar vol petrol maak. Nou voel dit of jy dit moet betaal net om ʼn brood en 2 liter melk te kry. En as jy wil braai, is dit hoender. Volgende jaar gaan jy dit seker betaal net om in die winkel te mag gaan.

Dis nie ʼn nuwe ding nie. Ons almal ken die Wet van Transvaal (waarna oorle’ Lucas Maree so mooi verwys het in “Ek sou kon doen met ʼn miljoen”). Bluesman BB King het ook al daaroor gesing, in “Inflation Blues”:

I’m trying to make a living

               I can’t save a cent

               It takes all of my money

               Just to eat and pay my rent

               I got the blues

               Got those inflation blues

Die term self kom uit die Latyn “inflare” wat opblaas beteken en die term self kom uit die 1800’s van David Hume. Maar dit was met ons lank voor dit benoem is – daar is geskrifte wat na iets soos inflasie verwys in antieke China. Ek lei ook min twyfel dat Imhotep destyds, toe die piramides nog net fondasie was, die Farao gevloek het oor die stygende prys van rys.

En nie alle inflasie word gelyk geskape nie, as ek George Orwell kan verbuig. Mediese inflasie is tradisioneel hoër as ander tipes. Diegene met kinders op universiteit voel waarskynlike dieselfde oor die prys van tersiêre opvoeding. Dit geld ook op kleiner skaal. Byvoorbeeld: die prys van kookolie het aansienlik meer gestyg as mieliemeel of witbrood in die laaste klompie maande.

Dan is daar meer genuanseerde vorme. Soos: jy kry dalk nou ʼn drie vinger Kit-Kat in stede van vier, vir dieselfde prys. Op Rooitaal roep jy dit “shrinkflation” of “gramflation”, maar dis ʼn rubriek vir ʼn ander dag.

  1. Wat veroorsaak inflasie?

Hierdie vraag is op ʼn sekere vlak soos “wat gaan aan in die skrums”, of “hoekom daar so baie poepholle op skool is wat gewild blyk te wees”.

Ons het baie goeie teorieë, maar dis nie so klinkklaar soos dat braaivleis beter is as enige ander kos nie, of dat Faf de Klerk gaan skop as hy sy voetjie so uitsteek nie.

Sommige meen hoe meer geld in die monetêre stelsel is, hoe hoër raak pryse. Ander meen dit word deur vraag en aanbod gedryf. Daar is ook diegene wat meen werkloosheid, minstens in die korttermyn, het ʼn invloed.

Die slim mense in die ivoortorings is nie doodseker nie, en dit kan dalk selfs ʼn kombinasie van goed wees, of iets totaal onverwags.

  1. Daar is erger goed as inflasie

Kyk, inflasie maak ʼn mens so die josie in soos Eskom se beurtkrag (as daar nou al ooit ʼn versagting was…), kaderontplooiing of BMW-bestuurders wat nie hulle flikkerligte gebruik nie.

Hoë inflasie of onvoorspelbare inflasie is nie goed vir ʼn ekonomie nie – dink maar net aan hoe moeilik dit was om die jaar jou petrolbegroting te balanseer met Johan-Marie se balletklas gelde. Dit kan selfs ook lei tot opstande, of het minstens ʼn aandeel daarin.

Maar daar is erger goed as dit.

Hiperinflasie is gewone inflasie wat te diep in die kreatienbottel gekyk het. Dis wanneer inflasie eintlik maar weghardloop soos ʼn veldbrand. Vra ons bure in Zimbabwe, of Venezuela.

Deflasie, weer, is ʼn verlaging in die algemene prysvlak van dinge, basies inflasie onder 0%. Dit klink dalk goed, maar dit bring sy eie uitdagings mee. Dit maak mense meer traag om te werk (“ek kry dan nou minder geld vir my tyd op kantoor”), en fabrieke om te produseer, wat dan verder pryse kan afdruk. Amper soos ʼn voorspelling wat homself vervul.

  1. Hoe bestuur ʼn mens inflasie?

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Ek gaan hierdie tweeledig aanraak: eerstens uit ʼn staatsoogpunt.

Lande probeer inflasie bestuur en beïnvloed op verskillende manier. Ons Reserwebank (en heelwat ekonome) meen hoër rentekoerse bring inflasie af (dis hoekom koerse nou styg).

Maar waar laat dit jou as individu?

Die voor-die-hand-liggende antwoord is tweeledig. Eerstens, trek maar die belt (nog) stywer. Dalk moet jy maar nou minder kookolie gebruik, veral na die dokter jou so skrobbeer het oor jou cholesterol. Braai sommer hoender eerder as vetterige skaapribs, en doen dit blymoedig.

Dalk moet Johan-Marie se balletrompie nie deur Errol Arendz gemaak word nie. Gaan hou dalk eerder vakansie in Amanzimtoti as aan die Amalfi-kus. In elk geval tot dinge normaliseer.

Die tweede ding sou wees om te probeer sorg dat jou beleggings en spaargeld op die duur beter vaar as inflasie, anders lê dit eintlik en verloor waarde.

Die positiewe ding van hoë rentekoerse is dat as belegger jy hopelik daardeur hoër opbrengs gaan kry – minstens in sommige sektore. Maar: Soms is dit so eenvoudig soos net geduldig wees, en die perd ry tot hy moeg raak. Soms gaan dit vereis dat jy dalk veranderings maak – praat met jou makelaar hieroor.

En probeer om emosie (en vuil Coke) uit die saak te hou – groot finansiële besluite moet liefs nugter geneem word.

 Bronne: StatsSA, Dictionary.com; Encyclopedia Britannica, Economics deur Roger A. Arnold

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wicus ·

Wat ‘n heerlike skrywe oor ‘n moeilike onderwerp, wel gedaan!

In my st 5 jaar wys die onderwyser ons mos ‘n 20 sent en seg as julle in matriek is, is die 5 sent werd, wens so ek het dit toe verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.