Verbruikersake: Ligloop vir ‘beleggings’ in kriptogeld

(Foto: iStockphoto)

Sosiale media wemel van aanbiedings om jou swaarverdiende rande in kriptogeldeenhede te belê en dit lyk darem maar baie aanloklik. Maar, soos ons reeds dikwels gesien het, is die meeste verbruikers gou hul geld kwyt omdat dit nooit in kriptogeld belê word nie, maar in ʼn soort piramiedeskema gebruik word om verbruikers, wat voor jou belê het, se ‘winste’ te betaal. Ina Opperman verduidelik waarom jy liewer jou geld elders moet belê as jy niks van kriptogeld weet nie.

Kriptogeld is digitale voorstellings van waarde wat nie deur ʼn sentrale bank uitgereik word nie en elektronies verhandel, oorgedra en gehou word. Dit word gebruik vir betalings, beleggings en kapitaalverkryging.

Die groot rede waarom jy liewer nie in kriptogeld moet belê nie, is dat dit nog nie in Suid-Afrika gereguleer word nie en aangesien die deursnee verbruiker niks van kriptogeld weet nie, kan jy maklik jou geld verloor.

As jy nie die mark ken nie en dit beskou as ʼn dobbelspel, gaan jy nie ver kom nie. Die kundiges waarsku dan ook dat jy liewer nie daarmee moet speel as jy nie genoeg daarvan weet nie.

Maatskappye wat geld in kripto belê moet ʼn sogenaamde witskrif of “white paper” verskaf en as jy nie kan verstaan wat hierdie dokument jou meedeel nie, hou maar liewer verby. Die witskrif gee tegniese inligting oor die konsep en ʼn padkaart oor hoe dit beplan om te groei en suksesvol te wees.

Waarom kies mense kriptogeld?

Met baie verbruikers wat nie hul regerings vertrou nie, bied kriptogeld op die oog af “vryheid” van die regering, maar hulle gee terselfdertyd hul reg op vir beskerming van die regering se kant teen skurke wat hul geld wil steel.

Waarom is kriptogeld ʼn probleem?

Verskeie lande het al begin ondersoek doen na kriptogeld omdat dit ook gebruik kan word om geld te was en het dus al begin om hierdie geldeenheid te reguleer. Die infrastruktuur wat benodig word om dit te reguleer is egter baie duur.

Kriptogeld en sosiale media

Die meeste kriptoskurke gebruik sosiale media soos Telegram, Facebook, Whatsapp en Instagram om verbruikers in hul nette te vang. Hulle gebruik veral Telegram omdat dit anoniem gebruik kan word. Statistieke toon dat omtrent 50% van die skelmstreke met kriptogeld op sosiale media begin.

Oppas vir ingewikkeld finansiële taal

Jy moet natuurlik nie jou geld vir elke Jan Rap en sy maat gee om te belê nie en pas veral op vir die gladdebekke wat allerhande ingewikkelde finansiële begrippe gebruik om te verduidelik hoe hulle jou belegging sal laat groei, aangesien dit dikwels maar net ʼn piramiedeskema is.

Hierdie gladdebekke weet gewoonlik niks van kriptogeld en hoe om daarin te belê nie. Jy kan ook nie jou geld terug eis nie, omdat die transaksies anoniem geskied en nie gereguleer word nie.

Waarom word kriptogeld nie gereguleer nie?

Kriptogeld word nie gereguleer deur die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) nie, maar die FSCA oorweeg dit nou om kriptogeld as ʼn finansiële produk te verklaar sodat dit jurisdiksie daaroor kan kry en die reg om verbruikers daarteen te beskerm.

Wanneer jy ʼn belegging in kriptogeld oorweeg

Die FSCA waarsku verbruikers gereeld om lig te loop vir kriptogeldbeleggings omdat jy nie jou geld sal terugkry as iets verkeerd loop nie. Hou dus gerus die volgende wenke van die FSCA in gedagte as jy dit oorweeg om in kriptogeld te belê:

  • Kriptobeleggings kan te veel klem plaas op die potensiaal vir uitbetalings en te min op die risiko’s verbond daaraan.
  • Beleggings in kriptogeld met ander mense se geld beteken gewoonlik dat groot risiko’s geneem word, wat beteken dat jy voorbereid moet wees om al jou geld te verloor.
  • Daar is geen waarborg dat kriptogeld omskep kan word in kontant nie, wat beteken jy is uitgelewer aan die vraag en aanbod op die mark.
  • Die prys van kriptogeld word bepaal deur die onderliggende sentiment of bui van die algemene publiek, met geen onderliggende bates om die waarde te bepaal nie, terwyl die waarde bepaal word deur mense wat ʼn belang het daarin om die prys altyd net hoër te jaag.
  • Baie van die konsepte wat multivlakbemarkers en mense wat piramiedeskemas bedryf gebruik, is daarop gerig om jou te laat voel dat jy iets misloop as jy nie inspring nie en so word die nuwe beleggers gebruik om die prys te laat styg.
  • Daar is geen waarborg dat, as jy wil verkoop, daar iemand sal wees wat jou kriptogeld wil koop nie.
  • Die prys ry dikwels wipplank, wat die finansiële risiko verhoog.
  • Al is jy bereid om die risiko te aanvaar, maak seker dat jou kriptogeld net ʼn klein deel van jou beleggings beslaan.
  • Kry ordentlike raad oor kriptogeld.
  • Doen jou belegging in kriptogeld met jou oë wawyd oop.
  • Onthou dat hierdie soort beleggings nie van pas is vir die meerderheid Suid-Afrikaanse verbruikers nie weens die risiko’s verbonde daaraan.
  • Moenie swig voor druk van familie en vriende nie om deel te wees van hierdie skemas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wicus ·

Was ‘n ruk in Kripto, en was baie tevrede met die opbrengs gegenereer Het uitgeklim agv die geluide van die owerheid en SARS.

As mens mooi daaraan dink toon die Rand ook maar piramide skema eienskappe siende dat daar nie meer ‘n goud standaard is nie. Terwyl mense nog waarde daaraan gee, wel dan het dit waarde. Dit kan baie maklik ook die kreeftegang gaan, kyk maar net noord.

Boerkind ·

Inderdaad is die Rand (reserwe bank) ‘n piramide skema wat deur wetgewing beskerm word.

Cryptogruppe ·

Natuurlik moet elke Suid Afrikaner dit oorweeg om in kripto te bele en die artikel slag goed daarin om almal te ontmoedig. Soos alles in die lewe, begin die reis na kripto onafhanklikheid met goeie onderrig. As jy nie bereid is om etlike ure se selfstudie daarin te sit nie, bly liewer weg. Bly weg van enige tussenganger – hulle het net een doel voor die oe- om ‘n aansporingsfooi te verdien.

Vir die doemprofete- binnekort gaan jy gevra word om die digitale rand te aanvaar en jy gaan geen keuse het nie. Dit sal PROGRAMEERBARE GELD WEES wat sentraal beheer word, wat nagespoor en bestuur kan word. Koppel dit aan die entingspaspoort en die oorlewingsnagmerrie ontvou voor jou.

Doen jou huiswerk. Leer oor kripto. Dit is beslis nie die monster wat “kenners” voorhou nie. Vertrou op jouself. en vermy tussengangers. As jy in kripto bele, hou jou kripto bates onder jou eie beheer. SARS is nie ‘n probleem nie, want jy rapporteer jou inkomste soos enige ander bate.

Sylvia ·

Mnr/Mev/Me Gryptogruppe – baie dankie vir die positiewe inligting – maar
as mens nie van ‘n tussenganger gebruik maak nie, waar en hoe doen jy dit op jou eie – “…hou jou kripto bates onder jou eie beheer.” – vertel meer

Cryptogruppe ·

Hello Sylvia. Ek het al baie mense geleer. Almal se reis begin deur te lees en te doen. Ek vra almal om ‘n gratis rekening te open op cryptocompare.com. Die tweede stap is om denkbeeldig twee kripto bates te koop en dit in die portefeulje te sit. Daarna voeg jy dieselfde hoeveelheid by van elke bate een keer per week. En hou die groei / afname proses dop vir minstens ‘n maand of twee maande. Intussen lees jy meer oor beursies ( die verskillende soorte). Jy installeer van die beursies op jou rekenaar en gebruik dit om gewood te raak aan die “interface” Jy kan niks breek nie. Jy lees meer oor die verskillende “exchanges” ( In RSA is daar drie goeies nl Luno , VALR, Chainex)

OW ·

Baie goeie skrywe oor kriptogeld.Ek weet natuurlik niks van dit af nie.Wat my opval is die feit dat jy gewone geld moet besit om in kriptogeld te belê en die kanse is daar dat jou geld kan verdwyn en jy dit nie weer sien nie.Die internet boewe wat reg oor die wêreld voorkom,het seker in baie gevalle die laaste sê wat van iemand se geld geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.