Kommer heers oor inflasie wat moontlik stadig versnel

inflasie

Foto: Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse ekonomiese prentjie het nie juis ʼn wen-skop van die jongste ekonomiese gegewens van Statistiek Suid-Afrika gekry nie. Inteendeel, die statistieke wat vandeesweek uitgereik is, dui daarop dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee waarskynlik korrek opgetree het om rentekoerse in November met 25 basispunte te verhoog.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die verbruikersprysindeks (VPI), wat die bank gebruik om inflasie te teiken, in November op ʼn jaargrondslag tot 5,2% opgekruip het. Dit was hoër as markverwagtinge. Die bank se inflasieteiken is tussen 3% en 6%.

Boonop was die syfer ook hoër as die 5,1% wat in Oktober bereik is.

Ofskoon dit die 20ste agtereenvolgende maand is dat die verbruikersprysindeks onder die boonste teiken van 6% was, heers kommer dat inflasie besig om stadig te versnel.

November is ʼn lae opname maand met ʼn paar bykomstighede wat tot die inflasiemandjie gevoeg is.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê die gegewens dui daarop dat brandstofpryse en voedselinflasie die groot dryfvere in November was. Die agentskap voeg egter by dat die skerp daling in ru-olie tot laer brandstofpryse gelei het wat in Desember se gegewens weerspieël sal word.

Volgens die agentskap sal die afgelope twee maande se brandstofverwikkelinge sowat 80% van die vorige sewe maande se brandstofstygings uitwis.

“Dit kan ʼn positiewe effek op die inflasiesyfer vir 2018 hê. Ons verwag ʼn jaarsyfer van 4,6% teen die vorige verwagte 4,7%”

Die agentskap is van mening dat 2019 se inflasiesyfer 4,9% kan beloop teenoor die vorige geskatte 5,3%.

“’n Papper inflasievooruitsig saam met swak ekonomiese vooruitsigte kan daartoe lei dat die sentrale bank vir eers rentekoerse onveranderd kan laat.”

Intussen het die statistiekowerheid bekend gemaak dat kleinhandelverkope 2,2% in Oktober op ʼn jaargrondslag gegroei het. Dit was 0,6% in September.

In markkringe is optimisme dat kleinhandelverkope ekonomiese groei in die vierde kwartaal kan ondersteun, juis omdat November se gegewens Swart Vrydag en Kersverkope in Desember moet insluit.

Volgens NKC het kleinhandelverkope in Oktober verras en op die stewige vertoning van die derde kwartaal voortgebou. Oktober is die eerste maand van die vierde kwartaal.

Volgens die agentskap is daar baie uitdagings in die sektor, maar die trant wat bespeur word in Oktober se syfer beaam die derde kwartaal se neiging dat verbruikers kieskeurig koop.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het ander kleinhandelaars en tekstiele, kleding en skoeisel die grootste bydrae tot die styging gelewer. Kos, tabak en hardeware het egter aan die agterspeen gesuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Klok ·

Stadig versnel? Watse bog is dit? Die engelse noem dit ‘n oxymoron. Ek kan verstaan as inflasie geleidelik versnel maar nie stadig versnel nie.

Mens kan sien dat ons onderwys stelsel agteruitgegaan het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.