Hoër rentekoerse beteken allermins laer inflasie

  • Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

    Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die verhoging in rentekoerse volgens die rentekoersbeleid van die sentrale banke in die wêreld kan nie die inflasiekoers beheer, die wisselkoers beskerm of ekonomiese groei stimuleer nie. Daar bestaan in elk geval geen bewyse om hierdie aansprake van sentrale banke en ekonome te substansieer nie.

Ek verwys na die artikel “Inflasie kán sonder hoër rentekoers beveg word”, wat deur Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, geskryf is en op Netwerk24 se webblad verskyn het. Daarin het hy ʼn ander houding jeens die bekamping van die inflasiekoers ingeneem.

Veral as hy sê dat die styging in die petrolprys nie inflasie is nie, maar dit is presies wat die Reserwebank probeer doen deur die rentekoers te verhoog, om die inflasiekoers te verlaag. Hy sê prysstygings en dalings is ’n normale verskynsel en ekonomiese kragte sal bepaal wie die las ervaar.

Die vraag wat gevra moet word, is hoe groot is die las of pyn van rentekoersverhogings?

Die rentekoste wat verbruikers betaal, beloop niks meer as 2% van hulle totale private verbruiksbesteding nie en ek daag die Reserwebank uit om my verkeerd te bewys. Die gewig van rentekoste wat verbruikers in die verbruikersprysindeks dra, is so min dat dit nie eers op die lys van verbruikersitems voorkom wat Statistieke Suid-Afrika gebruik om die indeks saam te stel nie. Die mate waartoe die verhoging in rentekoerse die vraag in die ekonomie kan demp, is daarom in werklikheid onbeduidend en selfs weglaatbaar klein.

Die Reserwebank is ook daarvoor verantwoordelik dat inflasie laag moet bly om die waarde van die geldeenheid te beskerm. Dit kan nooit waar wees dat die inflasiekoers en die waarde van die geldeenheid net deur veranderings in rentekoerse bepaal word nie. Dit word in werklikheid deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore bepaal wat ’n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste speel.

Roodt sê ook almal ding in ’n vrye ekonomie mee, maar daar bestaan vandag nêrens in die wêreld meer ’n suiwer vrye mark nie omdat regerings van die meeste lande heeltemal te veel in hul ekonomieë inmeng, veral in Suid-Afrika met die ANC-regering se sosialistiese beleid.

Ons moet bereid wees om deel te neem aan hierdie “pynlike proses” van ʼn markgedrewe ekonomie, want jy het nie ’n ander keuse nie. Verder kan niemand iets daaraan doen nie, ook nie aan hoër rentekoerse, of die geldeenheid se waarde beskerm of ekonomiese groei stimuleer nie.

Die aansprake van die Reserwebank hieroor en die stelling dat die invloed van rentekoersveranderings twee jaar neem om deur die ekonomie te werk, is eenvoudig nie waar nie.

Dit is ook die eerste keer ooit dat ek hoor dat die Reserwebank of ekonome sê dat hoër rentekoerse nie die prys van internasionale oliepryse kan verlaag nie. Hulle is natuurlik reg, maar die Reserwebank en al die ander sentrale banke in die wêreld glo dat Wladimir Poetin die oorlog in Oekraïne sal beëindig sodra hulle hul rentekoerse verhoog – ook die Amerikaanse Federale Reserweraad en die Europese Sentrale Bank.

Die inflasiekoers sal slegs weer afkom nadat die oorlog beëindig is en dan sal ru-olie- en voedselpryse weer na normaal terugkeer. Hoewel die banke weereens, soos in die verlede, daarop sal aanspraak maak dat die inflasiekoers verlaag het weens die uitstekende werking van hulle rentekoersbeleid. Daarom is dit die grootste enkele dwaling in die ekonomiese wetenskap.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Dankie tog! Iemand intelligent wat nogal kan dink ook. Die vraag is net: Wat sou die ware rede wees dat so met rentekoerse gespeel word? SA is wel ‘n na-aper wat glo dat hoër rentekoers geld na banke sal laat vloei en daarop hoop dat ons kamma eerstewêreld-houding ons gradering positief sal beïnvloed. Ons Reserwebankie kan dalk net sneuwel met hierdie selfvoldane en magtige grootbaashouding.

Deon ·

Dit is eenvoedig. Almal met n hoop skuld sal kla oor rentekoersverhogings. Die wat nie skuld of enigiets anders besit nie kla nie. Maak minder skuld wat inflasie en rentekoerse in bedwang gaan hou. Koop minder en sien hoe word pryse verlaag. Die wereld se skuldlas is dalk die Reserwebanke se grootste beweegredes vir rentekoersverhogings.

Koos 100 ·

Inflasie is die direkte gevolg van prys verhogings. Alles gaan op en dan voel die Reserwebank bietjie agter en verhoog ook maar omdat die ander dit dan doen!

Danie ·

Al wat dit beteken is dat mense nie hul skulde kan terug betaal nie en sodoende gaan banke weer baie huise en voertuie moet terugvat. Lekker ne.

Pyl ·

Hoër rentekoers is so mensegmaak nes die hoër petrolprys. Dit het niks met inflasie beheer of ‘n tekort aan olie te doen nie. Hoër oliepryse is direkte gevolg van sanksies teen die wêreld se grootste oliebron. Rusland ly glad nie hieroor nie, maar wel die mense wat sanksies teen hulle het.

Net so is rentekoers verhooging ingebring om die beleggers gelukkig te hou (meestal eksterne beleggers).

Maklik om te sê maak minder skuld. Hoe dink mense finansier besighede hulself? Jy die verbruiker gaan daarvoor betaal.

Iedergeval, doen bietjie huiswerk, al die reserwebanke in die wêreld behoort aan die Rothschild familie.

https://reasonandscience.catsboard.com/t2934-complete-list-of-rothschild-owned-and-controlled-banks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.