85 jaar van die Bybel in Afrikaans

gebed-bybel-vrou-landerye

Foto: Allen Taylor/Unsplash.com

Die Afrikaanse Bybel word gedurende Augustus 1933, vanjaar 85 jaar gelede, landwyd feestelik in gebruik geneem. Die sentrale fees vind op 27 Augustus 1933 in die Marksaal in Bloemfontein plaas. Bloemfontein word gekies, nie net vanweë  die sentrale ligging nie, maar omdat die Vrystaatse sinode van 1916 van die NG Kerk die inisiatief geneem het vir die vertaling van die hele Bybel in Afrikaans. ’n Skare van 5 000 is teenwoordig.

By die feesgeleentheid lees DF Malherbe uit die “nuwe” Psalm 104 voor:

“HERE my God, U is baie groot! Met majesteit en heerlikheid is U bekleed – wat Uself omhul met lig soos met ’n kleed, wat die hemel uitspan soos ’n tentdoek…”

Die droom van ’n bybel in eie taal moet gesoek word in die “aantrekkingskrag van die Afrikaanse strewe” wat sy wortels vind in die ideale van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA). Die Eerste Taalbeweging het immers sy geboorte te danke aan die begeerte om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Dit was Arnoldus Pannevis wat op 7 September 1872 in De Zuid-Afrikaan ʼn artikel gepubliseer het oor die dringende behoefte aan “De Bijbel in het Afrikaans”. Om die ideaal te verwesenlik, sou ’n opdraande stryd wees wat oor geslagte strek. Alhoewel Afrikaans ’n gewilde spreektaal op die markplein en om die kombuistafel was, was dit as lees- en skryftaal nog in sy babaskoene. Die baanbrekerswerk van die Eerste Taalbeweging onder leiding van manne soos SJ du Toit en Arnoldus Pannevis kan in die konteks nouliks oorskat word.

Daarby was die Nederlandse Statevertaling (oftewel Statebybel) oor eeue in die kerk gevestig. Die Statebybel wat op 29 Julie 1637 verskyn het, is op versoek van die Nasionale Sinode van Dordrecht van 1618-1619 vertaal en deur die Nederlandse State-Generaal gefinansier. Dit was die Bybel wat Jan van Riebeeck na die Kaap gebring het en deur die Voortrekkers in wakiste die binneland ingedra is. Die invloed van die Statebybel op Afrikaans is steeds merkbaar in uitdrukkings soos: brood van smarte, Dawid en Jonathan, kwelling des geestes, bitter kelk ledig, moedigheid, kortstondigheid, goedertierenheid, herbergsaamheid, kind des doods, en insettinge. Woorde soos afvallig, danksegging, dierbaar, eersteling, hooglied, klaaglied, nuweling, rigsnoer, slagoffer, vreemdeling en suigeling, asook meer idiomatiese uitdrukkings soos steen des aanstoots, in die duister tas, inwendige mens, berge versit, ’n boom aan sy vrugte ken, ’n doring in die vlees en vreemdeling in Jerusalem, word steeds gehoor.

Die opkoms van die Tweede Taalbeweging ná die Anglo-Boereoorlog het die klimaat geskep waarin ’n nuwe geslag jong Afrikaners die groei van Afrikaans met sy eie woordvorme en -betekenisse verhaas het.

Op 16 Mei 1916 het die skoonseun van MT Steyn, die laaste Vrystaatse president, dr. N.J. van der Merwe, toe predikant van Wepener, die Vrystaatse sinode voor ’n keuse gestel. Ineen krachtige en welsprekende Afrikaansche toespraak” het hy drie rigtinggewende, maar ook histories gelaaide vrae gestel:

  1. Is het gebruik van Afrikaansch bij ons een dringend behoefte?
  2. Is het Afrikaansch schoon genoeg om den Bijbel in de taal oor te zetten?
  3. Is die tijd daarvor nu gekomen?

Die Vrystaatse sinode se positiewe antwoord op die vrae het gelei tot die eerste amptelike kerklike besluit om die Bybel in Afrikaans te vertaal. ʼn Vertalingskommissie onder voorsitterskap van JD Kestell is aangewys en die werk is begin wat uiteindelik sou lei tot die verskyning van die Afrikaanse Bybel in 1933. Selfs N.J. van der Merwe het later jare sy verbasing uitgespreek oor die sinode se positiewe besluit. Skaars 25 jaar vantevore is dieselfde voorstel deur die Vrystaatse sinode teruggetrek uit vrees vir kerkskeuring.

Die sinode se besluit is direk te danke aan die sukses van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging wat met die intensiteit en erns van ʼn getraumatiseerde gemeenskap opgestaan het teen Milner se verengelsingsbeleid.

Meer as ʼn duisend Christelik-Nasionale Onderwysskole is in die Vrystaat en Transvaal gestig; Afrikaanse liedere is geskryf en gesing (waaronder die bekendste en oudste Afrikaanse liedjies: “Siembamba, mama se kindjie”, “Aai, aai, die Witborskraai”, “Vat jou goed en trek, Ferreira” en “Mamma, ‘k wil ʼn man hê!”); Afrikaanse debatsverenigings is gestig; koerante soos De Vriend des Volks (Vrystaat) en De Volkstem (Transvaal) het Afrikaans geleidelik laat ontwikkel in ʼn joernalistieke taal en kultuurvereniginge soos die Transvaalse Afrikaanse Taal Genootskap (1905) en die Vrystaatse Afrikaanse Taal Vereniging (1906) het die weg berei vir ʼn lewenskragtige Afrikaanse kultuurlewe.

Twee deurslaggewende ontwikkelinge was die totstandkoming van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909 en Die Burger in 1915. Op kerklike terrein het ‘n nuwe generasie akademici soos B.B. Keet gepleit vir ʼn Afrikaanse Bybel. In 1914 wys hy daarop dat die Afrikaanse Taalbeweging so veld gewen het, dat die laaste skans die vooroordeel teen ʼn Afrikaanse Bybel is. Volgens Keet sou dit “die natuurlike vrug van die Afrikaanse Beweging wees om die Bybel te vertaal”.

Aanvanklik het die Bybel-vertalers slegs probeer om die Statebybel  te verafrikaans. Die proefvertalings van die Evangelies en Psalms wat in 1922 gepubliseer is, het nie inslag onder die Afrikaanse publiek gevind nie. ’n Eindvertaler van die 1933-uitgawe van die Bybel, H.C.M. Fourie, praat van “stompstert Nederlands”. In die kort tydperk van 1916-1922 is Afrikaans deur Langenhoven se Woordelys en Spelreëls nie net gestandaardiseer nie, maar het dit gegroei tot ’n amptelike en lewenskragtige skool- en universiteitstaal. Afrikaanssprekendes in die kerk was nie meer te vinde vir ’n “stompstert” Bybeltaal nie.  Die gevolg was nie net ’n Afrikaanse vertaling uit die oorspronklike Grieks en Hebreeus nie, maar dat die 1933-uitgawe van die Bybel – soos geen ander boek – Afrikaans help standaardiseer en stabiliseer het nie. Hieruit is nuwe momentum gegee aan die rykdom van eie Afrikaanse kuns, literatuur, liedereskat, kultuurlewe en woordeskat.

Al was die stryd vir ʼn Afrikaanse Bybel verstrengel met die Afrikaanse taalstryd en ʼn stryd om ʼn eie kulturele identiteit, het die Afrikaanse kerke die Evangelie in eie taal nie net ontvang nie, maar ook gebruik as basis om die blye boodskap verder te verkondig, tot heil van miljoene. Die Afrikaanse Bybel-vertaling was die eerste tree van vele Bybel-vertalings in Afrikatale wat sou volg.

Tydens die fees op 27 Augustus 1933 het DF Malherbe se voordrag die voorsitter van die Vertalingkommissie, dr. J.D. Kestell laat jubel: “Dit was ons eie taal in sy sagtheid en buigsaamheid, maar ook in sy krag en verhewenheid. En dit – so het ons gevoel – is die taal van die bybelboek wat ons nou ontvang het. Lof en dank het deur ons wese gebruis…”

sout-en-lig-met-bybel-deur-congerdesign-pixabay

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Idiome en idiomatiese uitdrukkings wat hul oorsprong het in die 1933-Afrikaanse Bybel

  • Dit is net ’n druppel aan/in die emmer (Jes. 40:15)
  • Hulle is soos Dawid en Jonathan (1 Sam. 20:17; 2 Sam. 1:26)
  • Dit is die ware Jakob (Gen. 27)
  • Die wysheid van Salomo (1 Kon. 3:12)
  • Job se geduld (Die boek Job)
  • ’n Jobstrooster (Job 2:11; 13:4)
  • Vir Mammon dien (Matt. 6:24)
  • ’n Doring in die vlees (2 Kor. 12:7)
  • Sout van die aarde (Matt. 5:13)
  • Elkeen moet sy eie kruis dra (Matt. 10:38; Mark. 10:21)
  • Hy is ’n regte jakkals (Luk. 13:32)
  • Witgepleisterde grafte (Matt. 23:27)
  • ’n Balk in jou eie oog (Matt. 7:3)
  • My beker loop oor (Ps. 23:5)
  • Hy het sy Moses teëgekom (Eks. 14:28)
  • In die kring van die spotters (Ps. 1:1)
  • Die hand in eie boesem steek (Eks. 4:6)
  • ’n Dienende Marta (Luk. 10:38-42)
  • ’n Wolf in skaapsklere (Matt. 7:15)
  • Goed vir kwaad vergeld (Rom. 12:17, 21)
  • Jou brood op die water werp/gooi (Pred. 11:1)
  • ’n Gideonsbende (Rig. 7)
  • ’n Barmhartige Samaritaan (Luk. 10:25-37)
  • “Van waar Gehasi?” (2 Kon. 5:25)
  • Die weduwee se kruik (1 Kon. 17:14-16)
  • Dit is soos manna uit die hemel (Eks. 14:4, 15, 33)
  • Die skrif is aan die muur (Dan. 5:5)
  • ’n Ongelowige Tomas (Joh. 20:25)
  • Gee aan die keiser wat die keiser toekom (Matt. 22:21)
  • Jou talente begrawe (Matt. 25:26)
  • Iemand die leviete voorlees (Die boek Levitikus)
  • Die tweede myl saamloop (Matt. 5:41)
  • ’n Vlieg in die apteker se salf (Pred. 10:1)
  • Kom ek om, so kom ek om (Est. 4:16)
  • ’n Meulsteen om die nek (Matt 18:6)
  • ’n Steen des aanstoots (Rom. 9:32)
  • Sit in sak en as (Matt. 11:21; Job 2:8)
  • Hy is my regterhand (Jes. 41:10)
  • Die kalf is in die put (Luk. 14:5)
  • Die koring van die kaf skei (Matt. 3:12)
  • Die sondebok (Lev. 16:9, 10)
  • Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Matt. 12:34)
  • Ikabod daaroor skryf (1 Sam. 4:21)
  • Horende doof (Jer. 5:21; Mark. 4:12)
  • Jou pêrels voor die swyne/varke gooi (Matt. 7:6)
  • Op alles ja en amen sê (2 Kor. 1:20)
  • Jou daaglikse brood verdien (Matt. 6:11)
  • Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê (Matt. 7:12)
  • Berge versit (Matt. 17:20)
  • Die ark is oop (Gen. 8:15-19)
  • In Adamsgewaad/Evasgewaad (Gen. 3:7)
  • Hy is ’n regte Fariseër (Matt. 23:13)
  • Die vleispotte van Egipte (Eks. 16:3)
  • ’n Babelse verwarring (Gen. 11:9)
  • ’n Jabroer (Matt. 21:30)
  • Daar is niks nuuts onder die son nie (Pred. 1:9)
  • “Berge, val op ons!” (Op. 6:16)
  • Geen haan sal daarna kraai nie (Matt. 26:75)
  • Bloed sweet (Luk. 22:44)
  • Kop en skouers bo ander uitstaan (1 Sam. 10:23)

*Aanhalings uit die Bybel (1953/53-vertaling) verskaf deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

SNEL ·

Wonderlik!! Ja, ons kan so dankbaar wees om n Bybel in ons eie taal te hê, om nie eers te praat van Godsdiensvryheid nie. Het die idiome baie geniet en baie dankie vir die teksverse by hulle. Gebruik so baie van hulle en party sonder dat ek eers twee keer dink dit kom uit die Bybel uit, te lekker, eg Afrikaans. Nogmaals dankie vir die lys van hulle en so mooi uiteengesit.

Adri ·

Die aanhaling uit Ps. 104 aan die begin van die artikel is nie korrek nie. HERE moet in hoofletters gespel word omdat dit die vertaling van JHWH is. Onthou: geen jota of tittel mag verander word nie!

Kobus Bezuidenhout ·

Dagsê Adri

Baie dankie vir jou boodskap. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Kobus nms Maroela Media

Charles ·

Baie dankie, dis ‘n wonderlike artikel- elke Afrikaner moet dit lees.

Vraagteken ·

Almal kan so bietjie gaan lees oor die geskiedenis van die vertalling van die Bybel en hoe King Henry die 8ste dit beïnvloed/begin het om sy sin te kry. Dis eintlik ‘n bietjie van ‘n grap.

Christian ·

Dit is wonderlike om die Bybel in jou eie taal te lees maar dit was nie so goeie idee om ‘n Nederlands in twee te split nie. Vandag sit ons met die gebakte pere. Min Afrikaans sprekendes dit terwyl daar 25 miljoen Nederlands moedertaal sprekers in Europa is. Was dit nou regtig die moeite werd om uit een taal twee te maak? Nou staan ons alleen in die wêreld.

IK ·

Ek het my oorlede vader se 1933-Bybel gegee aan ‘n jong NG Predikant. Ek is seker die dametjie waardeer dit.

OWO ·

Goed vir kwaad vergeld is ook foutief.Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.