Brande: SA’ners maak harte, beursies oop vir boere

Bakkies Botha en Martin Bester glimlag groot nadat Jacaranda FM se luisteraars R3,6 miljoen ingesamel het vir hulp aan die boere van die Vrystaat en ander streke wat deur brande geteister is. (Foto: JacaBreakfast/Twitter)

Luisteraars van die Gautengse radiostasie Jacaranda FM het die rekordbedrag van R3,6 miljoen in slegs vier werksdae vir die boeregemeenskap van die Vrystaat en ander streke ingesamel.

Die Good Morning Angels-hulpprojek van dié stasie se ontbytprogram met Martin Bester as aanbieder het Woensdagoggend met ʼn bedrag van R1,765 miljoen se skenkings afgeskop wat reeds ingesamel is vir boere wat die afgelope ruk onder verwoestende brande deurgeloop het. Die bedrag is teen die einde van vanoggend se program na meer as R3 miljoen verdubbel.

Maroela Media het vroeër berig boere in streke van Wes-Vrystaat, Noordwes en selfs die Noord-Kaap, wat dorpe soos Hertzogville, Boshof, Hoopstad, Vryburg, Ottosdal, Schweizer-Reneke, Amalia en Warrenton insluit, het groot skade weens dié brande gely. Hulp vir die gemeenskappe wat op hulle knieë gedwing is deur die wegholbrande het reeds landwyd van ander boere, organisasies, farmaseutiese maatskappye en weldoeners ingestroom.

Naudé Pienaar, adjunkvoorsitter van Agri Noordwes en sameroeper van ʼn groep organisasies wat die skenkings koördineer, het aan Maroela Media gesê die skenkings help beslis om in die onmiddellike behoeftes van mense en diere te voorsien. Pienaar het egter gemaan dat die groot krisis in komende weke nog voorlê, want selfs al sou dit nou dadelik reën, sal dit ʼn geruime tyd duur voordat die veld behoorlik kan herstel.

Luisteraars van Jacaranda FM het met vrygewigheid en ondersteuning gereageer op die boeregemeenskappe se nood. Soveel as 100 000 ha se weiding, gewasse en plaasinfrastruktuur het die afgelope week in die slag gebly.

Die voormalige Springbok-slot Bakkies Botha het Vrydag ʼn beroep op die radiostasie se luisteraars gedoen om te help om ʼn konvooi vragmotors te borg. Die vragmotors was gelaai met voer vir beeste en ander vee, asook mediese voorrade vir veeartse om verbrande diere mee te behandel. Good Morning Angels het die projek, wat Botha saam met die niewinsgewende organisasie Boere Droogtehulp SA aanpak, met ʼn donasie van R50 000 afgeskop.

Aanvanklik sou daar eers net nege vragmotors Sondag na die Vrystaat vertrek het, maar danksy die ondersteuning van Jacaranda FM se luisteraars het meer as 50 vragmotors die gebied bereik.

Botha is nou besig om nog ʼn laaste noodkonvooi na die Vrystaat saam te stel, wat op 14 November na die provinsie sal vertrek, en al die geld wat met die hulp van die radiostasie ingesamel word sal vir hierdie missie van hoop aangewend word.

Bester het sy dankbaarheid teenoor die stasie se getroue luisteraars uitgespreek. “Hierdie is ʼn asemrowende storie van ondersteuning wat net weer eens bewys hoe goed Suid-Afrikaners in ʼn krisistyd kan saamstaan.”

Boere van die Vrystaat benodig nou hulp oor ‘n langer termyn na die wegholbrande erge sake veroorsaak het. (Foto: JacaBreakfast/Twitter)

Nog hulp stroom in

AfriForum ontvang ‘n eerste besending noodbokse vir boere. Lesers kan nog tot Vrydag bokse vir die projek skenk. (Foto: Verskaf.)

Terwyl daar beraam word dat die wegholbrande honderde, of selfs miljoene rande se skade aan ʼn verlies aan toerusting, voer en weiding kan beloop, het honderde stuks vee, waaronder beeste, skape en wild, doodgebrand of moes van kant gemaak word. Talle ander diere moet ook vir ernstige brandwonde behandel word.

Dit het ʼn plaaslike dieregesondheidsmaatskappy, Afrivet, genoop om medisyne en kontant ter waarde van R100 000 aan die fondse vir hulp vir die veldbrande geskenk.

Volgens Vuyo Makapela, direkteur van Afrivet, het boere, plaaswerkers en kleinskaalse vee-eienaars ʼn behoefte aan breëspektrum antibiotika vir hulle diere, energielekke soos melasse of lekblokke, ruvoer, bykomende weiding en plastiekpype vir waterverskaffing. Brandstof en vervoer vir die verspreiding van die skenkings word ook benodig terwyl pale, drade en omheiningsmateriaal om die beskadigde infrastruktuur te herstel ook verwelkom word.

“Ons vra almal wat in staat is om die boere te help om asseblief kontak te maak met enige van die organisasies wat die hulppogings koördineer. Onthou geen boere, geen kos. Daarom moet ons vir hulle help sorg soos wat hulle altyd na ons help omsien,” pleit Makapela.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het op sy beurt ʼn projek van stapel gestuur waar ondersteuners ʼn noodboks vir boere kan pak wat al hul besittings in dié brande verloor het.

Gemeenskappe kan bokse pak wat toiletware, blikkieskos, beskuit, koekies, koffie, tee, suiker, langlewemelk en oor-die-toonbank-medisyne bevat.

Die bokse moet teen Vrydag 30 Oktober by AfriForum se hoofkantoor in Kloofsig, Centurion, afgelewer word. Die bokse word op 31 Oktober na die brandgeteisterde gebied geneem. Besoeke AfriForum se webwerf vir meer inligting oor die projek en nog versamelpunte vir die bokse.

  • Luister na Woensdagoggend se program hier op Jacaranda FM se webwerf. Lesers wat graag nog ʼn skenking aan dié projek vir die boere wil maak, kan steeds help deur die skakel op Jacaranda FM se webwerf te klik. Alle geld wat van Vrydag 23 Oktober tot middernag op Woensdag 28 Oktober ingesamel word, sal aan die boeregemeenskappe wat deur die plaasbrande geteister is geskenk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Zandra ·

dankie klink so min, so afgewater as ons maar net ‘n beter woord kon hê,

alle Lof en Eer aan die Koning!

in ‘n donker tyd, in ‘n donker land, met donker toekoms, weet ek dat as ons saam kan staan ons steeds ‘n verskil kan maak~!

isabelle ·

absoluut wonderlik!!!! Dit gee my HOOP vir ons land DANKIE DANKIE

Sarel ·

Dit is hoekom hulle die Afrikaner nooit maar nooit sal bree nie

Johann ·

Sien net nerens dat enige EFF manne toe gesluit is vir brandstigting nie?

Prontuit ·

wow gee mens hoendervleis! Dis hoe dit gedoen moet word wel gedaan almal wat betrokke was maak my trots om te se ek is ‘n Suid Afrikaner, dis in ons bloed!!!!! meerderheid van ons, oop hande met oop harte, waar is die regering nou??? dit het tog van sy mense ook geraak, baie werkers se huise is ook afgebrand ;-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.