Foto’s: Groot likkewaan in Pretoria gered

Die likkewaan is 1,2 meter lank (Foto: Verskaf)

’n Reuselikkewaan van sowat 1,2 meter het Dinsdag groot opwinding veroorsaak toe hy Pretoria se strate ingevaar het. Dié ou grote het uit ʼn drein in die middestad geklim en is intussen gered en terug in die natuur geplaas.

Nelia Hurter sê die likkewaan is vroegmiddag oorkant hul paneelklopsaak in Koedoespoort se nywerheidsgebied in Pretoria gewaar.

Sy vertel hul sekuriteitsman, Stephen Jacobs, het net voor 14:00 gesien hoe die likkewaan by die gebou oorkant die pad uit ’n drein klim. Hy het daarna vir Hurter geroep om te gaan kyk.

“Ek het geweet ons moet die outjie vang, want anders gaan iemand hom doodmaak óf hy gaan deur ’n motor in die besige straat getrap word,” vertel Hurter.

Hurter het ’n baie sagte plek vir diere en het uit desperaatheid om die likkewaan te help by die Dierebeskermingsvereniging en die dieretuin in die stad om hulp probeer aanklop het. Sy vertel dat sy egter nie reaksie van hulle gekry het nie.

Brendon hou die likkewaan vas (Foto: Verskaf)

Sy het toe vir privaatspeurder Mike Bolhuis gekontak om hulle te help om die likkewaan te vang en weer vry te laat. “Ek weet hy is ook baie lief vir diere en is bekend daarvoor om graag met sulke projekte te help.”

Jacobs het intussen die likkewaan vasgekeer en ’n kombers oor sy kop gegooi. Hy het hom aan die stert beetgekry en in ʼn 200 liter drom gegooi. Hy het ’n deksel bo-op die drom gesit sodat die likkewaan nie kon uitklim nie. Die likkewaan was egter aggressief en het verwoed probeer om uit die drom te klim.

Bolhuis het sy plaasbestuurder, Brendon Riley, gestuur om die likkewaan te gaan haal. Hy het hom by die Roodeplaat-natuurreservaat, wat teenaan die Roodeplaatdam geleë is, vrygelaat.

Bolhuis sê hy vermoed die likkewaan kon dalk met ’n waterkanaal van die Magaliesbergreeks afgeswem het en só in die drein beland het.

“Dit is ongetwyfeld dat ’n motor hom sou trap. Dit is goed om te sien hoe mense soos Hurter-hulle die moeite gedoen het om hulle oor die reptiel te ontferm.”

Hy sê hulle kry gereeld met likkewane in die stad te doen.

“Daar bestaan kommer oor die uitwissing van likkewane, want mense maak hulle onnodig dood omdat hulle bang is vir dié diere. Mense is ook onkundig oor likkewane.”

Bolhuis het gesê die publiek is welkom om hom te kontak indien hulle met wilde diere te doen kry wat vry rondloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lindi ·

Baie dankie dat julle die dier gered het! Hulle verdien ook ‘n lewe!

Ansie ·

Baie dankie Stephen, Brendon, Mike. Likkewane hou geen bedreiging in vir mense nie, maar kan jou lelik seermaak as hy vasgekeer word.

Marietjie ·

Dankie Bredon. Ek weet jy is fantasties goed met diere.

Eend Bessinger ·

Hy was net op pad na groener weivelde… en toe kry hy ‘n gratis rits na die beste weiveld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.