Samekoms, dis waarvoor ons gebou is

(Foto verskaf)

Daar klop Stellenbosch vir Kaizer Chiefs in die Danie Cravenstadion voor ʼn tuisskare wat juig en ék juig ewe lekker saam. Ek wat nie eers ʼn aanhanger van sokker is nie maar danksy Stellenbosch Toerisme se gasvryheid my eerste DStv Premierligawedstryd kon beleef, en soos ʼn vriendin van my sou sê: dít was nou ʼn belewenis.

Dit is nie net die skare se waardering vir die vlugvoetige vernuf van die 22 manne in die goue- en maroentruie wat my so lekker laat saamkuier het nie, maar die gees wat soos die son oor Die Pieke gesak het al hoe meer vlamgevat het.

Shane Arendse se lekker ritmiese liedjie, “Ma, ek wil ʼn Villa wees”, bring die toeskouers twee keer, heupswaaiend en arms in die lug op hulle voete. Almal sing saam: Kom haal jou soentjie, kom haal jou lemoentjie… by die Villa boys… Pa’s dans met hulle dogtertjies op hulle skouers wat kop agteroor kraai van lekkerkry.

Ek het net hier en daar die bewegings op die veld bekyk want die paartie op die pawiljoen was vir my veel meer vermaaklik, en die opmerkings en kommentaar, kosbaar. ʼn Verkeerde beweging of ʼn verspeelde geleentheid het sterk gekruide taal ontlok wat almal binne hoorafstand laat skaterlag het. Buurman skuins agter was gegrief met een speler in besonder se “passes” en het die wag voor sy mond vir die 90-plus minute wye draaie laat loop.

(Foto verskaf)

Skuinsonderkant ons spring Stellenbosch FC Fan #1 op en kry ons blok se mense aan die “Stêêêlies, Stêêêllies” en “Hier kom ʼn ding! Hier kom ʼn ding!”

Tussendeur dra vreemdelinge, verenig onder hulle spankleur, biere aan vir mekaar. Springmielies en burgers word ook gulhartig met die ry af gestuur. Die groot man aan my regterkant verorber ʼn pakkie tjips met delikate handbewegings. Een vir een. Elke tjippie word met ʼn netjiese toe mond rasperfyn gekou terwyl sy gesperde oë die veld nie vir ʼn millisekonde verlaat nie. Aan die oorkant van die veld weerklink die ritmiese gedoef van die Amakhosi-ondersteuners se dreunsang maar soos die telbord onveranderd in Stellenbosch se guns bly, begin hulle ore hang en dryf die stemme gou in die koel aandlug weg.

(Foto verskaf)

Die spanning in die ganse stadion in die vyf minute beseringstyd kan met ʼn mes gesny word en toe blaas die eindfluitjie en dawer die maroenspan se pawiljoen. Die underdogs se ondersteuners is buite hulleself. Reuse-glimlagte oral, vat vyf en drukkies vir al wat leef en beef.

Stellenbosch Sokkerklub: 1
Kaizer Chiefs: 0

Ons stap langs die Eersterivier terug na ons motor en luister na die vrolike stemme en gemoedelikheid van almal wat huiswaarts keer. Hier en daar neurie iemand nog “Kom haal jou soentjie, kom haal jou lemoentjie…”

Dit is nie net die wen en die skuimende bier wat ons medestappers so jolig maak nie. Dit is die feit dat ʼn paar duisend mense na soveel droë maande, sonder maskers en sonder linte of kruise om ons van mekaar af weg te hou, weer net kon mens wees en saamkuier.

Dis mos waarvoor ons gebou is.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Ek kry dieselfde gevoel as ek tussen mense van my kultuur, taal en geloofs oortuiging goed doen.

Treurwilger ·

‘n Lekker stuk lees.
Presies die gees en atmosfeer van die toentertydse Maties.
Tog jammer dat “Stellies” ten koste van Maties moes gebeur, en nie in aanvulling daartoe nie.
Oop vir oortuiging as dit nié so is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.