‘Toekomsbestande jongmense broodnodig’

Klaus König (Foto: Verskaf)

Klaus König, skoolhoof van Helpmekaar Kollege, kan met reg trots wees op dié skool se uitslae in die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen van 2022, maar ná 20 jaar aan die stuur van dié privaat skool in Johannesburg, bly die holistiese toerusting van elke leerder vir dié passievolle reisiger steeds veel belangriker as spoguitslae. En daarom ken én noem hy elke kind op die naam.

“Ofskoon ons uitslae ʼn onbetwisbare, meetbare maatstaf is van die uitnemende onderrig wat leerders aan Helpmekaar Kollege ontvang, is elke kind uniek, en strek ons onderrigtaak veel verder as ʼn papier propvol persentasies; statistieke, syfers en simbole,” sê König.

“Die realiteit is dat ʼn matrieksertifikaat op sigself lankal nie meer ʼn waarborg vir geopende loopbaandeure is nie. Trouens, deurvloeistatistieke toon duidelik dat selfs universiteitstoelating nie ʼn onfeilbare paspoort bied om jou pad na en deur die snelveranderende wêreld van werk te navigeer nie.

“Navorsing toon dat minder as 6% van jongmense ʼn driejaargraad binne vier jaar voltooi. Baie leerders kry dus toelating tot graadstudie, maar kan nie die drukmas opkom nie, het nie ʼn duidelike beroepswenpaal voor oë nie, en beland dan ná matriek in ʼn maalkolk van middelmatigheid, ʼn oorlewingstryd om kop bo water te hou – goeie matriekuitslae ten spyt,” sê König.

Met dié kommerwekkende werklikheid voor oë, was dit nog altyd Helpmekaar Kollege se fokus om leerders pleks van kurrikulum- en eksamen-afgerig eerder met ʼn selfgedrewendheid wêreldwys én lewensfiks te maak, meen hy.

“Deur ons leerders met die weerbaarheid toe te rus om enige uitdaging op enige plek ter wêreld kaalvuis te pak, buitengewone druk te kan hanteer, wyd en vernuwend te midde van vinnige verandering te kan dink, én die unieke persoon in die spieël met aanvaarding en selfvertroue te kan omarm, ontsluit jy ʼn toekoms wat enersyds nie in geldwaarde gemeet kan word nie en andersyds nie in wispelturige wipwarittye sal wankel nie.”

Klaus König (Foto: Verskaf)

Helpmekaar Kollege staan dalk in die hartjie van Johannesburg, maar danksy die internasionaal erkende IEB-kwalifikasie, spog dié skool jaarliks met tientalle matrieks wat toelating tot die wêreld se mees gesogte universiteite kry. Of dit nou Cambridge of Harvard, Princeton of Massachusetts is – die kans is uitstekend dat jy

ʼn oud-Helpie hiér of in die wandelgange van die wêreld se voorste maatskappye sal raakloop.

Toekomsgerig en toekomsbestand

Volgens König bestaan die gevaar dat talle ouers slaagsyfers en statistieke, sportprestasies en skoolgeboue dikwels as (enigste) keusemaatstaf inspan wanneer hulle op ʼn hoërskool vir hul kind besluit. “Daar is egter ʼn reuseverskil tussen eksamengereed en toekomsgereed. Dit vra ʼn kopskuif van ouers. Skoolkeuse is vandag meer as ooit ʼn maak-of-breek-besluit, ʼn kritieke keuse. Gaan jou kind lank ná die vonkelwynborrels van die uitslagvierings verslaan het as toekomsbestande en standvastige jongmens sukses smaak, ʼn roepingsgedrewe verskil maak, en waarlik lééf – nie net oorleef nie?

Klaus König (Foto: Verskaf)

“Met dié diep verantwoordelikheidsbesef teenoor elke kind, vorm die Hart van Helpmekaar die spilpunt van wie en wat ons is. ʼn Hart met vier kamers – akademie, sport, kultuur en sosiaal – met ʼn onblusbare gees(drif), onwankelbare geloof en ongekende toewyding wat deur ons are bruis. Wat uiteindelik hartsdividende met ewigheidswaarde oplewer,” sê hy.

“Dit is soveel meer as 102 jaar oue bakstene, briljante prestasies en ʼn hoogs bekwame personeelkorps. Dis ʼn onbegrensde ingesteldheid en ideale los van tyd en ruimte, waarin daar vir elke unieke individu ʼn plek in die son is. Die lewe staan nie bakhand aan die punt van ʼn fabrieksmonteerlyn om 100%-slaagsyfers en ʼn rits onderskeidings op te raap nie. Die lewe vra soveel meer: staan uit óf staan eenkant toe. Want selfs ʼn dooie vis kan stroomaf swem!

“Die wêreld kort ligdraers, verantwoordelike verskilmakers met ʼn verkyker in die hand. Wêreldburgers met ʼn ingeboude navigasiestelsel om hul weg te kan vind én nuwe weë te kan baan. Vrydenkers met die vermoë om te groei en gedy, ongeag waar hulle geplant word.”

Volgens hom is matriek daarom nie ʼn wenpaal nie, maar ʼn wegspringplek na ʼn toekoms waarin elkeen ʼn unieke rol moet speel om die wêreld ʼn beter plek te maak. “Daarom moet ons ons kinders met soveel meer as blote boekekennis toerus. Die lewensilabus is onvoorspelbaar én dikwels ongenaakbaar. Verskonings soek én maak is volop. Om ʼn volhoubare verskil te maak, verandering teweeg te bring, aanpasbaar te wees en in stormtye vas te kan staan, is enersyds skaars en andersyds broodnodig. Ons is dié vaardighede aan ons kinders verskuldig,” sê König.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.