Video: Voortrekkermonument in rep en roer vir Gelofteweek

Geloftedag by die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Johan van Vuuren)

Die Voortrekkermonument (VTM) se terrein in Pretoria is in rep en roer ter voorbereiding vir die jaarlikse Gelofteweek wat vandag afskop.

Dít is in aanloop tot Geloftedag wat jaarliks op 16 Desember gevier word.

Stalletjiehouers is al van vroegdag af besig om stalletjies in te rig, personeel sien toe dat die terrein spiekeries lyk vir besoekers wat later vandag gaan begin opdaag, en selfs die plaaswerf se perde word behoorlik vir dié geleentheid geborsel.

Die Gelofteweek-feesvieringe op die Voortrekkermonument se perseel vind tussen 8 en 16 Desember daagliks tot 22:00 plaas.

“Dit is die beste Gelofteweek-program wat nog aanmekaar gesit is, wat oud en jonk sal vermaak. Ons nooi mense van naby en ver om hierdie week saam met ons te kom geniet,” sê Henk Maree, bedryfshoof van die Voortrekkermonument.

Daar is optredes deur gewilde sangers soos Bernice West, Elandré en Juanita du Plessis, en klassieke uitvoerings soos Kerssang by Kerslig. Teaterliefhebbers kan uitsien na toneelstukke soos Liewe Heksie en komedies soos Dinner for one.

‘n Speelpark vir die jongspan by die Voortrekkermonument spesiaal vir Gelofteweek. (Foto: Maroela Media) 

Dié fontein is onlangs by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebring. (Foto: Maroela Media)

Pretaktiwiteite vir die kleinspan soos boeresport, plaaswerfdag en handwerk-aktiwiteite word by die Pioniersentrum aangebied. Tydens die fees is daar ook ʼn heerlike Kersmark met meer as 200 uitstallers en smullekker kosstalletjies.

Besoekers sal elke aand om 19:00 die geleentheid kry om, nes die Voortrekkers, Die Gelofte saam in die Lewende Laer op te sê. Die Voortrekkers het in 1838 dié spesiale eed voor die Slag van Bloedrivier afgelê.

Word deel van die geskiedenis

“Vanjaar is ʼn spesiale Geloftejaar, want dit is die 185ste gedenkjaar van die Groot Trek en die Gelofte. Ons vier die Gelofte om ons Christelike kultuur te onthou,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument.

Die Gelofte sal elke aand om seweuur in die Lewende Laer by die Voortrekkermonument tydens Gelofteweek afgelê word. (Foto: verskaf)

Die Voortrekkermonument het dit verder goedgedink om die mense wat Geloftedag op 16 Desember bywoon, se name in hul argief te verewig. Hierdie persone se name sal ook in ʼn tydkapsule kom wat met die 200 herdenkingsjaar van die Groot Trek oopgemaak sal word.

“Ons wil mense aanmoedig om elkeen in hul gesin se name te registreer. Verlede jaar het ongeveer 20 000 mense Geloftedag by die Voortrekkermonument bygewoon en ons is hoopvol om die amfiteater vanjaar vol te pak tot sy volle kapasiteit van 44 000 mense,” voeg Langer by.

Die VTM wil Afrikaners vanjaar opnuut aanmoedig om die Gelofte af te lê. Klik hier en neem deel aan dié inisiatief deur te laat weet waar jy vanjaar Geloftedag gaan herdenk.

Maroela Media het met ʼn paar stalletjiehouers en van die personeel van die Voortrekkermonument gesels om te hoor wat hulle opgewonde oor vanjaar se Gelofteweek maak. Dié video bied ook ʼn voorsmakie van wat besoekers kan verwag:

  • Registreer jou en jou gesin se plek vir Geloftedag, en koop jou Gelofteweek-kaartjie hier: https://vtm.org.za/gelofteweek-2023/.
  • Algemene toegangskaartjies bied toegang tot al die stalletjies en die aktiwiteite wat die publiek kan geniet. Kaartjies vir musiekoptredes en toneelstukke kan bykomend aangekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.