Weet word een! ʼn Jaar reeds aanlyn vir leerders

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Weet, die e-naslaangids vir leerders, is op 8 Maart 2023 amptelik een jaar oud! Dié platform gee vir ʼn jaar lank reeds aan leerders toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen.

Daar is byna twee jaar voor die tyd agter die skerms gewoel en werskaf voor die webblad op 8 Maart 2022 bekendgestel is – toe met net meer as 200 artikels oor die laerskoolkurrikulum se vakke. Vandag spog Weet met byna 550 gepubliseerde artikels.

(Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch / Maroela Media)

Hierdie artikels dek nie meer net die kurrikulum nie, maar gee ook inligting oor geskiedenisonderwerpe waaroor kinders kennis behoort te dra, maar nie noodwendig meer op skool leer nie. Van die Anglo-Boereoorlog en die groot wêreldoorloë, tot belangrike mense en gebeure in die geskiedenis word op Weet bespreek.

Weet se projekbestuurder, Petronel Fourie, verduidelik: “Is jy nuuskierig oor die Krugermiljoene? Weet het interessante inligting wat jy kan lees. Wonder jy wie Justice Mohamed was as jy in Pretoria in sy straat afry? Gaan lees meer oor hom op Weet. Moet jy ʼn taak oor demokrasie doen waaroor jy kopkrap? Weet bevat al die inligting daaroor en gee boonop voorbeelde van demokratiese leiers. Jy kan selfs oor ander ideologieë op Weet lees, soos kapitalisme, sosialisme en kommunisme.”

die-weet-span.jpeg

‘n Paar van Weet-medewerkers is links na regs Dawid Brand, Ilze Nieuwoudt, Elana Barker (inhoudsbestuurder), Jopie Koen, Stefan van Zyl, Petronel Fourie (projekbestuurder), Monique Rabé, Annami Simon en agter staan Zerelda Esterhuizen.

Buiten die sewe laerskoolvakke waaroor daar ʼn oorvloed inligting beskikbaar is, vertel Weet jou ook meer oor ons eie volkshelde en kunstenaars, oor Einstein, Thatcher en Churchill, oor natuurverskynsels en die diereryk. Die inhoud strek van strokiesprente en skoenlappers, tot Volkskas, die Franse Rewolusie en Freud.

“Eskom is deesdae altyd in die nuus – op Weet kan jy lees waar hierdie staatsonderneming vandaan kom. Die rugbyseisoen lê voor ons – gaan lees op Weet hoe rugby in Suid-Afrika begin en ontwikkel het,” voeg Fourie by.

Weet het ook in die afgelope jaar nog drie skrywers by die span betrek. Daar is tans sewe gesoute joernaliste, ervare navorsers en geoliede taalkundiges wat Weet se inhoud genereer. Nadat ʼn artikel geskryf is, gaan dit eers deur ʼn deeglike gehaltebeheerproses met kundiges, teksversorgers en kritiese lesers wat dit onder hande neem voordat dit gepubliseer word. Elke artikel bevat ook gepaste prente om die inhoud aan te vul, video’s en bykomende leesstof vir die nuuskieriges asook ʼn woordbank wat moeilike terme in die artikel verduidelik.

weet-logo-5-03-scaled.jpgWeet het in die afgelope jaar baie positiewe terugvoer op die webblad ontvang. ʼn Onderwyser het aan ons geskryf om dankie te sê vir ʼn ensiklopedie wat sy in haar klaskamer kan gebruik: “Dit maak my voorbereiding makliker en die kinders geniet die saamlees. Weet is beslis deel van my klaskamer!” ʼn Ander gebruiker het onlangs geskryf dat sy dit baie geniet om oor die geskiedenis te lees. Nog ʼn gebruiker skryf: “Wow, wat ʼn fantastiese webwerf, regtig uniek”.

Weet waardeer elke boodskap van gebruikers en verwelkom ook voorstelle van die publiek af. “Weet is ʼn projek vir, en in samewerking met kinders, ouers en onderwysers. Ons wil daarom graag van jou hoor. Laat weet ons wat jy dink – kritiek én komplimente is welkom!” sê Fourie. Stuur gerus jou terugvoer deur aan [email protected] of voltooi hierdie kontakvorm.

Alles wat jy moet weet is beskikbaar by weet.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ABDP ·

Baie dankie Weet! Ons loer gereeld in op jul webtuiste. Weet informasie kom voor in ons redenaarstoesprake en sorg dat ons take goeie inligting bevat. Julle doen goeie werk!

Harley Davidson ·

Die webtuiste moet meer geadverteer en bekend gemaak word ek is gereeld op MM en het gladnie geweet van hierdie noodsaaklike webtuiste nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.