Gedagte vir die dag: Die Here van die leërskare

bid_oggendson_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Die Here van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. Laat staan en weet dat Ek God is. (Psalm 46:2, 8, 11)

In jou geheime plek sal jy die Here van die leërskare ontmoet. Die Hebreeus vir Here van die leërskare is Jahwe Sebaot. Hierdie Naam van God stel ’n magtige militêre bevelvoerder voor, Een wat met net een woord linie op linie beskermende magte kan oproep. Die hele skepping is onder die beheer van God en gehoorsaam sy soewereine bevele. Die Here van die leërskare het die heelal tot sy beskikking om sy doel te bereik. Die hele skepping veg ter wille van die Here van die leërskare. God gebruik sy oppermag in die heelal vir ons, sy kinders, se onthalwe.

Wanneer laas het God Homself ter wille van jou as magtig openbaar? As dit nie onlangs was nie, dan is dit nie omdat Hy sy krag verloor het nie. Nee! Sy krag bly onveranderd tot in alle ewigheid! Die probleem lê by ons. Om toegang tot sy krag te verkry, moet ons Hom ken. Ons kan Hom nie ken as ons nie tyd saam met Hom spandeer nie. Dis in jou geheime plek waar jy Jahwe Sebaot sal leer ken. Dis daar waar die God van Jakob jou toevlug sal wees. Jesus het ook na die eensame plek verwys: “Vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid” (Markus 1:35).

As dit met jou swaar gaan en jou probleme lyk onoorkomelik, dan het jy nodig dat die Here van die leërskare Homself magtig openbaar en jou kragtig ondersteun. Onttrek na die plek waar jy in afsondering tyd saam met Hom kan spandeer. Lê die situasie aan sy voete neer. Plaas jou las aan die voet van die kruis. Jesus sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matteus 11:28-30).

 My Vader, die Here van die leërskare, ek nader tot U en lê my laste neer aan die voet van die kruis. Jahwe Sebaot, ek vra U om Uself vandag, om my onthalwe, magtig te openbaar. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

isabelle ·

ek getuig vandag oor hoe wonderlik en genadig die Vader is Ek glo Hy het groot planne vir die wat op Hom vertrou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.