Luister: Dawie Duif en die pers veldblommetjies

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede het my vriend Dawie, ʼn pragtige grys duif, langs die pad gaan sit om te rus. Hy was baie dors en op soek na ʼn bietjie water. Voor hom sien hy die pragtigste pers veldblommetjies. Kom ek vertel julle wat daardie dag gebeur het.

“Hallo, blommetjies,” groet Dawie opgeruimd. Die blommetjies kyk mekaar verbaas aan. Hulle wonder hoekom Dawie Duif so opgewonde is.

“Môre, Dawie Duif, hoekom is jy so vrolik?” vra een van die blommetjies.

“Dit is ʼn nuwe dag wat ons Skepper gemaak het, daarom is ek bly. Ek kan rondvlieg, na kossies soek en heeldag speel,” antwoord Dawie Duif.

Die blommetjies klink hartseer: “Jy is gelukkig. Ons moet net heeldag hier in die son bly en wag vir reën.”

Dawie kan sy ore nie glo nie. “Julle is dan so mooi hier langs die pad. Ek het al gehoor hoe mense julle bewonder tussen die vaal gras en bruin klippe.”

“Het jy dit regtig gehoor?” vra die blommetjies.

“Ja, en ek dink ook julle is baie mooi. Julle lyk soos ʼn koningskleed wat hier lê,” sê Dawie Duif. “En ek het ook gehoor die mense sê julle laat hulle aan die Woord van God dink.

“Dawie Duif,” sê die blommetjies en hulle gesiggies helder op, “hoe laat ons mense aan die Woord van God dink?”

Dawie sê: “Wel, ek het gehoor hulle praat van ʼn gedeelte in Jesaja. Dit is Jesaja 40 vers 6 tot 8: “Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ʼn blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”

 fletcher-dawie-duif.jpg“Ons is baie bly jy het vandag hier kom sit. Ons gaan nou nie meer kla nie en ons gaan elke dag op ons mooiste lyk sodat almal God se skepping kan geniet,” roep die veldblommetjies uit.

“Ken julle daardie liedjie Twinkle, twinkle little star?” vra Dawie.

“Ja!” roep al die blommetjies gelyk uit.

“Nou kom ons sing die volgende twee sinne op die wysie van daardie liedjie,” stel Dawie voor.

“Ek is bly. Ja, ek is bly

God het my met ʼn doel gemaak.”

“Kom ons sing dit weer”.

“Ek is bly. Ja, ek is bly

God het my met ʼn doel gemaak.”

Dawie groet die singende pers veldblommetjies vriendelik en vlieg toe met ʼn lied in sy hart daar weg.

Maats, Dawie Duif is reg. Ons moenie oor alles kla nie. Ons moet eerder bly wees dat God ons met ʼn doel gemaak het. Kom ons blom waar ons geplant is.

Kom ons bid saam

Here, U is ʼn goeie God. Baie dankie dat U die skepping so mooi gemaak het. Help ons onthou dat U ons met ʼn doel gemaak het. In die naam van Jesus, amen.

Bybelversie om te onthou

Jesaja 40:8  “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid”.

Aksie

Maak jou eie liedjie (al is dit net twee sinne) om te sê hoe bly jy is dat God jou met ʼn doel gemaak het. Jy kan enige liedjie se wysie gebruik.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.