Luister: Fletcher is ontevrede

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek. Gaan lees meer.

Hallo maats, my naam is Fletcher. Ek is ʼn wit perd met bruin vlekke. My een oog is blou en my ander oog is bruin. Ek woon saam met my twee maats Christiaan en Lallie en hulle pappa en mamma op ʼn plaas. Christiaan is nou 9 jaar oud. Hy het bruin hare en blou ogies. Lallie is 6 jaar oud en het lang, blonde hare en blou ogies.

Fletcher is ontevrede

“Hier kom hulle nou aan. Hallo julle twee. Ek het nou net gewonder waar julle vandag is,” sê Fletcher.

“Haai Fletcher, ons was net gou winkels toe saam met ons mamma. Hier is vir jou ʼn heerlike rooi appel,” sê Lallie.

“Ai, maar dit lyk baie lekker. Dankie, Lallie”, sê Fletcher.

Hoe gaan dit vandag met jou, Fletcher?” vra Christiaan.

Dankie dat jy vra, my ou mater, maar as ek moet eerlik wees … hmmm, dan gaan dit nie so goed met my nie,” erken Fletcher.

Lallie lyk bekommerd en vra: “Fletcher, wat het dan gebeur? Jy is altyd so vrolik!”

“Ag ou Lallie, ek is nie tevrede met myself nie,” sê Fletcher.

“Wat?!” roep Christiaan verbaas uit. “Hoe so? Jy is die mooiste en oulikste perd wat ek nog ooit gesien het.”

“Dis wat jy in jou koppie dink, maar in my kop sien ek myself nie so nie. Ek wil eerder ʼn groot en sterk ligte bruin leeu wees met sulke pragtige swart maanhare en groen oë. Wanneer ek brul, moet al die diere sommer so op aandag spring,” sê Fletcher.

“Sjoe, maar jy is mos nou besig met dagdromery!” Lallie roep uit.

“Nee,” sê Fletcher skaam, “dis regtig wat ek wens.”

Christiaan kry ʼn blink plan. “Fletcher, sê bietjie vir my, wat eet leeus?”

Fletcher dink so ʼn rukkie en sê: “Hulle eet vleis.”

“Dis reg, ja”, sê Christiaan. “So dan sal jy ook lekker rou, rooi vleis moet eet as jy ʼn leeu wil wees. Jy sal boonop nog eers die bok moet vang ook.”

Fletcher(3)_Cecile VerskafSkielik begin Fletcher gril en trek sy neus op. “Jiggie, ek wil nie vleis eet nie. Goed, dan los ek maar die leeu. Ek wil eerder ʼn groot, grys haai wees wat so heerlik in die oop see swem tussen blou, geel en oranje vissies. Niks en niemand sal vir my bang wees nie,” sê Fletcher.

“O nee,” sê Lallie. “Sê nou jy word in ʼn haainet gevang. Of het jy al daaraan gedink dat jy dan sal moet vis eet?”

Fletcher begin weer gril en trek sy neus op. “Jiggie, ek wil nie vis eet nie. Nou goed, dan wil ek eerder ʼn bruin arend met ʼn geel snawel wees wat kan vlieg net waar ek wil.”

Christiaan dink aan Fletcher se liefde vir appels. “Ai, ou Fletcher, dan sal jy hasies en muise moet vang om te eet. En jy sal in ʼn nes hoog bo in ʼn boom of op ʼn krans moet bly.”

Fletcher begin weer gril en trek sy neus op. “Jiggie, ek wil nie hase en muise eet nie. Ek wil ook nie so hoog bly en slaap nie. Nou goed, ek verstaan wat julle vir my wil sê. Ek sal dan maar net ʼn perd bly.”

Christiaan sê opgewonde: “Fletcher, jy is nie sommer net ʼn perd nie! Jy is my en Lallie se beste dierevriend. Ons kan altyd met jou kom gesels as ons nie lekker voel nie en dan gee jy vir ons raad. Jy was nog nooit lelik met ons of met die ander diere op die plaas nie. Al ons maats wat hier kom kuier wil altyd op jou ry, want jy is die mooiste dier. Jy maak soveel harte bly. Moet asseblief nooit weer wens jy was iets anders nie. Pappa God het ons elkeen op aarde uniek gemaak. Uniek beteken niemand of niks anders is soos jy nie. En Pappa God het dan self in die Bybel gesê alles wat Hy gemaak het, is goed.”

“Haai julle, ek het nog nooit só aan myself gedink nie. Sjoe, baie dankie dat julle vandag by my kom kuier het. Wat sou ek sonder sulke wonderlike maters soos julle gedoen het? Ek is bly God het my ʼn perd gemaak. Ek is uniek en so wil ek bly. Nou is ek uiteindelik tevrede met wie ek is,” sê Fletcher.

Ja maats, moet nooit wens julle was iemand anders nie. God het ons uniek gemaak met ʼn spesiale doel in die lewe. Ek hoop jy is net so tevrede soos ek met wie jy is. Onthou om vir julle troeteldiere kos en water te gee.

Kom ons bid saam

Vader God, ons bid vandag want ons is lief vir U. Help asseblief almal wat hierdie boek lees om tevrede te wees met wie hulle is en om te onthou U het elkeen goed gemaak. In die Naam van Jesus Christus bid ons dit. Amen.

Bybelvers om te onthou

“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”  (Genesis 1:31)

Aksie

Teken ʼn prentjie van jouself om vir Jesus te wys jy is tevrede met hoe Hy jou gemaak het.

Nog Fletcher-stories:

Meer oor die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Meer oor die outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

Die boek is in 2008 gepubliseer deur Publiself uitgewers onder die naam:  Fletcher Goeie Nuus Avonture – ISBN 978-1-920286-15-6

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Dankiee. My kleindogter van 3 kuier vanmiddag. Ons gaan storie luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.