Luister: Fletcher is bang

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Hallo maats, dis weer kuiertyd. Ek hoor Lallie en Christiaan gaan met vakansie. Sjoe dit klink lekker, né. Waar hou julle gewoonlik vakansie?

“Goeiedag, Fletcher,” groet Lallie vriendelik.

“Hallo, julle. Ek gesels nou met die maats oor vakansietyd,” sê Fletcher.

“Hmm, wat het jy gesê?” vra Christiaan.

“Ek het vir die maats vertel julle gaan met vakansie. Waarheen gaan julle?” wil Fletcher weet.

“Ons gaan vir ʼn hele week see toe. Jippie, ek kan nie wag nie!” roep Lallie uit.

“Haai, maar dis dan sommer een van die dae,” sê Fletcher hartseer.

“Nou hoekom lyk jy so hartseer?” vra Christiaan verbaas.

“Ek gaan julle nie sien nie en met wie gaan ek dan elke dag so lekker gesels?” wil Fletcher weet.

“Ag ou Fletcher, dis net sewe dae dan is ons weer terug. Ek gaan my pienk swemklere en my pers handdoek en sonroom in my tas pak. En my groen emmertjie en sommer nog baie ander goeters. En dan gaan ons met pappa se bakkie ry. Ons gaan ʼn hele paar uur tot by die see ry. En ons gaan kyk wie van ons eerste die see sien. Jy kan solank aan lekker baie stories dink om ons te vertel as ons terugkom,” antwoord Lallie.

“Nee, nou wil ek nie hê julle moet weggaan nie. Sê nou maar julle kom nie terug nie. Of sê nou julle verdwaal en kry nie weer die huis nie. Of julle kuier en swem so lekker dat julle nie wil terugkom nie,” sê Fletcher benoud.

“Haai Fletcher, waar kom jy aan die lawwe idees?” vra Christiaan. “Ons sal jou mos nooit vir altyd alleen hier los nie. William, ons plaaswerker, gaan elke dag met jou speel en ons kom verseker terug na jou toe.”

“Dit help nie jy troos my nie. Ek is bang. Jammer dat ek so voel, maar ek kan dit nie help nie,” snik Fletcher.

Lallie vryf oor Fletcher se voorkop. “My liewe ou Fletcher, ek is so lief vir jou en ek wil jou nie by die huis los nie. Maar Pappa het gesê daar waar ons gaan bly is nie plek vir diere nie.

Dit laat my nou dink aan wat Mamma gisteraand vir ons uit die Bybel gelees het. Ons het haar van Paulus vertel en toe lees sy vir ons ʼn brief wat Paulus vir Timoteus geskryf het. Mamma sê Paulus was ʼn sendeling.”

“ʼn Wat?” vra Fletcher so deur sy trane.

“ʼn Sendeling. Sendelinge vertel vir mense wat nog nooit van Jesus gehoor het nie die goeie nuus dat Jesus vir ons sonde gesterf het,” verduidelik Christiaan.

“Hoe kan ek ʼn sendeling vir Jesus wees?” vra Lallie.

fletcher-storie-3-fletcher-is-bang.jpg“Ons het by ons kerk ʼn maklike manier geleer om vir mense van Jesus te vertel. Jy wys vir hulle kleure sodat hulle maklik kan onthou wat jy vertel. Eers was ons swart en vol sonde. Toe sterf Jesus vir ons aan die kruis en was ons sonde met sy bloed weg. Bloed is mos rooi. As ons vir Hom sê ons is jammer dat ons sonde gedoen het en Hom as ons Verlosser en Koning aanvaar, word ons wit soos sneeu. En as ons dan elke dag Bybel lees en bid en vir ander van Hom vertel, groei ons nader aan Hom net soos groen plante groei,” antwoord Christiaan.

Fletcher vergeet skoon dat hy nog bang is en gesels saam. “Ja, ons het mos net gister ook daaroor gepraat.”

“Ja,” antwoord Lallie, “my pappa en mamma is baie bly dat ek my hart vir Jesus gegee het en dat sy Gees nou in my bly.”

“Ek is saam met hulle bly, my Lallie. Wat het Paulus vir Timoteus geskryf?” vra Fletcher.

“O ja, nou onthou ek wat ek vir jou wou sê. Paulus het vir Timoteus geskryf die Gees wat God vir ons gegee het, maak ons nie vreesagtig nie. Vreesagtig beteken om bang te wees of te stres, soos my pa altyd sê. Dit staan in 2 Timoteus 1 vers 7,” sê Christiaan. Hy is baie trots dat hy onthou wat hy gisteraand in die Bybel gelees het.

“Dit is baie mooi Christiaan,” sê Fletcher en swaai sy stert.

“So ons hoef nie bang te wees nie?” vra Lallie onseker.

“Jy is reg, my liewe Lallie. Dis nie nodig om bang te wees nie. Maar weet jy, as jy bang is, sê dit net vir Jesus en Hy sal jou help. Dankie dat julle my van Paulus se brief vertel het. Ek is nie meer bang omdat julle weggaan nie. Ek sal elke dag lekker met William en die ander diere op die plaas speel. Ek kan met Dawie duif, Sysie sywurm, Mietsie muis, Uli uil en Dirkie Dassie speel. Maar wag, ek gaan julle in my volgende boek meer van hulle en my ander vriende vertel,” sê Fletcher opgewonde en runnik.

“Nou ja, kom ons gaan pak ons tasse. Ek sal nie my Bybel vergeet nie, Fletcher,” sê Christiaan.

“Ons is baie lief vir jou Fletcher, en ons sal elke dag by die see aan jou dink,” sê Lallie en Christiaan en hulle gee vir Fletcher ʼn stywe drukkie om sy nek.

“Tatta, my twee maats. Julle moet dit geniet. En onthou om vir my skulpe op te tel,” groet Fletcher.

Ja maats, julle hoef nie bang te wees nie, want God is by ons en in ons. Hy stuur ook sy vriendelike, sterk engele om ons te beskerm. So onthou, as jy bang is, sê dit vir God en Hy sal jou help.

Kom ons bid saam

Pappa God, U is almagtig en ons is baie lief vir U. Beskerm en help ons asseblief as ons alleen is en Pappa en Mamma nie by ons is nie. Amen.

Bybelvers om te onthou

2 Timoteus 1:7  “Want God het ons nie ʼn gees van vreesagtigheid gegee nie …”

Aksie

Maak jou eie woordlose boekie met die kleure wat jy gaan gebruik om vir mense van Jesus te vertel. Maak vier vierkante en kleur dit met die volgende kleure in:

  • Swart vir sonde
  • Rooi vir Jesus se bloed wat ons sonde weg was
  • Wit om te wys jy is nou skoon gewas
  • Groen omdat jy groei as jy elke dag Bybel lees en bid

Plak die bladsye aan mekaar vas met gom of laat iemand jou help om dit vas te kram.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.