Luister: Wie is ek, Fletcher?

Hallo maats, dis so lekker om weer saam met julle te kuier. Ek wonder waaroor ek en my twee vriende Christiaan en Lallie vandag gaan gesels.

“Goeiemôre, Fletcher. Het jy lekker geslaap?” vra Lallie opgeruimd in haar rooi rok met geel kolletjies.

“Ja dankie, Lallie. Ek voel sommer vars en uitgerus vanmôre. Die geel son is al op en sy strale streel so lekker oor my. Julle twee het gister vir my so mooi verduidelik ek moet tevrede wees met myself dat ek opgewonde is oor die nuwe dag en alles wat gaan gebeur,” antwoord Fletcher.

“Dit is vir my ook lekker om te weet alles wat God gemaak het, is baie goed,” sê Christiaan.

“Kan ek vir jou ʼn snaakse vraag vra, Fletcher?” vra Lallie.

Fletcher antwoord: “Ja, my liefste Lallie. Wat wil jy vir my vra?”

“Sal jy nie vir my lag nie?” wil Lallie weer weet.

“Nee, ek gee baie om vir jou. Ek sal nie lelik wees met jou nie!” sê Fletcher ernstig.

“Nou goed dan. Ek wil weet: Wie is ek?” vra Lallie.

Christiaan frons en sê: “Hoe bedoel jy nou? Jy is mos ʼn mens.”

Fletcher verstaan wat Lallie bedoel en verduidelik vir haar: “Lallie, Christiaan is reg. Jy is jou pappa en mamma se kind hier op aarde. Maar weet jy wat?”

“Nee, wat?” vra Lallie en hou haar oë op Fletcher.

“Adam en Eva was die eerste man en vrou wat God gemaak het. Hulle het in die mooiste Paradys gebly. Ongelukkig was hulle ongehoorsaam aan God en het nie vir Hom geluister nie. Hulle het mos vrugte van die boom geëet waarvan God gesê het hulle nie mag eet nie,” verduidelik Fletcher.

“Ek onthou,” sê Christiaan. “Die slang het vir hulle gejok en toe glo hulle hom.”

 fletcher-storie-2-adam-en-eva.jpg“Dis reg. En as ʼn mens nie doen wat God sê nie, doen jy sonde. Van toe af is die mens en God nie meer naby mekaar nie,” sê Fletcher.

“Aggenee, beteken dit ek is ook nou ver weg van God af?” vra Lallie bekommerd.

“Vader God het vir Jesus na die aarde toe gestuur om vir ons sonde te sterf sodat ons weer naby God kan wees. Jesus het uit die dood opgestaan en in ʼn wolk opgevaar hemel toe. Jesus bid nou vir ons in die hemel. Wil jy ook graag eendag by Jesus in die hemel bly?” vra Fletcher.

“Ja!” roep Lallie uit.

“Al wat jy moet doen, is om vir Jesus te sê jy het sonde gedoen en dan moet jy Hom vra om jou te vergewe. Weet julle twee wie Paulus in die Bybel is?” vra Fletcher.

“Hmm,” Christiaan krap sy koppie. “Nee, vertel ons wie hy was.”

Paulus se naam was eers Saulus. Toe sy naam nog Saulus was, het hy onskuldige mense in die tronk gegooi,” verduidelik Fletcher.

“In die tronk gegooi?” vra Lallie ontsteld. “Nou hoekom doen hy so ʼn lelike ding?”

“Paulus verduidelik dit in die boek Handelinge in die Bybel. Hy het nie geglo in Jesus nie, daarom het hy almal wat in Jesus geglo het in die tronk gegooi. Maar eendag het ʼn helder lig, helderder as die son, op hom geskyn. Toe het Jesus vir Saulus gevra hoekom hy Hom vervolg. Jesus sê toe vir hom sy naam gaan nou Paulus wees. Jesus het ook vir Paulus gesê hy moet in Jesus glo en dan sal Jesus sy sondes vergewe,” sê Fletcher.

“Sjoe, dis wonderlik as Jesus met ʼn mens kan praat, né Lallie?” vra Christiaan.

“Julle kan ook met Jesus praat en Hom vra om in julle harte te bly. Dan stuur Hy sy Heilige Gees om in julle te bly,” sê Fletcher.

“Die Heilige Gees?” frons Lallie.

“Ja,” sê Christiaan. “Jesus stuur sy Heilige Gees om in mense te kom bly, want Jesus is nou in die hemel. Hy is besig om vir al sy gehoorsame kinders ʼn woning voor te berei en vir hulle te bid. Jesus kan nie meer by ons op aarde wees nie, daarom bly sy Heilige Gees nou in ons. Die Heilige Gees troos ons as ons hartseer is. Hy help ons as ons sukkel en sê vir ons wat om elke dag te dink en te sê en te doen. Die Heilige Gees is ons Helper. Toe Johannes die Doper Jesus gedoop het, het die Gees soos ʼn duif op Hom neergedaal. Ek het al vir Jesus gevra om my sonde te vergewe en in my hart te kom bly. Sjoe! Dit is so wonderlik om te dink dat my God lewe en hier binne-in my is.”

“Wat beteken sonde?” wil Lallie weet.

Fletcher antwoord: “Sonde is alles waarvan God nie hou nie. Dit is byvoorbeeld as ʼn mens kwaad word en jou maats klap of ander kinders boelie. Dis ook sonde as jy lelik praat van jou maats of vloek of lelike grappies vertel. En as jy iemand anders se goed steel of nie vir jou mamma en pappa en juffrou luister nie. Daar is nog baie ander verkeerde goed ook”.

“Fletcher, kan ek ook asseblief vir Jesus vra om in hart te kom bly?” vra Lallie.

“Natuurlik kan jy, Lallie. Christiaan, bid asseblief saam met jou sussie,” sê Fletcher.

Christiaan vat Lallie se handjie en sê: “Kom Lallie, bid agter my aan: Jesus, ek doen elke dag sonde en daarom is ek ʼn sondaar. Vergewe asseblief al my sonde en kom woon in my hart. Ek wil hê U moet my Koning wees. Maak my vol met u Heilige Gees. Dankie, Jesus. Amen.”

“Nou weet ek wie ek is!” roep Lallie opgewonde uit. “Ek is God se kind!”

“Dis reg, Lallie. Jy moet nou dadelik vir jou pappa en mamma en maats gaan vertel. Totsiens. julle twee. Ek sien julle weer later,” groet Fletcher.

Christiaan en Lallie gee vir Fletcher ʼn stywe drukkie en hardloop huis toe.

Ja maats, dit was nou so lekker om saam met Christiaan en Lallie oor Jesus te gesels. Onthou, julle is God se kinders en Hy het julle elkeen spesiaal gemaak.

Kom ons bid saam

Dankie Jesus, dat U vir my sondes gesterf het en dat U weer terugkom. Amen.

Bybelvers om te onthou

“En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! …”  (Galasiërs 4:6)

Aksie

Teken ʼn hartjie en skryf jou naam en Jesus se naam daarin.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.