Luister: Fletcher leer oor respek

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Goeiedag, maats. Christiaan en Lallie is nou al vir sewe dae by die see. Maar hulle kom vandag terug! Ek het so baie na hulle verlang. Maar weet julle wat? Ek was nie eens een keer bang of alleen gewees nie.

“Wha!” skree Christiaan en Lallie. Hulle het vir Fletcher bekruip en hom verras.

“Sjoe, nou het ek so groot geskrik,” lag Fletcher. “Dis so lekker om julle twee weer te sien.”

“Kyk hier, Fletcher,” sê Lallie en haal iets uit ʼn sak. “Hier is vir jou die mooiste skulpe wat ons op die strand opgetel het.”

“Oe, maar dis pragtig. Baie dankie vir my mooi present. Het julle die vakansie geniet?” wil Fletcher weet.

“Ja, dit was verskriklik lekker. Ons het in die blou see geswem en sandkastele gebou. En ons het pienk roomys geëet en vir die rooi krappe op die sand weggehardloop,” sê Christiaan.

“Vir die krappe? Was julle nie eens bang nie?” vra Fletcher.

“Nee,” sê Lallie trots. “Ons was te vinnig vir hulle gewees.”

“Wat het julle die vakansie geleer?” vra Fletcher.

fletcher-storie-4.jpgChristiaan antwoord: “Ons het geleer van respek. ʼn Ander woord vir respek is om te eer. Wil jy ook leer wat dit beteken, Fletcher?”

“O ja, ek hou daarvan om nuwe woorde en dinge te leer,” antwoord Fletcher.

“My pappa en mamma sê respek beteken om nie lelik te wees met hulle en ander mense nie. Ons moet ook vir ons ouers luister as hulle met ons praat en doen wat hulle sê. God het hulle vir ons gegee. Hulle is ouer as ons en daarom weet hulle beter as ons,” sê Christiaan.

“Ja, Fletcher. Pappa sê ons moet ook vir ander grootmense en kinders en diere respek hê. Ons mag nie lelik wees met maats nie en ons mag nie diere skop of hulle ore trek nie,” sê Lallie.

“Ek onthou nou iets wat in die Bybel staan. Onthou julle wat die Tien Gebooie is?” vra Fletcher.

“Ja, Moses het twee plat klippe gekap en toe skryf God tien reëls daarop. Alles wat ons mag doen en nie mag doen nie. God is die heel slimste en daarom weet Hy die beste,” sê Christiaan.

“Dis reg. Daardie reëls noem ons die gebooie. Nou weet julle wat? In die vyfde gebod staan daar kinders hulle moet vaders en moeders eer. Dit beteken hulle moet respek hê vir hulle ouers,” sê Fletcher.

“Haai, ek het nie geweet dit staan in die Bybel nie. So Pappa en Mamma het die waarheid gepraat,” sê Christiaan.

“Ek onthou nou ons het by die skool van Rut geleer. Sy was getroud met Naomi se seun. Rut was baie lief vir Naomi en sy het gedoen wat Naomi vir haar gesê het. Beteken dit dan ook respek?” wil Lallie weet.

“Ja, dis nou ʼn mooi voorbeeld van respek in die Bybel. Rut het so baie respek vir Naomi gehad dat sy saam met haar na ʼn vreemde land toe gegaan het. Sy het ook Naomi se God as haar God aangeneem,” sê Fletcher.

“Wie was Naomi se God?” vra Lallie.

“Dit is dieselfde God wat ons aanbid. Die enigste ware, lewende God wat alles gemaak het. Ons moet vir God ook respek hê en daarom luister ons wat Hy vir ons in die Bybel sê. God weet die beste en daarom luister ons vir Hom,” antwoord Christiaan.

“Ek stem saam. My kop is nog te klein om alles te weet, daarom wil ek liewer gehoorsaam wees aan God en na my pappa en mamma luister,” sê Lallie.

“Nou het ek ʼn goeie plan,” sê Fletcher.

“Wat, wat?” roep Christiaan en Lallie gelyk uit.

“Ek dink julle moet vir julle pappa en mamma ʼn baie mooi prentjie gaan teken om vir hulle te wys hoe lief julle vir hulle is,” sê Fletcher.

“Dis ʼn goeie plan, Fletcher,” sê Christiaan.

“Ek gaan sommer nou dadelik papier en potlode haal en die mooiste prentjie vir hulle teken. Dankie Fletcher, jy is my beste dierevriend,” sê Christiaan.

“Wag vir my Christiaan, ek wil ook ‘n prentjie gaan teken. Dankie, Fletcher. Ons sal ons prentjies vir jou kom wys,” groet Lallie.

Ja maats, kinders moet respek hê vir hulle ouers, want God hou daarvan. Julle moet ook nooit lelik wees met julle boeties, sussies en ander maats nie. Onthou ook om julle diere kos te gee en vir hulle lief te wees.

Kom ons bid saam

Dankie Here, dat ons vandag van respek geleer het. Help ons om vir ons pappas en mammas te luister en lief te wees vir alle mense. Amen.

Bybelvers om te onthou

1 Petrus 2:17   “Julle moet almal eer …”.

Aksie

Teken nou vir jou mamma of pappa of iemand anders vir wie jy lief is ook so ʼn mooi prentjie soos wat Christiaan en Lallie gaan teken het om te wys hoe lief jy vir hulle is.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.