Luister: Sysie Sywurm gaan dieretuin toe

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar klein, donker eiertjies in ʼn skoenboks in Christiaan se kamer. Daar was sywurmpies in die eiers. Toe die eerste babasywurm uit sy eiertjie klim, sê hy: “Oe, maar die lig is skerp! Dit was so lekker warm en donker in my eiertjie. Nou sien ek vreemde wesens om my en ek is vreeslik honger. Hmm, hier is ietsie groens. Moerbeiblare! Dit lyk vir my baie lekker.”

Na ʼn paar weke kon ek die sywurmpie se swart en wit strepe op sy rug sien. Sysie Sywurm se strepe het soos ʼn Zebra se strepe gelyk en hy het sommer diep in my hart gekruip. Christiaan het elke dag vir hom nuwe blare in die boks gesit. Na ʼn paar dae het Sysie saam met Christiaan dieretuin toe gegaan. Dit klink mos na ʼn avontuur! Kom ek vertel julle wat daardie dag gebeur het.

Christiaan het vir Sysie in ʼn klein boksie met vars moerbeiblare gesit. “Kom, kom kinders,” roep sy ma. “Ons is reg om dieretuin toe te ry.”

By die dieretuin aangekom, sien Sysie verskriklik baie mense en kinders. Hy het ook nog nooit so baie diere bymekaar gesien nie. Die eerste wat Sysie sien, is pragtige, groot, pienk voëls. Party staan op een been. Dit lyk baie snaaks. Christiaan se pa sê dit is flaminke.

Die ape is baie snaaks. Hulle maak allerhande snaakse bewegings en speel te lekker. Toe Sysie regs kyk, sien hy baie groot diere. Hy kan nie glo dat daar sulke groot diere op die planeet aarde is nie. Die een het ʼn stert agter en ʼn slurp voor en sulke groot ore. “Kyk die groot olifant!” roep Lallie uit.

Sysie sien ʼn pragtige, enorme wit ysbeer. Hy lyk so snoesig, maar hy kan baie gevaarlik wees met sy skerp tande en groot pote. In die vistenk swem kleurvolle visse rond. Daar voor sien Sysie ʼn groot voëlhok. Die voëls het die allermooiste kleure en sing pragtig. Party maak snaakse geluide. Sysie leun vooroor om beter te kan sien, maar o wee … Kaboem! val hy binne-in die voëlhok. Die voëls gluur hom aan. Maats, julle weet mos voëls eet wurms. O aardetjie, nou is Sysie in die moeilikheid!

Fletcher(3)_Cecile VerskafChristiaan roep om hulp. Sy pa hardloop om iemand te gaan soek wat by die dieretuin werk. Een van die tannies in die skare gryp ʼn stok en druk dit deur ʼn gaatjie van die hok se draad, maar die stok is net-net te kort en Sysie kan nie bykom nie.

Skielik is daar ʼn geklingel van sleutels. Jippie! Daar sluit ʼn jong man met kakieklere die hek oop. Dis een van die natuurbewaarders wat in die dieretuin werk. Hy tel vir Sysie op en sit hom terug in Christiaan se boksie. Sysie en Christiaan se hartjies klop in hulle kele. Hierdie dag sal hulle nooit vergeet nie. By die huis sit Christiaan vir Sysie terug in sy skoenboks. Nou gaan Sysie homself in ʼn kokon toespin en heerlik rus.

Maats, Sysie se storie laat my baie aan Jesus se verlossing dink. Kom ek verduidelik dit vir julle. Sysie was daar in die voëlhok soos die verlore mensdom. Mense is vasgevang in sonde en die vyand, Satan, wil hulle verslind. Christiaan se pa en die tannie wat vir Sysie probeer help het, laat my dink aan die gelowiges wat in Jesus Christus glo. Hulle bid vir mense wat nie vir Jesus ken nie en probeer hulle help. Die man met die kakieklere wat die sleutels vir die hok gehad het, laat my dink aan Jesus. Hy is die enigste een wat mense kan red. Hy het die sleutels om vir ons oop te sluit. Sjoe, Sysie se storie verduidelik dit so mooi.

Kom ons bid saam

Here, baie dankie dat U vir alle mense se sonde gesterf het en dat U verlore mense red. Amen.

Bybelvers om te onthou

Handelinge 16:31: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin”.

Aksie

Bid vir ʼn maatjie wat nie in Jesus glo nie.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.