Luister: Mietsie Muis en Robbie Robot

fletcher-cecile-foto-verskaf.jpegFletcher is geskryf deur Cecile Schultz en word voorgelees deur Elana Barker in samewerking met Maroela Media en Solidariteit Helpende Hand se Tassie-projek.

Eendag lank, lank gelede was daar ʼn helderblou, blink robot. Dit was Christiaan se robotmannetjie waarmee hy gespeel het. Dié robot se naam was Robbie. As Robbie aangeskakel word, doen hy verskillende bewegings. Hy kan vorentoe loop en links en regs draai. Hy kan ook dans en ʼn plastiekbakkie optel.

In dieselfde huis het daar ook ʼn oulike, liggrys muis gebly. Haar naam was Mietsie. Mietsie en Robbie was groot maats. Kom ek vertel julle wat eendag met hulle gebeur het.

“Dis ʼn wonderlike dag,” sing Mietsie muis toe sy die oggend wakker word. Sy strek haar uit en gee ʼn lang gaap. “Ek wonder wat alles vandag gaan gebeur. Elke dag is ʼn avontuur. Daar is nooit ʼn vervelige oomblik nie. Veral nie vandat Robbie hier aangekom het nie. Hy word wakker as ek sy knoppie druk, dan kan ons lekker speel. Hy is nogal baie snaaks.”

Mietsie se magie grom, want sy is baie honger. Ek moet iets gaan soek om te eet, dink sy. Sy moet versigtig om haar kyk voordat sy by haar huisie uitgaan. Daar woon ʼn kat in die huis. Sy naam is Koert. Hy het sulke lang, swart hare en groen oë. Sy skerp, wit tande glinster altyd in die daglig. Mietsie kry sommer sulke rillings langs haar ruggie af as sy aan Koert dink.

Koert hou nie baie van haar nie. Hy jaag haar altyd as hy haar sien, want hy dink mos sy is kos! Mietsie moet altyd op haar hoede wees. Gelukkig hou Koert baie van slaap, maar as hy wakker is … Ai, ai, ai … Hy is baie rats en gevaarlik.

fletcher-muis-pixabay-1.jpg

Mietsie, die liggrys muis. (Foto: pixabay.com)

Mietsie steek haar kop by haar huisie uit. Sy kyk eers links, dan regs, en dan weer links. Dit lyk veilig. Sy kan dit maar waag om uit te gaan. Daar is ʼn rooi bakkie met spierwit melk in. Dit lyk nou lekker. Mietsie begin drink so slurp-slurp. Heerlik!

Sy sien vir Robbie onder die tafel en druk sy knoppie. “Goeiemôre, Robbie,” groet sy vriendelik. “Ek wonder wat ons vandag alles kan doen.” Aha, daar lê ʼn bol oranje wol. Sy rol dit vir Robbie en hy skop die bol wol soos ʼn bal met sy regtervoet. “Te mooi!” skater Mietsie van die lag en sy rol weer die bol wol.

Skielik gewaar Mietsie ʼn beweging met haar linkeroog. O toggie, dit kan net Koert wees. Wat nou? Sy staan oop en bloot in die middel van die kombuisvloer. Sy kan nie nou na haar huisie toe hardloop nie, want hy gaan haar vang. Sy kan ook nie hier bly staan nie, want sy is ʼn oop teiken vir Koert. Waar kan sy wegkruip?

Mietsie hoor hoe Robbie vorentoe loop om die bol wol te skop. Koert hou glad nie van Robbie nie en hy begin agteruit beweeg. Robbie bly vorentoe loop en Mietsie besluit om agter Robbie in te spring. Sjoe, maar dis ʼn slim plan om agter Robbie weg te kruip. Koert is skoonveld. Hy het hom boeglam geskrik vir Robbie wat so doelgerig op hom afstap.

fletcher-robot.jpg

Robbie Robot, Mietsie Muis se beste maat. (foto: Jhonatan_Perez/pixabay.com

“Jippie!” skreeu Mietsie opgewonde. “Robbie, jy is my held. Kyk nou net hoe het jy my gehelp. Jy het my beskerm. Ek gee jou sommer ʼn groot, vet drukkie. Kom ons gaan speel weer en kyk watse avonture lê nog vir ons voor.”

Maats, die storie van Mietsie laat my dink aan iets in die Bybel. Koert laat my aan die duiwel dink. Hy is altyd op die uitkyk vir iets om te vang en te verslind. Mietsie laat my dink aan die mens en Robbie laat my weer aan Jesus dink. Koert het vir Robbie weggevlug en so vlug Satan vir Jesus weg. Al wat die mens moet doen, is om agter Jesus weg te kruip. ʼn Ander woord vir wegkruip is skuil. Mietsie se plan het verseker gewerk en so sal dit vir julle ook werk. As jy bang is, sê dit net vir Jesus en kruip by Hom weg. Hy sal jou altyd beskerm!

Kom ons bid saam

Jesus, ek wil altyd by U skuil, want by U is ek veilig. Amen.

Bybelvers om te onthou

Psalm 16:1: “Bewaar my, o God, want by U skuil ek.”

Aksie

Teken ʼn prentjie van ʼn robot. Dit is Robbie se maat. Gee vir hom of haar ook ʼn naam.

Nog Fletcher-stories:

Die Tassie-projek

Die gebrek aan lees-, skryf- en kommunikasievaardighede hou groot nadele vir die kind se lewenslange leerproses en menslike vermoëns in. Duisende behoeftige kinders in Suid-Afrika het nie toegang tot die nodige hulpbronne om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Helpende Hand wil met hul Tassie-veldtog hierdie behoefte aanraak.  Jy kan die kinders in jou gebied ondersteun deur Helpende Hand se webwerf te besoek en die vorm in te vul. Een tassie se waarde is R250. Met die Tassie-veldtog doen Helpende Hand ʼn beroep op lede van die publiek om saam met hulle hande te vat en te verseker dat minstens 4 000 tassies landwyd uitgedeel word.

Outeur:

Cecile Schultz is ʼn professor in menslike hulpbronbestuur aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria. Sy hou daarvan om lewensvaardighede vir haar studente asook vir die gemeenskap aan te bied. Daarom is sy betrokke by die People Upliftment Programme (POPUP) en Solidariteit Helpende Hand se Cappuccino tak. Haar passie is om Vader God, Jesus en die Heilige Gees aan kinders bekend te stel asook om hulle waardetoevoegende lewenslessies te leer. Die boekie wat oor Fletcher handel, is gebore in 2008 toe haar seun, Christiaan, 9 jaar oud was en haar dogter, Cilé-Mari (bynaam Lallie), 6 jaar oud was. Cecile is al 28 jaar met Raymond Schultz getroud en hy gee haar ruimte om haar in God se koninkryk uit te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.