Gedagte vir die dag: Met God aan ons kant

reenboog_veld_stiltetyd_Uganda_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees? (Romeine 8:31)

Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen? (Psalm 118:6)

Die ongelowiges en Satan self sal nooit sukses behaal nie, want God is aan ons kant.

Dit laat my dink aan ’n verkeerskonstabel wat uitstap in die aankomende verkeer, sy hand opsteek en so ’n vragmotor tot stilstand bring. Die bestuurder van die vragmotor rem onmiddellik en stop langs die pad. Dan stap die verkeerskonstabel nader, vra vir die bestuurder se lisensie en gaan alles deeglik na.

Daardie verkeerskonstabel dra ’n uniform wat sê dat die land aan hom gesag toeken. As daardie bestuurder nie stop nie, beteken dit hy erken nie die gesag wat die land aan die konstabel toegeken het nie. Maar as die konstabel die uniform uittrek, het hy nie die gesag om ’n vragmotor te stop nie.

Ek wil vandag vir jou sê: God is aan ons kant, en ons kan onmoontlik verloor. Josua 23:10-11 sê: “Een van julle kan selfs duisend van hulle op loop jaag, want die Here julle God veg aan julle kant. Dit is wat Hy julle beloof het. Konsentreer daarop om die Here julle God lief te hê.”

Trek die uniform van God aan en jy sal altyd die oorwinnaar wees. As jy daardie uniform uittrek, verloor jy alle gesag wat jy in Christus het. Hou jou oë op Jesus en Hy sal elkeen van jou uitdagings namens jou aanpak. Jy het dieselfde gesag as daardie verkeerskonstabel. As Christus aan jou kant is, is jy die oorwinnaar!

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.