Gedagte vir die dag: Ons hemelse hoop

boom-landskap-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. (Hebreërs 11:13)

Waar word jou skat gebêre? Luister na wat Jesus hieroor gesê het: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie; want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Matteus 6:19-21). Dink jy dat dit deel van ons probleem kan wees: die feit dat ons te veel belê in ons lewe hier op aarde en nie genoeg in ons hemelse tuiste nie? Jesus het ook die volgende oor die hemel gesê: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:1-3). Ons spandeer soveel tyd aan bekommernis oor materiële dinge. Moet my nie verkeerd verstaan nie – dit is wel nodig dat ons vir ons families voorsorg moet tref. Die Woord sê dat dit ons plig is. Die vraag is hoeveel het ons nodig? Soveel mense spandeer elke oomblik wat hulle moontlik kan om by te hou by die materialistiese standaarde wat ander stel.

Jy moet jou leefstyl voor God evalueer. Jy weet al teen dié tyd dat ek nie gekant is teen sukses of geld nie, maar geld mag nie ons motivering wees vir ’n suksesvolle lewe nie. Die mense wat in Hebreërs 11 genoem word, het in geloof gesterf, en self nooit die belofte ontvang nie, maar hulle het geglo en hulle was bereid om te sterf vir daardie geloof. Moenie ’n tweedehandse lewe leef nie! Jy is ’n kind van die Koning. Daar wag ’n pragtige woning vir jou. Leef jou lewe in die volheid van hierdie kennis. Om deur geloof te lewe, is die sleutel vir ons hemelse hoop.

My Vader, ek dank U vir u belofte van die hemel. Dankie dat die aarde nie my finale bestemming is nie. Help my om my lewe in die lig van hierdie kennis te leef. Ek is U so dankbaar dat ek ’n hemelse hoop het. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke belofte…ek glo met my hele hart…..want U is nie n mens wat lieg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.