Etlike uitdagings demp sitrusuitvoer

Baie werksgeleenthede in die sitrusbedryf sal in gedrang kom indien die EU se regulasie oor die beheer van valskodlingmot van krag word. (Foto: Vaalbos Trust)

ʼn Moeilike 2022-seisoen het daartoe gelei dat minder sitrus uit Suider-Afrika uitgevoer is as wat aan die begin van die seisoen voorspel is, hoewel dit vér bo die gemiddelde was.

Sitrusboere het vanjaar 164,8 miljoen 15 kg-kartonne vir uitvoer gepak en hoewel dit ʼn toename van 3,2 miljoen kartonne in vergelyking met 2021 is, is dit 5,7 miljoen kartonne minder as wat aan die begin van die seisoen voorspel is.

Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA), sê hierdie syfers dui op die uiters moeilike seisoen wat boere moes trotseer, wat hul opbrengste en die volumes wat hulle kon uitvoer, negatief beïnvloed het. “Hierdie uitdagings bedreig die volhoubaarheid van die bedryf, wat meer as 140 000 werksgeleenthede onderhou en elke jaar R30 miljard se inkomste vir Suid-Afrika inbring.

“Die talle uitdagings wat die bedryf hierdie seisoen in die gesig gestaar het, sluit ʼn styging in boerdery-insetpryse en vervoerkoste in, sowel as astronomiese verskepingsprysverhogings wat die koste om vrugte op die mark te kry vir baie produsente nie-lewensvatbaar gemaak het,” sê hy.

Terselfdertyd het die ongeregverdigde en diskriminerende nuwe valskodlingmot (FCM)-regulasies wat deur die Europese Unie (EU) in die middel van die seisoen goedgekeur is, verdere finansiële druk en risiko’s op produsente geplaas.

Hy sê hierdie uitdagings gaan gepaard met die voortdurende verval van openbare infrastruktuur soos paaie en spoorlyne, asook die ondoeltreffende hawens, wisselvallige elektrisiteitsvoorsiening en ʼn daling in reële uitvoerpryse. Dit beteken dat hul winste, wat reeds knap is, tot op die punt gedruk is waar slegs een uit elke vyf plase hierdie seisoen waarskynlik ʼn wins sal toon.

“Hoewel daar ʼn matige groei in sommige sitrusvariëteite was, wat verpak en uitgevoer is in vergelyking met 2021, was die finale volumes baie laer as wat voorspel is toe die seisoen in Maart vanjaar begin het.

“Dit kan gesien word wanneer na mandaryne gekyk word, waar 31,8 miljoen kartonne vir uitvoer verpak is, wat ʼn toename van 900 000 kartonne teenoor verlede jaar is, maar dit is 2,7 miljoen minder as die seisoen se voorspelling. Volumegroei in suurlemoene het onverpoos voortgegaan, met 34,7 miljoen kartonne wat vanjaar vir uitvoer verpak is; ʼn toename van 3,6 miljoen kartonne vergeleke met die vorige jaar, en 2,4 miljoen kartonne meer as wat voorspel is,” sê Chadwick.

Altesaam 16,7 miljoen kartonne pomelo is uitgevoer, wat 800 000 minder is as die 17,5 miljoen kartonne verlede jaar. Daar was ook ʼn afname in die aantal kartonne valencias, met 53,8 miljoen kartonne teenoor 55 miljoen verlede jaar.

Die enigste ander kategorie wat positiewe groei beleef het, was navel-lemoene, met 27,8 miljoen kartonne wat vanjaar vir uitvoer verpak is, wat ʼn toename van 600 000 kartonne is in vergelyking met verlede jaar. Dit was egter 900 000 kartonne minder as die 28,7 miljoen kartonne wat aan die begin van die seisoen voorspel is.

Hy sê die afname in vrugte wat hierdie seisoen verskeep is, is lynreg teen langtermynverwagtinge, wat daarop dui dat uitvoersitrus met gemiddeld 10 miljoen kartonne per jaar oor die volgende dekade moet toeneem, met 200 miljoen kartonne in die volgende vyf jaar tot 260 miljoen in die volgende tien jaar.

“Indien dit realiseer, kan die bedryf ʼn verdere 100 000 werksgeleenthede skep en ʼn bykomende R20 miljard in jaarlikse inkomste genereer, wat sy totale bydrae op 240 000 poste en R50 miljard se inkomste te staan sal bring.

“Dit is egter slegs moontlik as sleutelmarkte en logistieke infrastruktuur beveilig en geoptimaliseer word om hierdie verhoogde groei te absorbeer.

“CGA bly daartoe verbind om met die regering saam te werk om soveel as moontlik marktoegangsgeleenthede te optimaliseer, te beveilig en te behou om te verseker dat boere in staat is om hul vrugte teen goeie winste uit te voer. Sleutelmarkte wat groot potensiaal bied en veral aandag voor die 2023-seisoen vereis, is die Verenigde State, Indië, China, Japan, Viëtnam en die Filippyne,” sê hy.

Verskepingskoste het oor die afgelope twee jaar met meer as 150% toegeneem, wat die CGA genoop het om ʼn projek saam met ander vrugtesektore van stapel te stuur, wat opsies ondersoek om strukturele verandering in die skeepvaartomgewing teweeg te bring, ten einde vragtariewe te beheer en dienslewering te verbeter. Gelukkig is daar tekens dat die beweging van vraghouers wêreldwyd normaliseer, wat ʼn mate van verligting in verskepingstariewe in 2023 kan bewerkstellig.”

Die CGA sê hy bly by sy standpunt dat die EU se nuwe FCM-regulasies, wat verpligte kouebehandeling van Suid-Afrikaanse lemoene vereis wat die streek binnekom, ʼn groot bedreiging vir die volhoubaarheid van die bedryf inhou.

“Hierdie regulasies is ook heeltemal onnodig in die lig van die wêreldgehalte en hoogs doeltreffende FCM-risikobestuurstelsels wat reeds in Suid-Afrika ingestel is,” sê Chadwick. “Die CGA ondersteun dus die departement van handel, nywerheid en mededinging asook die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die huidige dispuut wat by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) aanhangig gemaak is en hoop dat die proses tot ʼn uitkoms sal lei wat vir albei partye aanvaarbaar sal wees.”

Hoewel daar ʼn paar korttermynverbeterings by die land se hawens te siene is weens ʼn ingryping by Transnet, is die CGA van mening dat die verwagte toename in vrugte wat oor die volgende paar jaar verskeep gaan word, ʼn groot druk op die hawens teweeg sal bring indien infrastruktuur nie verbeter word en operasionele kwessies hanteer word nie.

Die CGA het aangedui dat hy Transnet en ander belanghebbendes sal bystaan om oplossings vir die hawens se probleme te vind. “Die openbare-private‑vennootskappe wat in Durban- en Ngqura-hawens gesluit is en steeds op koers bly, is ʼn uiters positiewe teken en dit is van kritieke belang dat soortgelyke vennootskappe vir die Kaapstad-hawe ondersoek word.

“Ten spyte van die uitdagings wat hierdie seisoen ervaar is, hoop die CGA om met die regering en ander waardekettingvennote saam te werk om te verseker dat die sektor oor kort en lang termyn die nommer een Suid-Afrikaanse landbou-uitvoerder en top-landbouwerkgewer sal bly,” voeg Chadwick by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

In die Oos-Kaap het dit blykbaar droewig met die sitrusboere gegaan. Daar was eers die gewelddadige betogings in die Sondagsvallei. Daarna het die res van die ellendes toegeslaan: Rusland as mark is taboe; Verskepingskostes klim deur die dak; Transnet se onbekwaamheid by die hawens; Markte waar inflasie en stygende lewenskostes aanvraag laat daal; Eskom se treurmares; brandstofpryse wat net styg; blykbaar was die vorige seisoen ook maar rampspoedig. Hoe sterk is hierdie kameel se rug nog?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.