Organisasies ruk op teen landbou-transformasie

bennie-van-zyl-tlu-sa

Bennie van Zyl van TLU SA. Foto: Facebook.

Die twee landbou-organisasies TLU SA en Saai het ʼn afspraak met Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van landbou, vir 5 Junie geskeduleer om die omstrede kwessie van transformasie in die meesterplan vir landbou en landbouverwerking (AAMP) met hom te bespreek. Hulle nooi ander rolspelers in die landbouwaardeketting om ook betrokke te raak.

TLU SA het sedert die aanvang van die ontwikkeling van dié plan duidelik standpunt ingeneem teen die transformasie-aspek wat ʼn baie prominente rol in die plan speel. Intussen het Saai en TLU SA ʼn proses aan die gang gesit om ʼn alternatiewe plan op te stel.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, het tydens Nampo aan Maroela Media gesê dat die huidige ongekwalifiseerde aanvaarding van die begrip transformasie in AAMP hulle dwars in die krop steek en dat hulle eerder wil hê dat landbou reg in die ekonomiese omgewing geposisioneer moet word.

“Die grootste enkele bedreiging teen voedselsekerheid en teen primêre produksie in Suid-Afrika is die druk op winsgewendheid, volhoubaarheid en doeltreffendheid. Transformasie in die regte konteks is ook belangrik, maar nie naastenby so belangrik soos bogenoemde drie agendas nie,” sê hy.

“Dit is wanneer transformasie belangriker as winsgewendheid geword het dat ons op ʼn punt bereik het waar Suid-Afrika se wapenbedryf vandag is, met Denel wat waarskynlik nooit weer gered sal kan word nie.

“Dit is wanneer transformasie belangriker as doeltreffendheid word dat ons eindig waar Eskom vandag is, met lyding, werkverliese en ekonomiese verwoesting wat waarskynlik nie in die volgende dekade gestuit sal kan word nie.”

Hy sê daar word aanvaar dat elke rolspeler in die waardeketting alles in sy en haar vermoë sal doen om met hul bydrae te help dat landbou suksesvol kan wees. “Elke onderneming word deurlopend getoets en geëvalueer deur die markkragte vir sukses al dan nie. Die laaste woord word altyd deur die ekonomie gesê. Ongeag enige mooiklinkende politieke standpunt vanuit watter ideologie ook al, moet dit aan die einde van die dag in enige onderneming die ekonomiese toets slaag.”

Van Zyl voer aan dat dit vir hulle ʼn pynlike proses was om aan die ontwikkeling van die landboumeesterplan deel te neem en ʼn bydrae te maak.

“Tydens die proses met die daarstel van die AAMP was dit TLU SA se versugting wat deurlopend ingedra was dat ons moet seker maak dat die plan op ekonomiese beginsels gebaseer moet word.

“Daar was inderdaad goeie insette wat gehelp het om goeie pilare in die AAMP te verpak. Die probleem het egter ingeskop toe dit alles onderhewig gemaak is aan die begrip ‘transformasie’. TLU SA het meer as ʼn jaar voor die afhandeling van die proses ʼn dokument van tien bladsye ingedien met die versoek dat ons die begrip transformasie moet definieer sodat daar nie enige onduidelik sal wees oor die toepassing daarvan nie. Die dokument van TLU SA is ten spyte van herhaaldelike versoeke nooit hanteer nie en is doodgewoon geïgnoreer.”

Hy sê tydens verlede jaar se landboubegrotingsdebat is daar gereël vir ʼn aftekengeleentheid van die dokument wat die oggend plaasgevind het. TLU SA was nie daarheen genooi nie en was nie bewus dat dit sou plaasvind nie.

“Volgens TLU SA was die proses nog nie afgehandel nie en daar is agter ons rug voortgegaan om die dokument beslag te gee en wil dit blyk dat TLU SA die enigste deelnemende struktuur was wat nie bereid was om landbou in die politieke en ideologiese omgewing in te sleep nie en derhalwe gemarginaliseer is. TLU SA het sy ernstige misnoeë te kenne gegee en daar is genoem dat ons die saak verder met Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal (DG) van landbou, moet hanteer.”

Hy sê nie Saai of TLU SA kan aan hulle lede verduidelik dat hulle op ʼn strategiese plan kan afteken wat landbou op dieselfde trajek as Eskom, Denel, SAL, Onderstepoort of openbare gesondheidsorg wil plaas nie.

“Elke boer en organisasie betrokke in die landbou-omgewing moet hulself die vraag afvra of hulle aandadig wil wees dat landbou ook soos al die ander instellings getransformeer moet word. Dit was regdeur die proses TLU SA se versugting om seker te maak dat ons landbou in die nuwe ekonomiese omgewing moet laat funksioneer.

“Daar moet in die proses ook seker gemaak word dat die regte kriteria toegepas word om nuwe toetreders in landbou ʼn billike geleentheid te gee om wel sukses te bereik, anders as wat die departement van grondsake ʼn jaar of wat gelede erken het dat daar met hulle grondoordragprogramme meer as 90% uit produksie gegaan het. Suid-Afrika benodig suksesvolle boere wat altyd deur die markkragte geëvalueer sal word,” sê Van Zyl.

Saai, wat nie deel van die proses was om die AAMP daar te stel nie, het TLU SA gekontak en ook sy ongemak uitgespreek oor verskeie aspekte oor die uitkoms van die AAMP.

Kwessies wat Saai oor die inhoud van die plan pla, is:

  • Dat die transformasie-agenda alle ander agendas troef;
  • Dit is nie ʼn boergesentreerde plan nie, maar eerder op landbouondernemings gefokus;
  • Die voorbereidingsproses en deelname aan die opstel van die plan was nie inklusief nie. Saai is pertinent uitgesluit. Vakbonde is betrek en daar word in die plan aan hulle erkenning gegee, maar geen werkgewersorganisasie is toegelaat nie.

Van Zyl sê hulle het intussen met verskeie rolspelers gekommunikeer oor die probleme wat voorsien word en daar is verskeie ander organisasies wat hulself reeds by die groepering gevoeg het “wat wil seker maak dat ons nie ook in landbou die onbetaalbare duur prys van transformasie sal moet betaal nie.

“Landbou, as seker die belangrikste stabiliseerder in die land, kan nie toelaat dat die rol wat ons speel vernietig word nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

Die inisiatief sal in dag des lewens nie werk nie. Om die regime se plan te laat slaag vereis dit die “wonderwoord” nl werk. Dit kos werk om iets te laat slaag en suksesvol te laat verloop. Werk is ‘n woord wat gebruik word om onmiddelike moegheid en tamheid te “bewerkstellig”.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die DG is ‘n staatsamptenaar. Hy word deur sy minister aangestel. Hulle is almal deel van ‘n regime wat misluk het. Werk aan nuwe planne. Innoverend. Dink uit die boks. Kom manne, rol daai moue op en sit dinkkeppie op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.