Tweede buitelandse toekenning vir SA boer

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en leierboer, doen baanbrekerswerk vir landbou, regoor die wêreld. (Foto: verskaf)

Die Pan African Farmers Organisation (Pafo) het dr. Theo de Jager, president van die Wêreldlandbou-organisasie en direksievoorsitter van Saai, vereer met ʼn toekenning vir sy rol in die versterking van Pafo.

Hy is ook vereer vir die werk wat hy gedoen het in die uitbreiding van landbou-organisasies in Afrika en die bevordering van die belange van boere in voorspraak en veldtogte.

Volgens Pafo is hy die enigste boereplatform ter wêreld wat op ʼn kontinentale skaal verteenwoordiging bied. Die organisasie gee ʼn stem aan meer as 80 miljoen familieboere in Afrika en is in meer as 70 nasionale organisasies, vakbonde, federasies, koöperasies en verenigings geïntegreer.

De Jager was van 2014 tot 2017 Pafo se president en het hom in Addis Abeba, in Ethiopië, verbind om met die Afrika-unie se beleidmakers in gesprek te tree oor sake soos verblyfsekerheid, eiendomsreg, infrastruktuur, handel en die kommersialisering, modernisering en meganisasie van kleinskaalboerdery in Afrika.

Hy was die eerste Suid-Afrikaanse boer wat tot president van Pafo verkies is en is deur die Southern African Confederation of Agricultural Unions (SACAU) benoem, waarvan hy van 2012 tot 2017 president was. Gedurende sy presidentskap het hy ook ’n kontinentale veldtog van stapel gestuur oor die bevordering, beskerming en bewaring van inheemse veerasse in Afrika.

Sy getroue ondersteuning van nasionale landbou-organisasies in Afrika het aan hom die basis gebied om in 2017 in Helsinki, Finland, as die president van die Wêreldlandbou-organisasie verkies te word nadat hy deur die Kommersiële boere-unie (CFU) van Zimbabwe benoem is.

Maroela Media het berig dat De Jager verlede maand deur die CFU met ʼn “landbou-Oscar” vereer is vir sy bydrae tot landbou in dié land. Hy het hierdie prestige-toekenning ontvang ter erkenning vir sy rol om die lot van Zimbabwiese boere in die internasionale kollig te plaas en om druk toe te pas vir vergoeding vir boere wat sedert 2001 slagoffers was van omstrede grondgrype.

Volgens De Jager is hy baie geëerd om dié twee toekennings te ontvang. “Ek glo dat landbou-organisasies in Afrika ’n leidende rol speel in die vorming van globale beleid oor voedselstelsels om die speelvlak in internasionale handel gelyk te maak, in die stryd teen armoede en hongersnood. Die werklike beloning vir my betrokkenheid in georganiseerde landbou in Afrika en die wêreld is die netwerk van vriende op plase in elke hoek van die wêreld,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JoHines ·

Net jammer dat Landbou nie in Suid Afrika veel erkenning kry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.