Veldbokke geskenk; gereed vir boer

Lede van die AmaBhele kaJamangile-koninklike familie en gemeenskap saam met AfriForum, Saai en LGL Inheemseveldbokskilderstoet is baie opgewonde oor hul gesamentlike projek. (Foto: Verskaf)

Ná groot afwagting het ʼn veeteelprojek in die Oos-Kaap gestalte gekry met die lewering van die eerste inheemse veldbokke vroeër die week.

Maroela Media het vroeër berig dat inkosi (koning) Zwelothando Mabandla, AfriForum en Saai ʼn gesamentlike inheemseveldbok-landbouontwikkelingsprojek in die AmaBhele kaJamangile-koninkryk naby Maclear in die Oos-Kaap amptelik afgeskop het.

Barend Uys, hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, wat reeds ʼn paar soortgelyke projekte op verskillende plekke (hier en hier) bedryf, sê hierdie een is nog ʼn voorbeeld van ʼn netwerk van kultuurgemeenskappe wat geskep word om gemeenskapsfederalisme te versterk.

Met die lewering van die eerste 21 Nguni- inheemse veldbokke op Mncetyane, Mabandla se plaas, kan daar nou ernstig begin word om te boer. Hy sal ook verantwoordelikheid neem vir die dag tot dag boerderybedrywighede.

Gerhard Lourens, van die LGL-inheemseveldbokskilderstoet, het ook praktiese opleiding aangebied vir lede van die gemeenskap en Mabandla en sy span.

Dié gesamentlike projek het ʼn beplande tydsverloop van ses jaar. Die basiskudde bestaan uit ʼn totaal van 41 Nguni- inheemse veldbokke wat oor twee jaar aangekoop word. Die oogmerk met die projek is om ná die ses jaar een winsgewende en volhoubare inheemseveldbokboerdery en drie volgende inheemseveldbok-ontwikkelingsprojekte daar te stel. Die oordrag van kennis oor alle aspekte van ʼn bokboerderyonderneming, ook aan gemeenskapslede, is ʼn noodsaaklike deel van die projekplan wat ook tot voordeel van die breër gemeenskap sal strek.

 

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en iNkosi Zwelothando Mabandla van die AmaBhele kaJamangile-koninkryk bou interkulturele bande met behulp van dié veldbokprojek. (Foto: Verskaf)

 

“Dit was ʼn groot dag vir ons,” sê Mabandla. “Die bokke wat nou hier in die kraal staan is die resultaat van goeie samewerking en harde werk wat oor maande gedoen is. Ek is ook bly dat ons AmaBhele kaJamangile-gemeenskapslede kon baat by die opleiding wat aangebied is. Hierdie is ʼn volgende tree in ons as gemeenskap se reis na selfstandigheid.”

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê dit is vir sy organisasie ʼn voorreg om waarde aan dié familieboere op voetsoolvlak toe te voeg deur opleiding en blootstelling aan stoetboerdery en die kommersiële waarde daarvan deur Saai se betrokkenheid by dié landbou-ontwikkelingsprojek. “Inkosi Mabandla en ander familieboere in sy koninkryk is ervare bokboere. Ons is nie besig om bestaansboere te vestig nie, maar om familieboere te ondersteun om te ontwikkel tot kommersiële boere wat tot welvaartskepping, voedselsekerheid en daarom ekonomiese groei en stabiliteit sal bydra.”

Prinses Bhelekazi Mabandla, hoof van koninklike diplomatieke dienste van die Jamangile kaMabandla-koninklike familie, is net so opgewonde oor die nuwe aankomelinge. “Ons het ʼn visie om die gemeenskap, wat ons as leiers dien, as ʼn outonome, selfvoorsienende gemeenskap te vestig. Ons verstaan dat dit nie iets is wat sonder beplanning en harde werk gebeur nie, en dat dit stap vir stap gebou moet word. Vandag het ons nog ʼn steen gelê in die toekoms wat ons besig is om te bou.”

 

Diê Nguni-inheemseveldbokke is besig om hul nuwe tuiste te verken. (Foto: Verskaf)

 

Uys sê dié projek het ook ten doel om die welstand van gemeenskappe wat sentraal staan te verseker.

“Die geluk en voorspoed van die komende geslagte van die verskillende kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika hang van ons, die huidige geslag, af. Dit is ons geslag se taak om goeie verhoudings en samewerking tussen kultuurgemeenskappe op die grondslag van wedersydse erkenning en respek te bou.

“Interkulturele samewerkingsprojekte wat gemeenskapselfstandigheid bevorder, waarvan dié projek een voorbeeld is, is die praktiese boublokke van ʼn netwerk van kultuurgemeenskappe wat tans gestalte kry. Dié netwerk sal gemeenskapsfederalisme versterk en daardeur ʼn bydra lewer om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir kultuurgemeenskappe aan die suidpunt van Afrika te verseker.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.